In die fliek, vanaand op 144, in Afrikaans, is Fanie Fourie se ma nie langer bereid om vas te byt nie.
Haar seun se liefde oor die kleurgrens gaan nie tot niet nie. Haar hoop dat hy
tot sy sinne kom, is verydel.
Dus pak sy sy koffers en vra die huis se sleutels.
Hy moet padgee uit sy ouerhuis.
Omdat sy hom lief het, kondig sy aan.
Hy verwerp dadelik haar woorde.
Ondenkbaar, keer hy die saak om: Dankie dat Ma my koffer gepak het.
Nee, sê hy, gedrewe, maar passievol, wat sy nou doen het niks met liefde
te make nie.
'n Oomblik om terug te sit: dit is 'n slim ommekeer in die verhaallyn.
Hy voeg vinnig by: Toe sy hom toegelaat het om haar garage in ‘n werkswinkel te verander waar
hy ou karre regmaak, teen haar sin en met groot geduld – dit was liefde.
Liefde is juis dit: om toegeneentheid te kan gee juis daar waar die ander
een nie aan jou eise voldoen nie.
Moenie die fliek mis nie. Dit toets ‘n mens daar waar jou diepste
weggesteekte vooroordele weggebêre is.
Dit het my laat dink aan die ou, bekende professor wat so bemind onder sy
studente was. Maar ook ‘n ou staatmaker vir alles wat apart en mooi wit moes
wees. Hy was een van die grootste vriende en ondersteuners van die politieke
sisteem van daardie tyd wat van as sisteem mense vyande van mekaar gemaak het.
Die middag toe hy voor ons kommissie kom praat het oor sy bedenkinge wat
hy tog oor die Groot Ideologie gehad het, het hy op my vraag wat hom dan
daartoe bring, gesê:
“Dit is die wet op
gemengde huwelikke wat my teen die bors gestuit het."
Dit was so 'n oomblik van omkering, besef ek nou nog.
En toe volg sy argument: "Want geen wet mag op die
liefde inbreuk maak nie.”
Die liefde is tingerig, breekbaar, ‘n klein plantjie wat ‘n mens versigtig
moet oppas.