Dikwels lees
'n mens hoe mense die Ou en Nuwe Testament in 'n spanning met mekaar plaas,
asof die Ou Testament deur die Nuwe Testament ongedaan gemaak is.
Op die
eerste oog af lyk dit veral waar van Jesus: in die eerste wonderwerk wat Jesus
doen volgens Markus Evangelie, oortree hy op die Sabbatdag die gebod dat 'n
mens nie mag werk nie. Hy genees die man wat deur 'n demoniese gees beset is.
Hy verwerp skynbaar die belangrike reël dat die sabbat geheilig moet word deur
op daardie dag te rus - 'n reël wat so belangrik is dat dit in die tien gebooie
opgeneem is.
Vele mense
sou vandag saamstem dat Jesus daardeur die sabbatdag "ontheilig."
Maar dit is
nie al nie. Jesus ontwy ook 'n heilig plek waneer hy die man in die sinagoge
genees. Die sinagoge is deur vele as heilig beskou omdat die wet daarin bewaar
is (Chrystostomos).
Deurdat
Jesus dit doen, kontamineer hy ook al die sinagoge-gangers wat op daardie dag
bymekaar is om meer uit die wet onderrig te word. Hulle is getroue gelowiges,
maar word deur Jesus se optrede in hul heilige staat bedreig.
Tog is dit
net die uiterlike voorkoms: Jesus ontwy en ontheilig belangriker waardes van
gelowiges in sy tyd.
Maar daar is
'n belangrike verdere perspektief wat 'n mens moet onthou. Al is Jesus skynbaar
besig om heiligskennis te pleeg, noem die onrein gees wat die man besete het,
hom die "Heilige Een van God" (Mk. 1:24). Die omstanders is ook
verbaas: hulle sien hoe Jesus optree teen onreinheid. Hy werk kragtig, soos
Johannes voorspel het toe hy gesê het dat Jesus veel groter werke sal doen as
hy en mense met die Gees sal doop.
Jesus is dus
nie teen heiligheid nie. Hy is, trouens, die Heilige Een. En hy is boonop deur
God gestuur en afgesonder, want hy is die Heilige Een "van God." Mense herken in hom die werking van God:
hulle sien iets gesaghebbends gebeur. Wat God altyd en oral gedoen het, dit
word nou ook in Jesus gedoen.
Jesus
bevestig dus dat Hy aan God se kant is. Hy wil hierdie wêreld suiwer van
onreinheid. Hy wil die skepping kragtig reinig sodat die God se beeld van
heiligheid kan toon.
Mense is
verbaas. Of eerder: hulle is verward. Hulle idee van heiligheid word hier tot
op die been getoets. Hulle het altyd gedink 'n plek (die sinagoge), 'n tyd (die
Sabbat) en mense (gelowiges) is heilig.
Nou kom leer
Jesus hulle dat 'n mens nie sommige kan afskryf nie: selfs demoniese mense kan
geheilig word. En wat tel is nie of 'n mens in 'n heilige plek bymekaar is nie
of dat 'n mens aan 'n heilige dag vashou nie.
Jesus
verwerp dus nie heiligheid nie. Hy hou, soos mense lank voor hom, aan
heiligheid vas. Maar heiligheid is vir Jesus lank nie meer net uiterlik in
karakter nie. Heiligheid kom tot 'n mens onverwags, verborge wanneer Iemand
uitreik na ander, hulle insluit in die mistieke teenwoordigheid van God en
hulle help reinig van alles wat in die pad van 'n verhouding met God staan.
Jesus, die een wat saam met die onreines - die rowers, tollenaars, straatvroue en verminktes gevier het, was, anders as wat 'n mens dalk kan dink, heiliger as wat 'n mens ooit sou vermoed. Altyd weer wou hy hiertoe mense, vasgevang in 'n kring van verlatenheid, terugbring na die Heilige God.
Jesus was heiliger as wat 'n mens ooit kon dink.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.