Friday, April 11, 2014

Wanneer sal geweld tot 'n einde kom?


In hierdie dae word die verskriklike gevolge van 'n geweer-kultuur en van 'n samelewing wat deurdrenk is met geweld in 'n hofsaal op 'n tragiese manier uitgespel.

Hoe sal ons ooit die spiraal van geweld kan deurbreek?

Die vroue wat Jesus se weg na die kruis volg, huil, treur en rou. Jesus reik liefdevol uit na hulle. Ten minste is hulle nie aan die kant van die mense wat geskreeu het dat hy gekruisig moet word nie. In hulle optrede sien die Bybelleser die verlange na transformasie in herskepping - om nuut te kan wees, sonder die kruisweg wat nou voor hulle opdoen.

Hulle gee om vir Jesus. Mens sou hulle selfs potensiële dissipels kon noem...

Jesus praat met hulle oor die toekoms: die kwaad wat hulle leiers gedoen het, sal nie ongestoord voortduur nie. Kwaad het ook grense waarteen dit vasloop. Daar kom 'n dag dat God die streep trek.

Trouens, sê Jesus, daar kom 'n dag van oordeel wanneer mense kinderlose vroue gelukkig sal noem. In 'n gemeenskap waar kinderloosheid 'n vloek en 'n straf gesien is, sal dit as 'n seën gesien word. So erg sal dit wees dat mense sal vra dat rampe hulle sal tref sodat hulle tog net die oordeel kan ontkom.

Wat mense nou aan Jesus doen, skryf Fitzmyer, sal dus onvoorstelbare gevolge hê vir toekomstige geslagte.

Nie omdat 'n lot oor hulle hang nie.

Maar wie in die kwaad leef en bly, wie liefde en goedheid wegwys, skep 'n wêreld wat op 'n ramp moet uitloop. Dit is 'n wêreld waarin hulle kinders grootword. En die kinders ken nie van 'n alternatief, van iets anders nie. Hulle bly die lewe leef waarin hulle grootword.

En hiervoor sal hulle verantwoording moet doen.

Kwaad skep 'n kringloop wat die kwaaddoeners vasvang en in steeds groter kringe van boosheid laat verval.

Maar niemand sal hulle wêreld kan blameer vir die dag van oordeel nie. Want in die wêreld waarin hulle woon, is daar altyd 'n alternatief - die liefde en die goedheid.

Dit is waarom die lydensverhaal vertel word:

Dit vra vir 'n einde aan geweld. Aan 'n vrees-kultuur. Dit nooi uit om die liefde en goedheid nie weg te stuur nie, maar om dit te omhels. En te volg. Om dissipel te word.

Nie maar net huil en treur nie. Nie maar net op die bors slaan nie. Méér, veel meer: om die lydensweg self te loop in die groot soektog na vrede - weg van die kwaad.

So stíl kom die uitnodiging: onder al die geraas van die spotters, die geweldenaars, die wat vreesbevange uitskree, word die Stem nouliks gehoor. Dit is 'n uitnodiging om, ter wille van die toekoms, die weg van vrede in te slaan. 

Mense vir vrede - dit kan geweldskultuur tot 'n einde bring. 


No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive