Eers die gedig:
Teen skemeraand
het die hosanna's lankal
tot stilte vervaag.
Onbewus was die Heilige Stad
van watter koning sy in haar midde verwelkom het.
Êrens was daar 'n boom,
miskien alreeds afgekap,
wat bestem was om sy troon te word.
Êrens was daar 'n doringstruik,
bestem om sy kroon te word.
Êrens was daar spykers en 'n Romeinse spies,
wagtend op hul glorieryke lot.
Navorsing toon aan dat die oudste praktyk wat met Goeie Week verbind kan
word, dié van vas en die weerhouding van voedsel is. Om tydens Goeie Week
te vas was alreeds teen die tweede eeu 'n algemene gebruik. Dit was veral
op Goeie Vrydag en Heilige Saterdag dat daar streng gevas is. Vandag nog
vorm die vas en weerhouding van vleis 'n integrale deel van ons verpligtinge op
Goeie Vrydag. Een volle maaltyd word toegelaat op hierdie dag, alhoewel
dit nie verbode is om 'n klein hoeveelheid voedsel in die oggend en aand in te
neem nie. Hoekom vas ons? Omdat ons van ons kant af 'n konkrete en
doelbewuste poging wil aanwend om, hoe gering dit ookal is, deel te hê aan
Christus se lyding. Van die vroegste tye af en regdeur die geskiedenis
van die Kerk kon mense, deur te vas en ander vorms van self-opoffering of
self-afsterwing, hul geloof versterk en verdiep en groei as Christene.
Nog iets wat uitstaan omtrent Goeie Week is dat die liturgiese kleure
wat gedurende hierdie tyd gebruik word en ryk aan simboliek is. Op
Palmsondag en Goeie Vrydag word rooi gebruik, tradisioneel die kleur wat lyding
en opoffering aandui, veral die neerlê van 'n lewe soos in die bloedoffer van
Christus en sy martelaars. Pers, die gewone kleur wat die Vastyd aandui,
en wat beide rou en koningskap simboliseer, word op die Maandag, Dinsdag en
Woensdag gebruik. Wit, die kleur van hoop, van die opstanding en hemelse
reinheid, word op Wit Donderdag (vandaar die naam in Afrikaans) en tydens die
Paaswaak, sowel as op Paassondag, gebruik word.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.