Al geruime tyd hoor ek van vriende hoe die onderwys in Europa
verander het om elke kind tot sy of haar reg te laat kom. Alle kinders het
gelyke kanse. Die slimmers word aangemoedig, maar nie ten koste van minder
begaafde kinders nie. Daar word gesorg dat elke kind aandag kry sodat hy of sy
kan vorder tot die nodige standaard vir elke jaargang.
Dit is die tyd van gelykheid. En die bedoeling is dat niemand
ten koste van die ander een opgehemel word nie.
Nou is daar ‘n verandering aan die gebeur. Ewe skielik wil
onderwysmense kinders wat veelbelowend is en wat uitblink, beloon. Hulle kry
dit deur ‘n sertifikaat of ook deur meer intense opleiding in die vakke waarin
hulle goed doen.
Dit gebeur ook in die bedryfswêreld.
So gebeur dit dat twee kenners in hierdie benadering by ‘n
universiteit daaroor gaan praat.
Hulle is verslae. Die een beskryf die ervaring (in vandag se
Trouw) as volg:
Die studente drentel die lokaal binne sonder om te groet.
Alkohol-walms hang om sommige. Die meeste sit en speel met hul selfone. Hulle
is verbysterend min geïnteresseerd in die lesing en hul vakke. Hulle vra nie
eers vrae nie. Hul houding is dat hulle niks te doen het met organisasies wat
verander nie. En na die lesing stuur een student vies ‘n epos om te kla dat
daar van hulle verwag is om ‘n uur lank te konsentreer.
Toe die besoekers geskok met die dosent hieroor praat, sê hy
dat dit maar normale gedrag van studente is.
Apatie, gebrek aan leergierigheid en belangstelling staan
uit.
En, lei ‘n mens af, dit is die normale toedrag van sake.
Dit is die ervaring van twee besoekende dosente aan ‘n
universiteit in Nederland.
Klink bekend. As ek hoor wat hier plaaslik aangaan, is dit ‘n
patroon.
Maar, sou ek wou byvoeg, dit is nie net waar van studente
nie.
Die apatie is wydverspreid.
Nou wil onderwys se beleidmakers hieraan werk.
As jy enige konsert van ‘n bekende groep sien, sing die
jongmense woord vir woord saam. Hulle onthou presies watter trefferlied in
watter jaar deur een of ander band gemaak is. Hulle kan toor met hulle selfone.
Hulle praat eindeloos en blink uit in rekenaarspeletjies. Wanneer hulle oor ‘n
fliek praat, kan hulle die fynste detail onthou. Hulle weet alles oor mode’s,
haarstyle, motors, rekenaars, selfone.
Daar is dus niks met die brein fout nie…
Iewers in die berig in Trouw is daar ‘n interessante
opmerking: die twee dosente vra hoe gebeur dit dat ‘n dosent sulke apatiese
gedrag van studente as normaal kan ervaar.
Hulle skryf: dit is ‘n tragedie dat dosente sover gekom het
dat hulle eenvoudig sulke gedrag verduur.
Dit raak ‘n sensitiewe snaar. Want, vertel ‘n student my, toe
hy oorslaan na ‘n rigting waar net sekere studente keuring kry, het sy
werkslading feitlik vervierdubbel. Daar is geen genade nie. Of jy werk hard,
woon jou lesings by en neem deel aan die gesprekke, of jy val uit. Die dosente vat nie nonsens nie.
En die resultaat is dat dit ‘n gesogte kursus is waarin
studente uitblink.
Dit is dus een kykie, al is dit nie al antwoord nie: apatie
is ‘n probleem wat verdra word. En iemand wat sulke gedrag verduur, veronreg
nie net sy/haar studente nie, maar doen hulleself ‘n onreg aan.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.