Sunday, May 18, 2014

Sensitiewe lesers...


In Amerikaanse universiteite word tans debat gevoer oor hoe om gewelddadige, maar beroemde letterkundige werke te doseer.
Moet, berig die NYT vandag, studente deur 'n sneller-opmerking gewaarsku word dat 'n boek soos “The Great Gatsby” tonele bevat wat aaklige vroue-haat op 'n manier beskryf wat 'n mens naar wil maak en wat lesers daarvan kan ontstel? Moet hulle ook gewaarsku word dat die antieke Griekse letterkunde tonele van verkragting en moord bevat wat hulle kan traumatiseer? Selfs die Avonture van Huckleberry Finn kan 'n lewenslange letsel by 'n sensitiewe leser veroorsaak, word gesê. Shakespeare se “The Merchant of Venice” het anti-Semitiese uitsprake en Virginia Woolf se “Mrs. Dalloway” het self-doding as 'n tema.
Dit kan veral gebeur wanneer studente ly aan sekere sindroom-vorme, of as hulle mishandel of misbruik is. 'n Student wat verkrag is, kan deur sulke verhale opnuut getraumatiseer word. Hulle voel bedreig en angstig. Boonop kan dit gebeur in 'n lesinglokaal waar hulle vasgekeer is en nie fisiek kan wegkom van wat voor hulle afspeel nie.
Nie almal is deur hierdie opmerkings beïndruk nie. Sommige van die dosente dink sulke sensitiewe lesers juis deur akademiese werk uitgedaag moet word om dieper te dink en deur hul eie negatiewe ervarings te werk. Die akademie, sê hulle, moenie so 'n swakheid van gees versterk nie. Studente word nie gehelp om te worstel met sake wat hulle ongemaklik laat voel nie, maar eerder om dit te vermy. So sterk voel hulle oor die saak dat hulle redeneer dit tas akademiese vryheid aan. En niks is so negatief vir universiteitswese as 'n bedreiging van leervryheid.
Hoe ingrypend die debat is, blyk uit 'n gesprek aan 'n universiteit waar 'n standbeeld van 'n man in sy onderklere opgerig is. 'n Groot klomp studente het die beeld gekritiseer omdat dit herinneringe aan seksuele molestering by sommige studente opgeroep het. Nog meer:

"At Oberlin College in Ohio, a draft guide was circulated that would have asked professors to put trigger warnings in their syllabuses. The guide said they should flag anything that might “disrupt a student’s learning” and “cause trauma,” including anything that would suggest the inferiority of anyone who is transgender (a form of discrimination known as cissexism) or who uses a wheelchair (or ableism)."

“Be aware of racism, classism, sexism, heterosexism, cissexism, ableism, and other issues of privilege and oppression,” the guide said. “Realize that all forms of violence are traumatic, and that your students have lives before and outside your classroom, experiences you may not expect or understand.”

Dit is 'n interessante debat. Dit reflekteer 'n sensitiwiteit vir mense wat verder benadeel kan word deur boeke te moet lees oor slegte ervaringe wat hulle gehad het. Dit wys ook dat 'n groot klomp mense omgee dat enige iets wat geweld en diskriminasie kan veroorsaak, veroordeel moet word.

Dit onderstreep ook 'n bepaalde etos wat op universiteite nodig is: studente is nie net akademiese nommers nie. Hulle word deur hulle akademiese ervarings beïnvloed: hulle kan benadeel word, bedreigd voel of selfs opnuut ervarings van mishandeling beleef.

Maar, sou 'n mens kon vra: is die bestudering van sulke tekste nie 'n geleentheid om te praat oor geweld en mishandeling nie - veral in beroemde werke waar sulke tema's onkritiese na vore kom? Die dosent kan juis sulke tekste gebruik om op 'n etiese manier kommentaar te lewer. Dit kan so gebeur dat studente selfs deur so 'n kritiese bespreking gedetraumatiseer word.

Ek stel nie om dowe neute in hierdie tema belang nie. Die Bybel is 'n boek wat gewelddadige vertellings van massamoord, van verkragting en van Goddelike wraaksugtigheid bevat. Moet lesers van die Bybel gewaarsku word dat daar sulke ontstellende gedeeltes is?

'n Dosent of 'n leerkrag kan sulke dele nie uit die Bybel uitsny nie. Die dele bied egter 'n belangrike geleentheid om uit te wys dat geweld en verkragting in stryd is met belangrike dele in die Bybel wat geweld veroordeel en naasteliefde as 'n onvoorwaardelike lewenswyse vashou.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive