Wednesday, April 16, 2014

Onbehae.

Ek loop die afgelope paar dae met 'n onbehae in my gemoed rond.

Ek volg van tyd tot tyd die verhoor van Oscar Pistorius en dit is nie 'n gerusstellende ervaring nie.

Die saak interesseer 'n mens oor baie rede's. Dit gee 'n kyk in ons samelewing, in hoe misdaad gehanteer word, maar dit bring ook klarigheid oor 'n tragedie wat afgespeel het en wat op die oog af so onverklaarbaar lyk. 

Die saak interesseer my ook vanuit my eie wetenskaplike belangstelling. Ek doen die afgelope paar jaar heelwat leeswerk oor geweld, met verskeie navorsingsartikels wat ek reeds daaroor geskryf het. 

Een ding is seker. 'n Mens kry waardering vir die regsisteem: dinge in hierdie hofsaak is goed georganiseer, die kundigheid is indrukwekkend, die ondervraging deeglik, terwyl die organisasie  glad en die hele stelsel lyk of dit goed verloop. 

Die saak interesseer 'n mens want dit is tipies van 'n situasie van trauma: 'n mens wil weet hoe en waarom het die verskriklike tragedie hom afgespeel. Des te meer omdat die jong man van die ergste vorm van misdaad aangekla word. 

Die saak interesseer my ook vanuit my eie wetenskaplike belangstelling. Ek doen die afgelope paar jaar heelwat leeswerk oor geweld, met verskeie navorsingsartikels wat ek reeds daaroor geskryf het. 

Dit is 'n ervaring om op so 'n direkte manier, sommer vanuit jou sitkamer, op hoogte te kom van al hierdie dinge, wat gebeur het en hoe 'n hofsaak soos hierdie gehanteer word. 

In die hofsaak merk 'n mens hoe geweld ons samelewing deursuur en die slegte gevolge daarvan. 

Daar is opvallende symbole van so 'n kultuur. Die geweer-kultuur is die een kant van die munt, met die ander kant die bedreiging van inbrake, aanvalle, verkragting en moord wat deel van mense se alledaagse bestaan is en wat hulle hoogs onveilig laat voel. 

Ek volg ook die verhaal met belangstelling omdat 'n mens wil weet hoe die regsberoep in die praktyk lyk. Jy leer baie, veral uit die gesprekke met ingeligte regslui in die media. Rustig in die ateljee agter 'n netjies tafel ontleed hulle die dag se gebeure vanuit 'n kennersoog. In artikels is daar belangrike gesprekke. 

Een so 'n artikel vertel hoe getuies deesdae huiwer om in 'n hof te getuig. Hulle voel uitgelewer aan die aanvalle van die ondervraers wat hulle getuienis moet toets. Hulle voel naderhand soos leuenaars en skuldiges. Die artikel vra voorts dat regters waaksaam moet wees om hierdie gevoel van bedreiging te ondervang en te keer dat dit mense sal afskrik om hulle deel te doen om misdaad te bekamp.

My onbehae het hiermee te doen. Die etiek van ondervraging, besef ek, is 'n belangrike kwessie terwyl ek kyk na die aanslag van die kruisverhoor. 

Dit laat my vra: Hoe ontleed 'n mens iemand se getuienis op die mees gepaste en eerbare manier? 

Soos die saak sy loop neem, raak my onbehae hieroor groter. Die keerpunt vir my was toe die aanklaer sy kruisondervraging van Pistorius begin het. Die skokkende oomblik toe hy die kop van die vermoorde vrou gewys het en dit vir my gevoel het of hy Pistorius wou dwing om daarna te kyk was vir my'n laagtepunt. Dit was 'n oomblik wat in kruheid moeilik oortref sal word.  

Maar ook die res van die ondervraging was vir my deurspek met agressie wat nie altyd funksioneel was nie. 

Ek probeer my onbehae hieroor al die afgelope paar dae nog verder peil en vra myself af waarom die deel van die verhoor vir my pla. Hoe moet ek my onbehae uitpluis? 

Om 'n stap terug te neem: 'n Mens sien oral in ons samelewing 'n ondertoon van aggressie, opposisie, van antagonisme. Miskien kan 'n mens dit bietjie neutraler stel: verhoudinge van mense onderling word nog te veel deur agonisme gedryf. 

'n Mens moet vir die waarheid "baklei." Jy moet mense "dwing" en "dreig" wat met hulle gebeur as hulle lieg. Jy moet, in die woorde van die aanklaer, maar "onbeskof" kan raak as jy nie van hulle 'n reaksie kry wat jou pas nie. 

Ons sien dit in die wetenskap, in die politiek, in die kerk en in die hof. Dit is 'n "ek-jy" stryd, waarin die "jy" eerder as skuldige beskou as onskuldig beskou word. 

Die persoon wat jy ondervra of wat nie met jou saamstem nie, is 'n vyand, 'n leuenaar. Jy self is die een wat ontmasker, wat oorwin, wat die bulhond is (en wil wees). 

Ek sou wou vra, tot watter mate verloën dit jou menslikheid om ander gedurig vanuit so 'n agonistiese hoek te benader? 

Byvoorbeeld: Een gedagte wat herhaaldelik by my opkom is dat 'n aangeklaagde wat  getraumatiseerd is oor wat gebeur het, deur so 'n ondervraging verder getraumatiseer word - maar selfs geestelik geskend kan word. Is daar in 'n agonistiese benadering ruimte om die ander se menselikheid in ag te neem? 

Wat as die beskuldigde werklik 'n fout gemaak het? En nou word hy of sy nog verder geboor. 

Dit is seker nodig om realisties te wees. Ek kan verstaan dat so 'n ondervraging  iewers nodig sou kon wees, byvoorbeeld as 'n mens te doen kry met 'n harde krimineel wat vol brawade is en wat vreesloos ontmasker moet word. 

Maar hoe begryp 'n mens so 'n aanslag as wreedheid die openingstoneel van 'n ondervraging uitmaak en meedoënloos toesak op iemand wat reeds eindeloos blootgestel is aan 'n uitgerekte, lang marteling van wat gebeur het en, veral, wat in die ellende van 'n ingewikkelde juridiese proses met sy ontoeganklikhede verstrengel is? Nog meer: hoe ellendig is dit vir hierdie man om in sy omstandighede en onder 'n brutale aanslag op sy persoon deur die media en indringerige mense in die hof te verskyn en dan nog hierdie soort ondervraging mee te maak?  Is dit onbelangrik om in gedagte te hou hoe hy uitgelewer is aan die wêreldwye aandag van die media wat genadeloos elke klein hoekie van sy lewe onder die vergrootglas plaas? 

Ek kan my nie voorstel hoe hierdie man moet voel om in die hof te  moet verskyn in sulke brute omstandighede.  Maandelange, genadelose openbare aandag, en dit terwyl hy in elk geval in 'n hoek gedryf is, skuldgevoelens, hatige kommentare, verlies aan vriendskappe, 'n agressiewe aanslag van die staat, uitgerekte en duur konsultasies en dan nog sy innerlike gevoelens, skep moeilik 'n omgewing waarin hy met insig sy saak kan stel. Trouens, hierdie situasie is al genoeg om iemand te breek. En ek sou selfs wou vra of hierdie situasie nie reeds straf in die ergste graad is nie. 

Dus wonder ek oor my onbehae: Kan 'n mens nie op 'n beter manier iemand bring om die waarheid te praat nie? Is die kru ondervraging werklik 'n etiese manier van doen?

Is 'n agonistiese aanpak werklik die enigste moontlike manier? Of is dit die reste van 'n ou, treurige ideaal van die sterkste oorwin?  

Soms wil ek vanuit 'n leke-hoek selfs die ondenkbare vra: Waarom dink ek aan die apartheidsdae toe mense uiteindelik skuld erken net omdat hulle onder die ondervraging geknak het sodat alles net kan ophou? Is die effek van hierdie ondervraging nie uiteindelik dieselfde nie? 'n Mens hoef nie fisiek gemartel te word om te knak nie. 

Iemand vertel dat die styl van ondervraging deur regspersone baie verskil. Terwyl sommige blykbaar trots is op hul aanvallende benadering is daar ander weer wat stil-weg baie effektief hul werk doen.

En dit bly by my: daar is vele ondervraers wat deur indringende, kritiese vrae dieselfde resultate kry. Waarom word dit dan nie die ideaal nie? 

Mense is bekommerd oor getuies wat deur hulle ervaring in die hof skrik op die lyf gejaag word. Moet ons nie ook bekommerd wees oor die etiek van ondervraging van beskuldigdes nie? Word daar in die opleiding van regslui ooit aandag gegee aan die vraag na die mees etiese en effektiewe vorme van ondervraging?

Ek weet dat daar tydens besprekings gesê is dat die regter daar is om te sien dat die ondervraging nie onbillik teenoor 'n beskuldigde sal wees nie. En die regter het inderdaad op 'n keer of wat die aanklaer oor die vingers getik. Ek weet ook dat die aanklaer 'n man van integriteit is en dat hy 'n trotse rekord het. Ek besef ook dat 'n oortreder dikwels op slim maniere sy kaarte speel, en dat in sulke gevalle ruwe hantering nodig mag wees. 

Maar my onbehae bly my by. Want ek weet hoedat selfs in ons mees gerespekteerde ondernemings en instellings onherkenbare vorme van geweld bestaan. Die kerk met sy vrome geweld teen die ander, teen die "skuldige" een wat nie aan die norme en verwagtinge van die aanklaers voldoen nie, is 'n klinkklare voorbeeld daarvan. 

Ek het te dikwels in my lewe gesien hoe 'n agonistiese gesindheid en optrede mense se lewe onherroeplik geskend het. 

Geweld is nie net in misdaad, in misdadiger en in die samelewing te vinde nie. Geweld kan ook skuil in die manier waarop misdaad bestry word. 

Dit het ons immers al geruime tyd terug geleer van Foucault, met sy beroemde Discipline of Punish. 

   

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive