Thursday, April 10, 2014

Altyd teenwoordig, selfs in lyding. Musiek vir die lydenstyd.




Bach se Matteus-passie is een van die bekendste musiekstukke wat gekomponeer is. 

Dit  is in Europa een van die gewildste stukke wat in die lydenstyd opgevoer word. In Nederland is daar oor die volgende paar dae 140 opvoerings in die groot teaters.

Dit is 'n merkwaardige stuk weer, gelaai met passie, met insig. Dit is een van die min tye dat die verhaal van Jesus mense vandag in sekulêre plekke kan ontroer. 

Merkwaardig is die stuk omdat dit so meesterlik gekomponeer is. Dit is 'n lewenswerk, waarin Bach alles van sy musikale en geestelike gawe's ingestort het. Tot ‘n dag voor sy dood het Bach aan die stuk gewerk. Die kleinste detail is presies deur hom versorg.

Op een stadium is daar ‘n resitatief van Christus in die stuk ingewerk. Hy het die stuk met woorde van Jesus in 365 woorde gekomponeer: Een woord vir elke dag van die jaar – want, het hy geredeneer, daar is nie ‘n dag dat ‘n mens sonder Christus kan wees nie. Net 'n meester kan so werk.

Hy het ses keer in die stuk die gebed, Ontferm U, my God, ingewerk:

Ontferm U my God,
ter wille van my trane.
Sien hoe, hier voor U,
hart en oë bitterlik
trane stort.
Ontferm U, my God.

Daar is niks wat meer pas aan die lydenstyd as hierdie gebed nie.

Die aria word byvoorbeeld ingevoeg by Petrus se verraad. Wat die stuk spesiaal maak, is dat deur ‘n kontra-tenoor gesing word. Kontra-tenore is van die moeilikste stemme om te kan sing. Sulke tenore is skaars.

Bach het sy Matteus-passie geskryf met die bedoeling dat sy lesers die lydensverhaal moet verstaan én ervaar.

Vanaand, in ‘n bespreking oor die Nederlandse sender (kanaal 431), word dele van die passie deur ‘n koor en orkes uitgevoer. Die koorlede vertel hoe hulle in een jaar 14 dae na mekaar die stuk moes opvoer. Een van hulle deel mee hoe hulle elke aand maar weer na die tyd onder die indruk was van die stuk. Hul gemoed was vol. Die ervaring is intens. Die trane was vlak.

Bach, die protestantse komponis en orrelis van Leipzig, was een van die brijlantste komponiste van alle tye.

Die musiek is so slim, so intellektueel, roep een van die besoekers vanaand uit, maar teselfdertyd is dit so hartverskeurend.

Volmaaktheid, weet 'n mens by die luister van hierdie stuk, is wanneer hart en verstand saamkom, vol huiwering, selfs verwondering voor die Misterie dat Goedheid bly uitreik - ondanks bittere verwerping.  


 

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive