Saturday, April 12, 2014

Is tronke nog sinvol?

Is tronke nog sinvol?  Maak tronke nie van iemand groter kriminele nie? Is 'n tronk 'n plek waar mense se lewens finaal verwoes word? Is 'n tronk 'n plek wat van iemand 'n beter mens maak? 

Dit is 'n vraag wat in die toekoms al hoe belangriker gaan word. Die probleem dat mense dikwels weer in die tronk beland, wys dat tronke nie regtig bydra om misdaad op te los nie en dat dit belangrik is dat 'n mens ernstig moet nadink hoe 'n mens iemand straf vir oortredinge. 

Dit is des te meer dringend omdat mense in die tronk beland terwyl hulle op ander maniere gestraf kan word. Hulle is nie regtig "tronk-materiaal" nie. "Goeie" mense, wat op 'n stadium, 'n dom, nalatige, roekelose fout gemaak het, se lewens word finaal verwoes, terwyl hulle nie regtig 'n goeie kans kry om hul skuld vir hul misdaad te betaal of om reg te maak met mense wat deur hulle fout veronreg is nie.

'n Volwasse samelewing soek daarna om mense wat foute gemaak het, by te staan om beter burgers te word.

Natuurlik kan en moet die proses soms baie streng wees. Dissipline is onteenseglik nodig.

Ouers wat nie hul kinders dissiplineer nie, doen die kinders en hulleself 'n onreg aan.

Maar die groot vraag is: wat is dissipline en hoe dissiplineer 'n mens op die mees effektiewe manier?

Hoe voorkom 'n mens dit dat ouers, onderwysers, bestuurders, hoofde, tronkbewaarders mense waaroor hulle toesig het, afknou, uitbuit, mishande of selfs vernietig?

Dissipline kan nie net 'n onreg wees teenoor die een wat dit ontvang nie. Dit kan veral die een wat dissiplineer 'n skurk en boelie laat word. 

Maar dissipline kan ook 'n mens verhinder om die onreg wat sy of haar slagoffers aangedoen is, uit die weg te ruim en te vergoed daarvoor. 

In vanoggend se Trouw is daar 'n berig hieroor. Een van die deelnemers aan die gesprek dink tronke is 'n resep vir rampspoed omdat dit nie slaag daarin om vier basiese oogmerke na te kom nie. Die vier is veiligheid, voorkoming, hersosialisering en vergoeding. Nie net is dit 'n rampspoed vir die misdadigers nie, maar ook vir die bewaarders.

Nog 'n respondent sê dat 'n tronk 'n plek is waar iemand gestraf word vir wat die persoon gedoen het. Mense moet vir hul dade verantwoordelik gehou word, al benadeel dit hulle as persone. Boonop is 'n tronk 'n plek waar gestraf word. Dit is nie 'n plek wat plesierig moet wees nie.  


Maar iemand anders dink dat 'n tronk 'n plek is waar mense gehelp moet word om in te sien waar hulle foute gemaak het. Dit gaan hulle nie sommer ontdek deur opgesluit te word nie. Dit tronk is dus nie om mense af te skrik nie en te straf nie, maar om mense te leer hoe hulle in die samelewing moet optree. 

Dit is ook nie reg om tronke misrabel te maak nie, omdat dit maar net die situasie vir die misdadigers slegter maak. Hulle voel dat hulle niks te verloor het nie. En dan word hulle kanse om weer misdade te pleeg ook groter.

Lees die artikel by: http://www.trouw.nl/tr/nl/6926/Filosofisch-elftal/article/detail/3633567/2014/04/11/Is-een-gevangenis-uit-de-tijd.dhtml





No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive