Thursday, April 03, 2014

Die kerk is besig om hartgrondiglik te verander. Oor nuwe tye en nuwe maniere van leef.


Wie het gedink ‘n leier se invloed kan só wyd strek? En dat lidmate hul geestelikes kan laat les opsê as hulle ‘n afwyserige, buitensporige lewensstyl jaag?
Toe die geestelike leier van ‘n groot kerk in Amerika die probleem van ruimte in sy gemeente oplos deur sy huis te ontruim sodat ander kollega’s daar intrek, lyk dit dalk vir sommige hy is bedagsaam.

Maar hy beplan om in te trek in ‘n R25 miljoen rand huis op ‘n reuse erf. 

Miskien kon hy dit regverdig omdat dit die kerk niks sou kos nie. Die nuwe woonplek is immers ‘n geskenk van ‘n ryk persoon.
Hy het hom bietjie misreken. Sy plan het gou teenspoed gekry. ‘n Klomp mense het hom laat weet dat hulle ongemaklik oor sy planne is.
Die mooie is dat die geestelike hulle kritiek ernstig opgeneem. Hy het selfs om verskoning gevra en belowe dat hy in die toekoms eerder leiding sal soek van sy kollega’s en lidmate sodat hy getrou kan wees aan die feit dat die kerk arm is en na armes uitreik. As hulle wil hê dat die huis verkoop moet word, sal hy dit doen.
Hy wil in ‘n nuwe tyd die ou idee dat die kerk mag en prag uitstraal, laat vaar. Die kerk is nou ‘n plek waar sagte vreugde en ontferming uitgeleef moet word. 

Geestelikes, voel mense, kan nie sonder die noodsaaklike werk nie. 

Maar waarom moet hulle ‘n groot, duur motor ry terwyl kinders sterf van die honger? Wat is fout met 'n gewone motor wat die predikant flink van plek tot plek kan bring? 

En uiteindelik het 'n mens ook net 'n dak oor jou kop nodig waarin jy veilig, gerieflik en lekker kan bly. Alles wat meer is, is onnodig. Die dae dat ‘n geestelike R100 miljoen kon bestee net om sy huis te laat moderniseer, is verby – soos onlangs in Duitsland geblyk het. ‘n Pastor leef nie in ‘n paleis nie. 
Só voel mense oor die kerk. En met die nuwe pous het daar nuwe energie in die beweging gekom. Sy invloed is nou so sterk dat kerkleiers katvoet begin trap. Só ver kan 'n leier se invloed strek. 

Maar 'n mens moet die beweging lank nie net met die pous verbind nie. Hy is maar net een van die kerkmense wat in die afgelope jare ongemaklik geraak het met die kerk se lewensstyl in 'n tyd dat al hoe meer mense verarm en arm is. 
Ook moet 'n mens die saak nie net met geestelike leiers verbind nie. Wat geld vir die een, geld vir die ander. Nie net geestelike leiers nie, maar ook gelowige mense dink na oor hul lewensstyl. Terwyl ek die berig oor uitspattige wonings van geestelike leiers lees, dink ek aan ‘n onlangse uitsending op ‘n Suid-Afrikaanse stasie wat lui dat 80% van Suid-Afrikaners dink ‘n motor is ‘n status simbool. En ‘n mens kan nie dink dat daar soveel mense is wat hulself in skuld dompel om in motors te ry wat ‘n fortuin kos nie. Afgesien van die feit dat so iemand glo dat ‘n mens status deur uiterlike besittings kan verkry.
En dit terwyl soveel mense om ons sterf van die honger. 
 Trouens, 'n kerk wat só leef, kan ook vir die land se president met 'n goeie gewete en met groot impak sê: 'n leier is 'n dienaar. Selfs 'n president kan gelukkig wees sonder glans en glorie deur eenvoudiger, soberder te leef.  
Daar is niks wat mense meer begeer as dat hul leiers dienaars moet wees nie - nie net met die mond nie, maar veral ook met hul dade.  
Ek is dankbaar oor die nuwe tyd: die tyd dat die kerk ‘n arm kerk vir die armes is.
Die Gees transformeer nie net mense nie. Gelukkig kan kerke ook verander. En nie net geestelik nie. Hulle kan ook op ‘n heel konkrete manier ingrypend verander in die manier waarop hul leiers en lidmate eenvoudiger lewe en meer deel met mense wat saans honger gaan slaap of wie se kinders weens ondervoeding sterf.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive