Sunday, April 06, 2014

Sprakeloos.

Die verhaal van Noag vertel dat daar hoop vir die wêreld is, al is dit deur en deur sleg. Solank as wat daar maar net een regverdige mens oor is. 

Dit vertel dus van die onstuitbare krag wat opgesluit lê in geloof wat soek om dinge reg te maak en om God se wêreld teen die kwaad op te stel.

Ek het nodig om die verhaal te hoor na my ervaring Donderdagaand op my vlug terug Kaapstad toe. Want, ek voel dikwels ánders as wat die Noag-verhaal van 'n mens vra, naamlik dat een vrot appel die hele mandjie appels vrot maak. 

Na 'n dag se gepratery met eindelose vergaderings, land ek op die lughawe tussen 'n skare van mense wat vir ons vlug ingeboek is. Maar alles loop rustig en almal sit in vrede en wag dat die teken gegee word om aan boord te gaan. 

Die vliegtuig is propvol. Dit is immers 'n laekoste-vlug. 

Die passasiers kom uit vele Afrika lande en uit Asië. Hulle lyk moeg, of hulle 'n lang reis agter die rug het.  Dit is laataand. Die dag en sekerlik die reis, het sy tol geëis.  

Ons is so baie - hulle laai ons in die vliegtuig deur die voorste en agterste ingang. Om my woel en werskaf dit soos mense hulle sit kry. 

Ek het net uitgepak en in my sitplek agteroorgesit, toe kom daar twee Afrikaanssprekende vroue die vliegtuig binne.

Hulle is netjes aangetrek, die hare is gekap en elkeen het 'n handsak om die arm. Hulle lyk of hulle uitgedos is om kerk toe te gaan. 

Deftige, ordentlike Afrikaanse dames, so laataand op 'n laekoste-vlug uit Johannesburg na Kaapstad, dog ek.  

Reg langs my gaan een van die twee vroue staan. Voor haar is die reisigers uit Afrika nog besig om hulle bagasie in die oorhoofse ruimte's in te pak. Dit is 'n gedrang.

Sy trek los, kliphard en in goed hoorbare Afrikaans. Sy wil duidelik dat die mense om haar haar goed hoor: 

"Ruik net hoe stink die spul. Maar wat verwag jy dan nou ook. Het jy al ooit 'n bobbejaan gesien wat nie stink nie."

Ek is eintlik nog steeds sprakeloos.   





1 comment:

  1. Anonymous12:20 PM

    Almal van ons het al sulke vroue teegekom - te erg opgedos, en diep rassisties. Deel van hulle denke is dat "cleanliness is next to godliness". Ek is bevrees Afrikaanse kerke is diep aandadig by die skep van die probleem van rassisme.

    Dit help nie om net hier en daar 'n klip in die bos te gooi nie. Volgehoue en vasberade antirassisme deur mede Afrikaners is al wat die probleem sal kan aanspreek.

    ReplyDelete

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive