Wednesday, April 30, 2014

Soetjies lei die Here my en vertroos my met sy knopkierie... Oor die voorouers se volharding.


Was die ouderlinge vies toe Ds S.J. du Toit die Bybel in "Patriots" vertaal het  -  soos Afrikaans destyds deur die neus-optrekkers beskryf is.

Hoe sou dit nou klink as 'n mens, soos in Patriots, op 'n plat manier van "jy"  en "jou" praat, in plaas van die verhewe "u"? En, Afrikaans is nog nie "reg" vir 'n Bybelvertaling nie. Wie die Bybel in Afrikaans wil vertaal, loop gevaar om die Woord van God in minagting en veragting te laat raak en dat die Heilige God met onrein hande en besoedelde lippe aangeraak sal word. Só het die vieses gereageer.

Du Toit, die vader van die latere Bybelvertaler, Totius, het hom min gesteur. Hy het teen 1885 begin met voorbereidings van 'n Bybelvertaling. Hy het tot 1911 daarmee besig gebly.

Elke Donderdagaand het hy 'n voorbereide stuk vir 'n byeenkoms voorgelê. Maar, na 'n ruk het die groep eerder saam vertaal (om nie beïnvloed te word deur 'n reeds vertaalde stuk nie), met woordeboeke en verklarings byderhand om te help.

Hulle het dit as 'n geestelike taak beskou: "Ons perbeer eers goed om die mening van di Heilige Gees te verstaan en dan besluit ons hoe om dit di beste in ons taal uit te druk." 

Hulle het direk uit die grondtale vertaal, dan het van die ander teenwoordiges Engelse, Nederlandse, Lutherse vertalings vergelyk.

Gewoonlik was daar van 5 tot 17 mense wat die geleenthede bygewoon het.

Dit het nogal flink gegaan: soms kon hulle maklik 'n hoofstuk op 'n aand vertaal.

Daar was 'n hele klomp mense wat vasbeslote was om 'n vertaling te laat maak. Sommiges het aansienlike skenkings ter ondersteuning van die saak gemaak.

Helaas, die vertaling was nie by die breë volk gewild nie. Mense was te verknog aan die Nederlandse statevertaling en het nog te veel op Afrikaans as "brabbeltaal"  neergesien, skryf Du Toit verontwaardig.

En, moet 'n mens aanneem, die kerklike lewe was nog te verhewe, te hoog vir die "plat"  brabbeltaal.

Ek geniet P.J. Nienaber se boek waarin hy hierdie geskiedenis beskryf.

Maar wat my bybly is die vertaling van Du Toit van Psalm 23.

Hier is dit - in die oorspronklike Afrikaans:

'n Psalm van Dawid.

Jehowa is myn Herder; my ontbreek niks ni.
Hy laat my lê in 'n wy fan jeugdige gras; Hy ly my sutjiis langs waters om te rus.
Hy versterk myn siil;
Hy ly my in paje fan geregtighyd om syn naams wil.
Al gaan ek deur di kloof fan doodskadewe, ek frees geen kwaad nie; want U is met my; uwe knopkiri en wandelstok fertroos my.
U dek 'n tafel foor myn aangesig foor di oog fan myn teenstander;
U sal myn hoof met oli;
myn beke is o'erlopend fol.
Net goedhyd en barmhartighyd sal my folg al myn lewensdage,
En myn woning sal wees in Jehowa's huis fer lange dage.

Dis so mooi: daardie "soetjies"  lei van die Here, die lê in die jeugdige gras, die knopkierie wat vertroos, die beker wat oorlopends toe vol is.

En die laaste sin word 'n credo:  My woning sal wees in die huis van die Here "vir lange dae". 

Ons staan op breë skouers. 


No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive