Saturday, April 05, 2014

Al is daar net een regverdige oor... Oor hoop en kruisverlatenheid.


Die nuwe fliek oor Noag word in Suid-Afrika gewys. Die konserwatiewe geeste roep hulle oningeligte kudde reeds op tot boikotte. Een van die minder ingeligtes het in die media met groot kennis uitgevaar teen die fliek omdat dit o.a. die kabbala (sic) uit die tweede eeu (!) gebruik het om die Bybelverhaal aan te vul. 

Dit is ‘n self-verdoemende uitspraak.

Ek het nie die fliek gesien nie, maar  in ‘n televisie-gesprek gisteraand sit ‘n kring van ingeligte mense en luister na een of ander prediker wat uitgelate vertel hoe bly hy is oor die fliek omdat dit so goed vir sending is. Hy glo ook dat Noag 4 400 jaar gelede geleef het en dat die oorblyfsels van die ark op ‘n berg in Turkye te siene is. Hy het dit self met sy eie oë uit ‘n helikopter bekyk.

Langs hom sit die groep en luister bedagsaam, indien nie verslae nie.  ‘n Musiekwetenskaplike is een van hulle. Hy sit die verhaal so en bekyk. Hy is verbonde aan ‘n opleidingsentrum waar van die land se voorste jong kunstenaars gevorm word. Hy vertel hoe hy volgende week juis in die lydenstyd die Matteus-passie gaan opvoer.

Die gesprek sukkel, want die gespreksgenoot en aanpryser van die verhaal van Noag, se bydrae is nie besonder diepsinning nie.

Op ‘n stadium vra die programleier heel vriendelik en nuuskierig vir die man wat nou eintlik die sin van die Bybelse verhaal van Noag is. Dit is immers nie ‘n baie inspirerende verhaal nie, veral nie as ‘n mens sien hoe God die hele wêreldbevolking afmaai nie.

Toe daar niks sinnigs as 'n antwoord kom nie, gryp die musiekwetenskaplike in.

Hy het kennelik al nagedink oor die verhaal.

Noag, sê hy, is ‘n verhaal wat vir ‘n mens vertel dat selfs al is die hele wêreld korrup en selfs as daar net een regverdige mens oor is, is daar nog hoop.

Die entoesiastiese aanpryser van Noag knik sy kop: dit is, beaam hy ywerig, 'n goeie interpretasie van die verhaal.  Maar die musiekwetenskaplike laat hom nie maklik intou nie. Hy hou sy eie interpretasie weg van die man se fundamentalistiese greep op die verhaal.

Daar is hoop, selfs al is daar net een regverdige mens op die hele wêreld oor. Een sinnetjie, dog ek, maar ‘n hele wêreld van betekenis gaan vir my oop.

Veral omdat die verhaal van Noag die verhaal van alle tye is. Die tweede Noag, die man aan die kruis, was in sy korrupte wêreld van almal verlate, selfs van sy eie volgelinge.

Maar al was hy al een, was daar nog hoop.

Met dié interpretasie word die trefkrag van die Bybel duidelik, ook en veral in die lydenstyd.

Of die fliek nou dinge bylas of nie, die verhaal van Noag is te midde van alle interpretasies daarvan, 'n verhaal van transformasie in heerlikheid. Wie die Evangelie hoor, wéét dat geen donkerte die helder lig van die toekoms kan uitdoof nie. Kwaad spreek nie die laaste woord nie. 
 

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive