"Askese" noem mense
dit wanneer hulle hul in stilte afsonder, weg van hulle normale lewenspatroon
om 'n dieper geestelike lewe te vind en God se teenwoordigheid te beleef.
Afsondering is een van vele
geestelike praktyke. Daar is nog ander:
Deesdae reis mense graagter
as ooit as pelgrims op roete's. Dit word
'n tyd van meditasie en gebed.
Deel van geestelike praktyke
is ook om te vas: nie net van voedsel nie. Mense gee ook vir 'n tyd van afsondering hul rekenaars op, sit
hulle selfone af, skort afsprake op.
Deel van vas is om 'n
eenvoudiger te leef. Koop 'n kleiner motor, 'n meer beskeie huis, minder klere,
kyk minder televisie en eet minder en gesonder.
En dit, weer, hang saam met
die soeke na eenvoud en selfs mindere rykdom. 'n Mens kan gelukkig wees met min
besittings. Sommige mense, soos Franciskus van Assisi was tevrede selfs met niks...
Al die praktyke is daarop gerig om 'n mens
se eie belange prys te gee - juis omdat dit sinvol is.
Want deur 'n soberder
lewensstyl laat 'n mens ruimte vir ander mense en gee 'n mens om vir die
planeet. Wanneer 'n mens se ego minder in die sentrum staan, ontdek 'n mens
rykdom in vele vorme: die rykdom van gee, van vriende, van die omgewing, van 'n
voorspoedige gemeenskap, van minder armoede en lyding.
Al hierdie praktyke is deel
van 'n wêreldwye beweging wat al hoe meer onder geestelike reisigers aan die
groei is. Flanagan praat in haar boek van die nuwe monastieke beweging. Dit is 'n "monastiek" beweging: anders as 'n lewe in die wêreld - 'n "klooster"bestaan. Maar dit is ook "nuut" " Mens
hoef nie in 'n klooster te wees om die ideaal van armoede, eenvoud, toewyding,
afsondering en vas toe te pas nie. Dit kan in die alledaagse werk- en
familiekonteks ook gebeur. Mens kan 'n monnik in die gewone lewe raak.
Dit het niks daarmee te doen
dat 'n mens 'n "goeie" lewe soek en 'n "ordentlike" bestaan wil voer nie. Dit het niks met 'n
wettiese lewensstyl te doen nie.
Deur sulke praktyke soek 'n
mens eerder na skoonheid. Wie met sulke praktyke volhou, ontdek gou hoe sinvol die
lewe kan wees. Niks sorge oor te veel besittings, te min tyd, te gejaagde
programme, te min kontak met vriende en familie, te veel slapelose nagte, te
veel depressie, om gedurig te presteer, om in die middel van aandag te wees nie.
Meer nog: dit gaan om 'n
radikale verandering om te word wat 'n mens nie is nie. 'n Mens het genoeg gehad, Dit is tyd om anders te leef.
Hier moet 'n mens egter goed
onderskei: dit gaan nie om 'n mens se eie belang nie, asof 'n mens jou eie voordeel soek nie.
Die diepste doel van
spirituele praktyke is om te ontdek waarom die lewe werklik gaan. 'n Mens is op
soek na wat nog altyd in jou lewe ontbreek het.
Uiteindelik ontdek 'n mens deur
die geestelike praktyke hoe kosbaar en spesiaal dit is om te kan lewe.
Wie dit ontdek, staan in God se
teenwoordigheid - die bron van alle lewe en die Gees wat die lewe dra en voed.
Deur geestelike praktyke word
iemand se mens-wees gevoed. Wat 'n mens doen, bepaal 'n mens se identiteit.
Deur liefde te soek en te prakseer, word 'n mens meer liefdevol. Deur eenvoud
te jaag, word 'n mens 'n persoon wat tot die kern van dinge kan deurdring en
die oordadige kan afskud.
Deur die egte lewe te begeer, word 'n mens 'n pelgrim
wat gedurig voor die verborge, onuitputlike rykdom van die lewe te staan. En
wie voor die Verborgene leef, is onvoorstelbaar ryk.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.