Saturday, May 24, 2014

Wat werklik tel: nie eksklusiewe heiligheid nie, maar die verlange na heiligheid

Daar is 'n inherente neiging by mense om eksklusief te dink en op te tree.

Elke kerk, groep of staat stel sekere grense vas waarbinne dit funksioneer en wie daaraan kan behoort.

Sulke grense sluit bepaalde individue in wat by die groep pas en sluit mense uit wat nie by die groep hoort nie.

Die mense wat uitgesluit word, wissel baie - afhangende van die konteks waarin mense leef.

In Bybelse tye het dit ook gebeur.

Daar is in die Bybel grense wat deur die motief van heiligheid gestel word. In die Ou Testament wentel die grense rondom die tempel. Hoe nouer mense aan die tempel verbind is, hoe prominenter is hulle. Die hoëpriester en priesters is bo-aan hierdie lys. Die Leviete, wat hulpdiens in die tempel doen, is ook op 'n besondere vlak. Die gewone Israeliete wat gereeld in die tempel aan die offerkultus mag deelneem, is volgende.

Onderaan die leer van bevoorregting is vroue, slawe en mense wat met nie-Jode ondertrou het. En nog slegter af is die mense wat siektes het: melaatses, blindes en verlamdes. Hulle mag nie in die tempel gekom het nie en is ook uit die samelewing verstoot.

Dit het voortgeduur tot in die tyd van die Nuwe Testament. In die bediening van Jesus was die ongerekendes mense wat oneties leef, soos die tollenaars en sondaars wat heel onder op die leer is (Lukas 15:1-2). Dan volg, soos in die Ou Testament, die mense wat een of ander liggaamlike gebrek het. Dit sluit die melaatses, die verlamdes en die blindes in. Ook vroue wat menstrueer is onrein (Mk. 5:24-34). 'n

'n Volgende groep is mense wat nie die voorskrifte van hulle Joodse tydgenote nakom nie - en dit sluit bv. Jesus, Petrus en Johannes in (Hd. 4:13). Minder onaanvaarbaar is getroues soos die ryk jongman (Mk. 23:50-51). Dan, op die bopunt van heiligheid vind 'n mens die Fariseërs, die skrifgeleerdes en priesters, met - heel bo - die hoëpriesters.

Terwyl die bevoorregtes hoog geag is, is die ongerekendes uitgesluit en verwerp. Hulle was nie heilig genoeg nie. 

Die opvallende is nou dat Jesus hom nie aan hierdie sosiale struktuur gesteur het nie. Sy bediening het grootliks gefokus op hulle wat uitgesluit en eenkant gestoot is. Nie om hulle goed te praat nie of om hulle skotvry te laat nie.

Hy het eerder vir hulle genader met die boodskap van Goddelike genade omdat 'n mens se sosiale status nie deurslaggewend is nie. Wat tel, vir Jesus, is eerder hoe oop 'n mens is vir God se aanbod van liefde. Wat tel, is, vir Jesus, die verlangen om so heilig soos God te kan word. 



No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive