Gebede, veral van vroom mense, begin dikwels met toegeneë aanspreekvorme
vir God of Jesus: “Liewe” Jesus, of “liewe Here” is nie vreemd aan mense se
manier van bid nie. Aldus ook: “Dierbare Jesus” of “dierbare Here.”
Sommige, meer plegstatiges sal dalk eerder bid: “Ewige Vader” of
“Almagtige Here.”
Dis min dat ‘n mens ‘n gebed hoor wat begin met “Heilige Vader.”
En tog: heiligheid is so belangrik vir Jesus dat hy die Onse Vader begin
met die bede: “Laat U Naam geheilig word.”
Daarom is dit aangrypend dat Jesus in sy afskeidsrede in Johannes 17:11
tot God bid as “Heilige Vader.” Hy bid in die hoofstuk vir die bewaring van die
dissipels in die tyd wat sal kom wanneer hy nie meer by hulle sal wees nie.
Wanneer Jesus só bid en sy volgelinge vra om gedurig te vra dat God se
Naam geheilig sal word, trek hy ‘n kring van heiligheid om God: God woon in
heiligheid. Maar God self is in wese ook die Heilige. En, voorts, God maak
heilig.
Trouens, wanneer Jesus bid tot sy “Heilige Vader” wys hy dat ‘n mens nie
aan God kan dink sonder om aan heiligheid te dink nie. God is innerlik en in
God se hele wese heilig.
Waarom bid mense dan so min oor die heiligheid van God? Is dit miskien
omdat heiligheid by mense nie meer aanklank het nie? Of omdat heiligheid nie
verstaan word nie?
Hoe verstaan ‘n mens heiligheid? Dit is veral boeiend dat heiligheid nie
met ‘n plek te doen het nie. In Nuwe-Testamentiese tekste is daar min van ‘n
heiligdom, maar eerder meer van God wat heilig is. Heiligheid is dus nie
eintlik iets buite God of selfs ‘n mens nie. Heiligheid is uiteindelik en veral
‘n eienskap van God en die mens.
Die Bybel herinner ‘n mens daaraan hoe belangrik die motief van heiligheid
wanneer dit die aanbidding van God met engele verbind. In Openbaring 4:8, ook
‘n Johannese geskrif, word ‘n
oorweldigende troonvisioen uitgebeeld. Vier lewende wesens, sentrale figure in
hierdie visioen, staan voor God se troon en bid. Die heel eerste deel van hulle
gebed is die trishagion: “Heilig, heilig, heilig is die Here God.” Só, dus,
dink die hemelse wesens dus in die eerste plek en veral oor God.
Aldus word die hemelfigure se gebedslewe van die begin af ingestem op God
se heiligheid. Engele is “heilig” (Openbaring 14:8). Saam met God is hulle deel
van ‘n sfeer en ruimte van heiligheid. En hulle bied ‘n model hoe om tot God te
bid.
Heiligheid is deel van ‘n hele reeks van motiewe: In hulle gebed word
heiligheid met God se almag verbind. Maar in Openbaring 4:9 is daar ook sprake
van heerlikheid, eer en dank. Heiligheid is nie swaar en somber nie. Dit is
deel van lig, heerlikheid, eer, lof en sang.
Wie in heiligheid inwoon, is by God, by goedheid, in hemelse luister. Dit
is goed om die Heilige Vader te ken. By die goddelike heiligheid is daar
bewaring, veiligheid en is ‘n mens werklik tuis.
Wanneer die mense wat doodgemaak is vir hul getrouheid aan God in
Openbaring 6:10 bid, roep hulle hard uit: “Hoe lank nog, heilige en getroue
Heerser?”
Hulle gebed, skryf Proksch, wys waarom hulle gelowig aan God getrou gebly
het: hulle was nie bereid om aan die onheilige, die bose toe te gee nie. Hulle
het besef dat God wat heilig is, nie die onheilige sal duld nie. Daarom het
hulle ver weg gebly van enige iets wat na heiligskennis lyk.
En, veral moet ‘n mens nie vergeet nie: die Drie-eenheid het as derde
persoon die Heilige Gees. Terwyl God skepper en onderhouer is, maar ook as Verlosser
die Seun is, is God veral in die hede die Heilige. As heilige bly God
voortdurend, intiem teenwoordig in gelowiges – in die kern van hul bestaan. En
waar God woon, is heiligskennis onvoorstelbaar, is die treitering van dit wat
‘n mens in donker vasbind, afgeweer. Die Gees heilig, suiwer, neem weg, maar
die Gees vul, laat oorvloedig vloei en bring ongekende vreugde.
Wanneer ‘n mens ‘n gebed begin met “Heilige Vader” en bid vir die
heiliging van God se naam, verlang ‘n mens na die ontsagwekkende skoonheid van
‘n ruimte sonder kwaad – na ‘n ervaring wat volledige verwondering by ‘n mens
oproep. En dit is op sy beurt die verlange om in die onbevlekte woning van die
Heilige Vader te kan inwoon. Dit gebeur wanneer ‘n mens deur God aangeraak
word. Alleen maar die spesiale, brandende, suiwerende aanraking is genoeg om
die nuwe lewe van die Gees te skep.
Wie dus nie tot die Heilige Vader bid nie, is innerlik dood: die verlange
is nie meer daar nie.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.