Saturday, May 10, 2014

Naby aan God in heiligheid


Wanneer Paulus in sy briewe oor heiligheid skryf, verbind hy dit met die tempel. 'n Mens sien hoe sy Joodse agtergrond hier aan die werk is.

Die tempel, veral in Jerusalem, is die "heiligdom" waar die hart van die godsdienstige lewe te vinde is. Hier word offerandes gebring wanneer iemand gesondig het en daarvoor vergifnis soek, of waar 'n mens van onreinheid gesuiwer word. Hier moet priesters heilig wees. Geen onreine word in die tempel toegelaat nie.

Die vernietiging van die tempel was vir die Joodse volk 'n hartslag. Dit was vir hulle 'n trauma wat hul geestelike lewe vir eeue verdonker het.

Ondenkbaar was dit vir hulle: dat die heilige plek, die woning van God vernietig sou word.

Paulus is deel van die Christelike beweging wat Christus as die nuwe, geestelike heiligdom sien. Toe het die tempel in Jerusalem nog gestaan.

Maar Paulus het geweet: dit is nie soseer die fisieke plek wat heiligdom bepaal nie.

Heiligheid het in die laaste instansie 'n geestelike betekenis en karakter.

In die Pauliniese tradisie, kry 'n mens hierdie geestelike siening in Efesiërs 2 waar Christus se versoeningswerk bespreek word: Christus het 'n nuwe mensheid tot stand gebring. Daar is nie meer vyandskap tussen Jode en nie-Jode nie, soos wat dit vroeër die geval was nie.  Daar is 'n nuwe huisgesin waarvan albei hierdie groepe lid is. Volgens vers 2 is hulle 'n "gebou" wat die apostels en profete as fondament het. Christus is egter die hoeksteen van die gebou.

In Christus word die hele gebou saamgebind en "verrys dit tot 'n heilige tempel vir die Here"  (vers 21).

Paulus vergeestelik dus die tempel-motief.

Hy doen dit uitdruklik in vers 22: "julle word saam opgebou as 'n geestelike huis waarin God woon."

Met hierdie vers word die kern van heiligheid verwoord. Heiligheid is vir Paulus die ruimte waar God te vind is. Dit het nie noodwendig met 'n plek te doen nie. Dit is 'n ruimte waar vyandskappe nie meer bestaan nie, waar mense aan mekaar verbind word. Heiligheid is daar waar Christus se liefdesgebod gestalte kry en sy vrede beleef word (Efesiërs 2:17).

Wie in heiligheid saamgebind is, is "nie meer ver van God nie" en het "vrye toegang tot God" (Efes.2:18-19).

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive