Thursday, May 08, 2014

Om nooit vir heiligheid nee te wil sê nie.


Die Bybel kan nie genoeg aan heiligheid kry nie.

 belangrik is heiligheid in Bybelse tekste dat die derde persoon in die Godheid die Heilige Gees genoem word.

Heiligheid is in die Nuwe Testament ten nouste verbind met God en met Jesus. God is die "Heilige Vader" (Joh.) en Christus is die heilige van God.

Dan is daar veel meer. Naas die Vader en die Seun se noue band met heiligheid, wil die Christendom 'n Gees van heiligheid plaas.

Mens moet dit nie te netjies uitmekaar wil haal nie. Die Heilige Gees is ten nouste aan Christus verbind: Jesus het deur die Gees ontstaan (Matteus 1:18), maar Jesus sal mense met die Heilige Gees doop (Matteus 3:11). Wie Jesus ken, word opgeneem in die bedeling van die Heilige Gees.

In Jesus is die Heilige Gees dus van die eerste oomblikke van sy lewe aan die werk. Van sy geboorte tot met sy opstanding kan die oplettende mens herken dat iets heiligs aan die werk is: Dit is die tyd dat God die wêreld en mensdom van onreinheid suiwer. God is besig om die nuwe heiligdom deur die werk en in die persoon van die Seun - op te rig.

As die nuwe tyd van heiligheid in Jesus deurskemer, breek dit met sy hemelvaart, op Pinksterdag, met die dag van die Heilige Gees se uitstorting ten volle deur.

Uiteindelik, na Jesus se opstanding, word die Heilige Gees ten aanskoue van almal aan mense geskenk. Wie God wil ken, moet die Heilige Gees gehoorsaam. Dit word nou die tyd van die Gees van Jesus (Handelinge 16:7).

Die dissipels moet uitgaan, sê Jesus, na alle wêrelddele en mense doop in die naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees.

So belangrik is die Gees, dat enige teenkanting teen die Gees onverskoonbaar is. Soos Matteus 12:32 lui: "As iemand iets teen die Seun van die mens sê, kan dit hom vergewe word; maar as iemand iets teen die Heilige Gees sê, kan dit hom nie vergewe word nie, nie in hierdie bedeling nie en ook nie in die toekomstige nie.”

Hoe besonders is dit: wanneer 'n mens die tyd van Jesus naas die tyd van die Heilige Gees plaas, is daar nie twyfel nie. God was verborge aan die werk in Jesus: mense kon nog in onkunde vir Hom verwerp. Maar in die tyd van die Gees is daar geen verskoning nie. Wanneer die Gees na iemand kom en nie aanvaar word nie, is dit 'n onvergeefbare oortreding.

Op die manier loop daar 'n boeiende lyn. Die Gees is verborge aan die werk in Jesus. Hier, sê die Gees, is God besig met 'n heilige handeling.

En dan kom die ontknoping: met Jesus se opstanding verander alles. Nou verkondig die Gees in volle krag dat Jesus die nuwe heiligdom is. Niemand kan dit meer betwyfel nie. Almal moet weet dat die opgestane Christus die een is wat God die Here en Messias gemaak het (Handelinge 2:36).

Werk die Gees verborge in die lewe van Christus, is die Gees dan openlik, en veral kragtig aan die werk in die verhoogde Christus. Die Heilige Gees vertel: wie krag wil ontdek, vuur in sy binneste wil voel, 'n hart met 'n branding wil ervaar, hoef net na Christus te kyk en wat in sy kruis en opstanding gebeur het. Heilig is dit wat God gedoen het die oomblik toe die graf geopen is en die dood in al sy onreinheid weggedoen is.

Dit is die geestelike oomblik van die hoogste orde. Wie 'n geestelike pelgrim is, in die donker nag van rondsoek, moet steeds weer bly uitkyk. Want onverwags, in 'n oomblik, terwyl 'n mens soekende nog in gesprek is met Jesus, kom daar die helder, heilige lig. Dit is die oomblik dat 'n mens jou hand uitstrek om die broodjie te neem uit die hand van die pratende, geselsende, uitreikende Jesus in 'n gebaar van verlange en oratiwiteit: iewers is die hart brandende, gee tog meer lig, helder, heilige lig.

En dan, as 'n mens sien Jesus is weg, maak dit nie saak nie. Want die heilige vuur brand nou van binne af uit. En dryf 'n mens terug na die heilige stad om ander te vertel waar egte heiligheid te vind is: in die teenwoordigheid van die Heilige Gees. 






No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive