Saturday, April 26, 2014

Hoe om nie te wil hoor nie...


Die bekende laat 'n mens veilig voel. Enige iets wat van buite kom, bring onsekerheid en angstigheid. Só gaan dit ook met 'n mens se geestelike lewe, met wat 'n mens glo en dink.

Trouens dit geld ook van die teologie. Nuwe ontwikkelinge word steeds met argwaan bejeën.

Mens sien dit in sommige mense se reaksie op geestelike sake, ver.  

In Flanagan se nuwe boek oor afsondering, skryf sy oor onlangse neuro-linguistieke ondersoek wat werk met negatiewe maniere waarop mense reageer wanneer hulle met inligting te doen kry waaraan hulle nie gewoond is nie.

Byvoorbeeld: hoe reageer mense op geestelike inhoude van mense wat hulle nie ken nie of wat nie deel is van hulle bekende kring nie?

Daar is drie tipe's reaksies van mense.

Hulle kan eerstens enige onbekende of anderse sienings afwys of ignoreer. Dit is vir hulle genoeg dat hulle self 'n geestelike reis het om af te lê. In die reis wil hulle veral met die bekende dinge besig bly. In hulle bekende wêreld is daar nie ruimte vir andersheid nie.

Of, tweedens, kan hulle ander mense se sieninge veralgemeen deur dit met een enkele uitspraak te tipeer. Ek hoor dit  byvoorbeeld telkens wanneer oningeligte mense vertel dat spiritualiteit 'n individualistiese beweging is wat mense wêreldvreemd maak en mense verlei om hul verantwoordelikheid vir die wêreld te ontvlug. Hulle sal sê dat spiritualiteit 'n modegier is wat sal verdwyn, min wetende dat dit sy wortels in die vroeë Christendom het en een van die oudste bewegings binne die Christendom is. Hulle sluit hulleself deur so 'n veralgemende stelling heeltemal af van enige nuwe inligting wat mense kan help met geestelike vernuwing.

Of, derdens, kan mense nuwe dinge wat nie inpas by hul eie wêreld van die bekende, verdraai. Daardeur word enige nut van spiritualiteit vir 'n mens se lewe, by voorbaat ontken. 'n Mens verdraai die nuwe deur byvoorbeeld die verteenwoordigers daarvan verdag te maak. Flanagan vertel in haar boek dat iemand vir haar geskryf het om nie weer iets van Merton oor te neem nie omdat hy 'n alkoholis en 'n rokjagter was. Deur iemand persoonlik verdag te maak of sekere aspekte uit verband te lig, bly 'n mens weg van enige nuwe beweging.

Wat is die alternatief op hierdie eng lewensuitkyke?

Kontemplatiewe oplettendheid, noem Flanagan dit.

Om altyd weer aandag te gee aan die dinge wat 'n mens op jou geestelike reis kan vorm. Dit beteken om steeds weer God se stem te wil hoor.  En God se stem ken nie grense nie. Dit kan nie in vaste bane vasgevang word nie.

Dit is, veral, die les van die Bergrede...

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive