Tuesday, April 08, 2014

Lyding spreek nooit die laaste en sterktste woord nie. Oor 'n ontmoeting met die Dogters van Jerusalem



Die lydensweg van Jesus is nie sonder die ligter, heldere oomblikke nie. Dit sien ‘n mens ook as Jesus na ‘n verhoor weggeneem word om gekruisig te word.

‘n Mens sou dink dat die lang verhoor hom teen daardie tyd behoorlik uitgemergel het.

Lukas 23:27-31 vertel ‘n klomp mense, waaronder vroue, Jesus al treurende en huilende volg.

Jesus sien hulle raak.

Hy draai om en sê vir hulle dat hulle nie oor hom nie, maar oor hulleself en hul kinders moet huil. Hy praat dan van die toekoms waarin mense jammer sal wees dat hulle kinders het. Dan sal hulle vir die berge begin sê: Val op ons! en vir die heuwels: Bedek ons! Want as hulle dit doen aan die groen hout, wat sal met die droeë gebeur!

Daarna word hy gekruisig.

Dit is woorde wat Jesus kort voor sy dood uitspreek.

Hierdie toneel is ‘n verademing in die lydensverhaal. Jesus is op pad na die kruis, verlaat en verwerp deur sy eie mense. Hy is ter dood veroordeel onder groot gejuig van sy opponente. Maar hier, in ‘n kort oomblik, is daar wel mense wat treur oor wat met hom gebeur.

Onder hulle is daar vroue. En Jesus draai om om spesifiek met hulle te praat.

Hy sonder die vroue onder die skare uit. Hy merk hulle verdriet en wil hulle vertroos.

Jesus bly die Een wat omgee, wat ander wil bystaan. Hy is nie die slagoffer van sy eie lyding nie. Uitgemergel, maar nogtans nie afgesny van ander en hul nood nie.

Sommige lesers sou dalk kon dink dat sy woorde aan hulle negatief en veroordelend is. Maar Jesus praat met hulle ook op ‘n liefderyke manier. Dit merk ‘n mens op aan die manier waarop hy met die vroue praat. Die enkele aanspreekvorm, “dogters van Jerusalem” is nie ‘n gewone manier om mense aan te spreek nie. Dit is ‘n baie spesifieke Bybelse frase wat ‘n paar plekke in Hooglied voorkom (bv. 2:7; 3:5; 8:4) as ‘n toegeneë, tedere uitdrukking.  

Met die uitdrukking hoor ‘n mens die liefdevolle Jesus praat. En hier, op pad na die kruis ervaar ‘n mens weer eens ‘n oomblik van liefdebetoning.

Maar ook in die tyd wil Jesus teenwoordig wees – selfs al moet hy omdraai, weg van sy eie kruispad om by húlle te kan wees, om met húlle ‘n liefdeswoord te spreek.

Dogters van Jerusalem: ‘n Hooglied-oomblik, gelaai met innigheid en intimiteit.

Jesus herken hulle getrouheid, hulle omgee, hy bevestig hulle in hul ándersheid, in die manier waarop hulle verskil van die rasende beskuldigers voor Herodus en Pilatus. Hy merk hul verlange dat hy eerder nie ‘n kruisweg sou moes loop nie.

Altyd, oral, in die slegste omstandighede, as die donker wat skynbaar so swart om ‘n mens hang, is daar die regverdiges, die omgee-mense, die vroue, wat nie meedoen nie, wat lig uitstraal, wat uitreik.

Dit is ‘n oomblik van verademing. Lyding, glo ‘n mens, spreek nooit die laaste en sterkste woord nie…

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive