Monday, May 19, 2014

Heilige plekke: oor die moeder van alle kerke


Dit bly my boei hoe heilig 'n ruimte vir mense kan wees.
Die plek waar die tempel in Jerusalem gestaan het, word as een van die heiligste ruimtes op die aardbol beskou. Deur die eeue het die plek oorloë veroorsaak soos gelowe probeer het om beheer daaroor te kry.

Selfs gewone plekke kan besondere vererering uitlok. Dink maar aan die bykans heilige status wat die Voortrekker-monument vir sommige mense het.

Israel is by uitstek 'n toeriste-land vir mense wat al die plekke wil besoek wat hulle uit Bybelse verhale ken. Onder hulle is die geboorteplek in Bethlehem, Golgotha en die Olyfberg veral spesiaal.

In vanoggend se FT is daar 'n verhaal oor nog so 'n plek wat vir vele mense heilig is en wat in die Christendom 'n besondere reputasie het. Die pous besoek Israel later vandeesmaand vir die eerste keer in sy amptelike hoedanigheid. Hy gaan 'n diens hou in die kamer waar Jesus die laaste keer met sy dissipels saamgeëet het en die nagmaal ingestel het. Maar die tradisie beweer dat Jesus die dissipels se voete hier gewas het en na sy opstanding hier aan hulle verskyn het. Dit sou ook die plek wees waar die Heilige Gees op mense op Pinksterdag neergedaal het.

Argeoloë beweer dat die kerk die "moeder van alle kerke" is - soos Bargil Pixner dit stel in sy fassinerende artikel oor die kerk se geskiedenis (http://www.centuryone.org/apostles.html). Vir die Christene van alle eeue was dit dus 'n buitengewoon belangrike ruimte.

Die plan om in die kamer te aanbid het die arme pous se goeie bedoelinge met sy besoek laat skipbreuk ly. Hy wou betrekkinge met Israel verbeter en ook sy goeie trou teenoor ander gelowe wys. Nou is die ander gelowe woedend oor die byeenkoms in die oppersaal.

Die Oppersaal-gebou in die westelike deel van Jerusalem op die Berg Sion, kom uit die tyd van die kruisvaarders, lank na die oorspronklike tyd gebou. Dit is in 1332 al aan die Franciskaanse orde geskenk. Hulle het die plek herstel en 'n klooster daar gebou - die eerste in Israel. Die orde het so belangrik geword dat hulle vir eeue as bewaarder van heilige plekke in Israel aangestel is. 

Die plek is ook heilig vir Jode wat glo dat die gebou bo-op die graf van koning Dawid gebou is. Vir Islam is die gebou heilig omdat daar 'n moskee tydens die Ottomaanse Ryk was, nadat die Ryk dit in 1551 van die Franciskane afgevat het. 

Jode beroep hulle nou in hul protes teen die pous se planne op 'n ooreenkoms wat opgestel is toe die Britte nog in beheer van die land was. Alle godsdiense het toegang tot die gebou gehad, maar godsdienstige byeenkomste is verbied.

Onderliggend aan die proteste van Jode en Moslems is hul vrees dat die gebou aan die Vatikaan, spesifiek die Franciskaanse Orde, as oorspronklike eienaars oorhandig gaan word in 'n nuwe ooreenkoms oor Rooms-Katolieke eiendomme in Israel. As deel van die ooreenkoms gaan die Vatikaan glo 'n belangrike item uit die tempel in ruil vir die nuwe ooreenkoms aan Israel oorhandig.

Maar dit is wilde gerugte. Wat wel waar is, is dat die regering in Israel 'n plan oorweeg wat alle gelowe kans sal gee om godsdienstige rituele in die gebou te hou. Maar die regering ontken dat die gebou aan die Vatikaan gegee gaan word.

Wat so ironies is, is dat niemand weet presies waar Dawid begrawe is nie en dat daar geen manier is waarop die huidige gebou die werklike kamer kan wees waar Jesus die nagmaal gehou het of waar die Pinkstergebeure plaasgevind het. Een teorie, afgelei van 1 Konings 2:10, is dat Dawid eerder in die stad van Dawid in oos-Jerusalem begrawe is en nie op Berg Sion in wes-Jerusalem nie. Tog is daar gereeld Joodse besoekers wat by die gebou gaan bid en Christene wat die Christelike deel van die gebou besoek.

Terwyl ek al die gegewens naloop, bly dit by my hoe die Bybel Christus self as die nuwe heiligdom uitwys. Christene aanbid in Gees en waarheid, het Jesus aan die Samaritaanse vrou vertel en homself as die nuwe heiligdom beskryf.

Gelukkig. Dit is altyd spesiaal om by 'n plek te wees wat so ryk aan tradisie is. Sulke plekke kan vertel van hoe mense in die verlede God se heilige teenwoordigheid ervaar het.

Maar die Gees van heiligheid werk op plekke en in tye wat nie ingeperk kan word nie.

Lees hierdie berig in vandag se FT:




No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive