Wednesday, April 09, 2014

Die einde van nimmereindigende lyding. Wanneer troos en waaksaamheid saamkom.


In my eerste blog-skrywing oor die lydensverhaal in Lukas 23:27-30 het die verhaal se ligtheid na vore gekom: Jesus is op pad na die kruis, verwerp deur die leiers van sy mense. Teen die tyd is hy so geslaan en verneder dat iemand opgekommandeer word om sy kruis te dra.

Die verhoor van Jesus was dus vernietigend: dit loop uit op die doodstraf vir Jesus. Sy eie mense lewer hom uiteindelik die graagste oor.

Lukas ontvou nou die verhaal deur by te voeg dat die verwerping nie totaal was nie: die Joodse volk was oor hom verdeeld. Op pad na die kruis is daar ‘n menigte wat huil en treur oor wat met hom gebeur. Jesus merk hul smart, draai om en reik na hulle uit.

Hulle optrede is presies die omgekeerde as dié van hulle geestelike leiers.

Hierdie klomp mense wys dat hulle omgee: hulle huil én hulle treur in plaas van spot en hoon.

Jesus sien hulle raak en draai om na hulle. Soos Welzen dit in sy kommentaar uitspel, is daar naas die oomblik van liefde, innigheid en uitreiking as hy met hulle praat as “dogters van Jerusalem” – die lieflingswoord vir die bruid in Hooglied, ook ‘n oomblik van verdriet. 

Net soos geen lyding die laaste woord spreek nie, net so, omgekeerd, is liefde nie sonder die swaarkry-tye nie, die lydenstyd nie.

In Jesus se liefderyke woorde aan die vroue, skuil daar ‘n besorgdheid. Hy berei hulle voor op wat vir hulle wag: hulle sal die oordeel oor hul skynbaar onaantasbare stad, die ewige stad van God, Jerusalem meemaak. Daar kom ‘n verskriklike tyd. Hulle lydensweg wag nog op hulle. Lyding ken geen romantiek nie. Dit kan soms áán en áán hou.

Jesus weet dus wat die toekoms is wat op die vroue wag: binne jare sou hulle stad met die grond gelyk gemaak word. Jerusalem, die stad van God, sou nie die aanval van die Romeine oorleef nie. Dan sal die ergste ook oor húlle pad kom.

Wat met Jesus gebeur het – met die groen hout – sal erger wees wanneer dit met die droeë hout – die gewone mense van Jerusalem – gebeur (vers 31).

Hy wil hulle attent maak op wat met hulle sal gebeur.

Maar dit beteken nie dat Jesus daarmee vertel wat hulle persoonlik sal ervaar nie.

In Jesus se woorde skuil ‘n dieper, verborge betekenis. Eintlik vertel hy vir hulle dat wat met hom gebeur, nie die laaste woord is nie. Die oordeel is aan die kom. Die mense wat God verwerp deur hom aan die kruis te nael, sal daarvoor verantwoordelik gehou word. Hulle sal die gevolge moet dra.

Wat mense aan hom gedoen het, sal hulle ook aan ander doen. Die kwaad bly aan die werk, dit sal nie by sy kruisdood ophou nie.

Maar, op ‘n dag, sal die immer uitkringende kolk van kwaad en ongeregtigheid ook tot ‘n einde kom.

Dan sal God ‘n streep trek. En die kwaaddoeners sal verantwoordelikheid dra vir hul dade van ongeregtigheid.

Kwaad het immers ‘n inherente vermoë om die kwaaddoeners self te verswelg en tot niet te maak. Só vertel Lukas die lydensverhaal.  

En sy woorde aan die vroue is eintlik ‘n ligte-swaar woord: moenie deur jul smart verswelg word nie. Maar weet ook: die pad vorentoe gaan nie makliker wees nie.

Sorg dus, meer as ooit tevore, dat julle aan die goeie getrou bly.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive