Boeiend, veral in hierdie lydenstyd, is die ongewone reaksie van Jesus op
die rumoer om hom tydens sy laaste openbare verskyning. Hy is in Pilatus se paleis saam met priesterhoofde en familiehoofde wat
“beskuldigings” teen hom slinger.
Matteus 27:12 vertel dat hy niks geantwoord
het toe hy so toegetakel is nie.
Pilatus wil by hom hoor of hy dan nie hoor hoe sy opponente hom beskuldig
nie. Matteus 27:14 voeg dan by dat hom met nie ‘n enkele woord geantwoord het
nie.
Hy het nie, soos die Grieks dit helder stel, eers een woord gesê nie.
Die man van die Bergrede, wat in eenvoudige, helder taal, gelaai met
beeldspraak van die veld, natuur en skepping, met stories uit sy tyd van
reisigers, konings, boere en gewone mense, het geswyg soos die graf.
Hy wat juis in Matteus 23 sy opponente vreesloos aanvat en slegsê as
korrupte skynheiliges, staan voor die goewerneur van die land wat sy lot in sy
hand het, en bly stil.
Dit is ongewoon. Selfs Pilatus was “uiters” verbaas (λίαν), staan daar in
Matteus 27:14.
In lyding, vals beskuldig, in die steek gelaat, alleen. Maar nogtans
swygend. Hoe dan? Want net tevore, volgens Matteus 27:11, het Pilatus hom gevra
of hy die koning van die Jode is. En hy het Pilatus ‘n antwoord gegee. Tóé kon
hy praat.
Hy kon dus, as hy wou, gereageer het op wat hulle teen hom kwytgeraak het.
Wou hy nie meer keer nie? Sake hulle gang laat gaan? Die onvermydelike
laat gebeur? Die beker drink?
Sekerlik nie. Jesus is nie deur sy swye ‘n slagoffer, ‘n verdwaasde
voorwerp van wrede mense nie.
Hy is in sy swye besig om hulle te ontmasker.
Hy bly die middelpunt van die verhaal, die een wat in beheer is. Matteus
praat in hierdie vers nie van “Pilatus” nie. Hy sê “die goewerneur” was uiters
verbaas. Matteus noem daarenteen wel Jesus se naam. “Jesus het hom met geen
woord geantwoord nie.” Dit het Matteus ook in Matteus 27:11 gedoen. Daar word
bloot gesê dat Jesus voor “die goewerneur” gebring is. Dit is belangrike
detail, want dit wys daarop dat Pilatus maar net ‘n agtergrondskarakter is. Hy
is daar, maar net as ‘n deel van die dekor. Matteus, skryf Gundry, wil daardeur
die soeklig skerp op Jesus laat val. Hy staan in die sentrum van die
handelinge. Dit is nie Pilatus wat die aandag trek nie.
Al die aandag is op die Een wat swyg, op wat hy doen. Want hy praat deur
sy stilte.
Dit is nie die eerste keer dat Matteus só van Jesus praat nie. Hy hou ‘n
beeld voor van Jesus wat die hardheid en gewelddadigheid onbeantwoord laat. Hy
vergeld nie kwaad met kwaad nie – selfs tot sy eie nadeel. In Matteus 26:62 het
Jesus ook geswyg toe hy voor die hoëpriester beskuldig is. In Matteus 27:29-30
word doringtakke op sy kop en ‘n stok in sy hand gesit om hom te bespot. Dan
spoeg hulle op hom en slaan hom met ‘n stok oor die kop.
En onderwyl sê hy niks nie.
Matteus verstaan hierdie lydensoomblikke dus in ‘n spesiale lig: Jesus,
die sagmoedige, die nie-geweldenaar leef op ‘n kritieke oomblik in sy lewe die
Bergrede uit: Geseënd is sagmoediges want hulle sal die nuwe aarde ontvang
(Matteus 5:5).
Sy vyande was nie onbewus van die krag wat uit Jesus se sagmoedigheid
gestraal het nie. Sag, maar sterk. Hulle het geweet dat hy sterk genoeg was om
“ander te red” (Matteus 27:42).
Meer nog, hulle onthou hoe sterk het hy op “God vertrou” (Matteus 27:43).
Maar die grootste lof kom van Pilatus wat die swye van Jesus nie verkeerd
lees nie: hy som Jesus op as ‘n onskuldige man en wil niks aan sy dood aandadig
wees nie (Matteus 27:23).
Uit daardie sagmoedige swye het ‘n krag uitgestraal wat onmiskenbaar
geblyk het. Nie eers die ervare Pilatus, wat soveel skurke al moes verhoor, kon
deur die stilte mislei word nie. Jesus se swye wys eerder sy onskuld.
Miskien is die diepere, verborge funksie van die swye dat die
kwaadwilligheid en hardheid van Jesus se vyande in hul ware aard laat kom het. Hulle
is hard.
Hulle wou nie glo nie. Hulle wou nie die sagmoedigheid erken nie.
Hulle wou hom tot kwaad dryf.
Hulle wou nie.
Anders as Pilatus, die nie-gelowige man wat Jesus se onskuld saam met sy
vrou bely het.
Die stille antwoord… net: hierdie
keer het dit nie die grimmigheid afgekeer nie.
Maar later, deur die eeue heen, sou mense Matteus lees en saam met hom en
Pilatus uiters verbaas wees oor die Sagmoedige. En nog meer verwonderd daaroor
staan dat ‘n mens sagmoedig kan wees wanneer jy geestelik en fisiek aangerand
word.
Hy was anders. Hy het nie oor mense getrap nie. Hy wou nie kwaad met kwaad
vergeld nie. Hy was sagmoedig.