Sunday, May 11, 2014

Om vryheid te waardeer en te kan droom


In die onderhoud vertel die jong vrou in China aan die joernalis dat al haar drome verpletter is.

Sy sou graag 'n joernalis wou word wat op 'n oortuigende, egte manier berigte kan skryf.

Die joernalis reageer op haar antwoord: Is jou drome tot niet omdat jy weet dat jy in hierdie land nooit eerlik en reguit oor die sameleiwng en die politiek sou kon skryf nie?

Hy verwys na die onderdrukkende en gevaarlike regering in China wat geen kritiek verduur nie.

Die jong Chinese meisie sit 'n rukkie stil. Dit is asof sy nie woorde kan vind om vir hom 'n antwoord te gee nie. Dit word 'n oomblik vol afwagting, selfs van spanning.

Dan sê sy, ingetoë:  "Ek sal liewers nie daarop wil reageer nie."

Ek dink terstond aan die lewendige verkiesingsveldtog wat ons pas beleef het. Ek onthou die openlike, indringende, deeglike en selfs heftige verkiesingspraatjies wat ons daaglikse dieet uitgemaak het.

Niemand was bang om sy sê te sê nie: van die radikales wat selfs die oseaan wil nasionaliseer tot die verregses wat glo dat net 'n wit regering ons land kan red. Elkeen se stuiwer is in die armbeurs gegooi. Niemand hoef oor sy of haar skouer te gekyk het nie.

En as jy te na gekom is, kon jy na die hof afsit om van die regter geregtigheid te kry. As jy nie saamstem met 'n berig nie, kan jy summier jou kommentaar byvoeg. Wanneer jy sterk genoeg oor die politiek voel, kan jy jou eie party stig en aan die verkiesing deelneem.

Hoe vry is ons land en ons samelewing. Die verkiesing was goed gereël, die uitslag oortuigend en die hele onderneming vry en regverdig.

Mense het hul keuse gemaak: hulle het nou die regering wat hulle wil hê.  En daar is ook 'n stewige opposisie in plek.

Dit het afgeloop soos in enige ander normale land met 'n demokratiese karakter.

Wat 'n mens laat vra: Besef ons hoe bevoorreg ons is?

'n Mens moet eers 'n besoek aflê in China om te besef dat 'n mens sulke vryheid nie vanselfsprekend moet laat word nie.

As 'n mens weer vryheid herwaardeer, is dit goeie rede om te droom.


No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive