Tuesday, April 29, 2014

Die wonder van vergifnis


Hy daag my by ons huis op op 'n Sondagmiddag om te hoor of hy nie ons motor kan was nie.

My eerste gedagtes is dat hy desperaat is om 'n geldjie te verdien. 

Dalk is daar nie iets op die tafel vir middagete nie. En 'n gesin wat honger ly.

Ek besluit om hom te help. Ek gee hom 'n werkie.

Toe hy na 'n halfuur klaar is, kom ons ooreen dat hy die werk die volgende dag sal kom klaarmaak.

Hy lyk immers heel flink en werk netjies.

Ek neem aan ek gaan hom die volgende dag betaal.

Hy staan nog so 'n rukkie rond. Ek weet wat gaan volg. En dit is toe ook so: hy vra geld om vleis te gaan koop.

Ek sê ek sal vir hom 'n pak vleis gee.  Ek maak op die manier seker, dog ek, dat daar kos op sy tafel sal kom.

Hy wil kontant hê en na 'n bietjie onderhandel, gee ek dit vir hom eerder as die vleis. Toe ek oomblikke later uit die huis kom, staan hy nog daar.

Hy vra waar die pak vleis is.

Uiteindelik is hy weg met geld en vleis.

Oor middagete deel ek my ervaring met die ander gaste. En, soos te verwagte, in die klein plekkie waar almal almal ken, vra hulle dadelik wie die persoon is.

My beskrywing word kortgeknip: hulle weet dadelik wie dit is. Hulle is ontsteld dat ek dit kon waag om hom in ons huis toe te laat. Die man kom so pas vir verkragting uit die tronk. Uit hulle reaksie lei ek af dat hulle hom met mag en mening vermy. Hy mag nie naby hulle huise kom om werk te soek nie.

Ek is verskeurd tussen die man wat op 'n Sondagoggend geld wil verdien en die beeld van 'n wreedaard wat vrouens aanrand.

Nog meer begin ek nadink oor hoe dodelik dit is om in 'n tronk te beland - nie omdat die tronk so gevaarlik is nie, maar omdat mense so verskriklik genadeloos teenoor sulke mens optree as hulle eers weer uit die tronk kom en 'n normale lewe moet voer.

'n Mens se lewe is verwoes: niemand sal jou 'n kans wil gee nie. Hulle is te bang vir die risiko's.

Die volgende oggend is die man presies op die afgespreekte tyd by ons huis. Ek laat hom werk en is verstom oor sy werkywer. Hy is bekwaam. Maar hy werk ook presies en netjies. Boonop werk hy tot die middag vyf uur.

Maar ek is ongerus. Ek tref die nodige voorsorg, sluit deure waar nodig en sorg dat ons veilig is. Ek wil hom help, vir hom kans gee om iets te verdien, om 'n bestaan te voer. Maar ek is ook ongerus.

Die heel tyd bly ek dink:  hoe verskriklik is dit as 'n mens eers in die tronk was. Niemand wil jou werk gee nie, al is jy hoe flink en fluks.

Maar daar is 'n ander, los gedagte wat by my bly. Ek dink aan my eie gevoelens van ongerustheid, van 'n gebrek aan vertroue. Ek dink aan die plaaslike mense wat die skuldige wantrou en nie wil help nie. En ek voel niks anders as wat hulle voel nie. 

En dan kom die beeld van die man weer terug by my - van die harde werker, die een wat omgee vir sy kinders en hul opvoeding.  En van sy desperate Sondag-middag se gesoek na werk.

En terwyl die dinge by my spook, knaag 'n ander gedagte by my. Menslik gesproke moet dit verskriklik moeilik vir God wees om, na die vergifnis wat ons geskenk is, steeds weer aan die verhouding met ons verbind te bly. 

Of dan eerder: hoe groot is die wonder van goddelike vergifnis dat dit sonder argwaan geskenk word. En dat God met soveel openheid weer 'n verhouding met mense aanknoop.  

Dit is die wonder van vergifnis: wanneer dit gebeur sonder dat 'n mens ooit weer aan jou verlede herinner word. 

En nog meer: watter gawe is dit om, soos God, na mense te kyk sonder om hulle aan hul verlede op te hang.




No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive