Sunday, April 13, 2014

Die Illuminati

Die Illuminati is ‘n gewilde tema in Bybelstudie-groepe van toegewyde gelowiges. Hulle bestudeer met groot ywer die teorie dat daar ‘n geheime groep samesweerders is wat die Christendom wil vernietig en die wêreld wil beheer.
Sulke vroom mense aanvaar kritiekloos dat die geheime groep met die naam Illuminati beroemde mense, skrywers, sangers, kunstenaars, selfs kerkleiers misbruik en manipuleer om, sonder dat hulle dit self besef, hulle bose planne met die wêreld en godsdiens in werking te stel.
Hulle wil mense waarsku om op die uitkyk te wees vir die Illuminati met hulle bose planne: hulle is invloedryk, skelm geweldig ryk, sedeloos en gewelddadig want hulle soek om alles wat goed is te vernietig. Hulle is eintlik die Anti-Chris wat die Christendom met geweld gaan vernietig.
Die bisar teorie word nou ook onder jongmense gepropageer, onder andere in popliedjies waarin bekende sangers verdink word dat hulle onder invloed van die Illuminati is (Beyoncé, Madonna en Rihanna). In vandag se Trouw verskyn daar ‘n lang artikel, geskryf deur Lennaart Allan oor die invloed daarvan op jongmense in Nederlandse skole.
Die Illuminati-teorie is al horingoud en lankal ontmasker as 'n kwaadwillige en valse teorie - wat dit des te vreemd maak dat mense dit nog glo. Dit is ‘n komplot-teorie wat gedryf word deur angs vir iets wat nie regtig bestaan nie. Die teorie werk met die gedagte dat niks toevalligs gebeur nie, maar dat daar altyd ‘n klomp boosdoeners is wat na mag soek. Die hoofkarakters in die komplot-groep is gewoonlik vrymesselaars en Jode.
Daar was wel in Duitsland van 1776 ‘n vereniging wat die keiser met ‘n republiek wou vervang. Daar was drieduisend lede totdat die keurvors van Beiere alle geheime verenigings in 1784 verbied het. Party van die lede van hierdie Illuminati vereniging is toe in die tronk gegooi en ander het gevlug. 
Volgens die komplot-teorie was dit glo hierdie vlugtelinge wat in die geheim hulle sameswerings beplan het. Die Skot John Robison in 1797 en die Fransman Abbé Augustin de Barruel het hierdie komplot in boeke beskryf wat daarna die komplot-teorie verder sou dryf en voed. Die Illuminati, het hierdie twee beweer, sou die Franse Revolusie begin het (1789). Hulle wou alle konings en die Christendom uitroei en ‘n wêreldrepubliek onder hulle heerskappy begin.


In 1806 ontvang einste Barruel ‘n brief uit Italië van ene J.B. Simonini wat vertel hoe hy die Jode geïnfiltreer het. Hulle het hom ‘n groot skat gewys waarmee hulle mense betaal om hul planne uit te voer. Die Jode het die Illuminati en vrymesselaars gestig. In 1867 is die hele storie oorgeneem in ‘n boek van Hermann Goedsche. Dit was net verdere olie op die vuur om hierdie vals teorie aan die lewe te hou. 

Later is die verhaal verwerk as ‘n publikasie met die naam: Die protokolle van die Wyses van Sion. Dit is die berugste antisemitiese teks wat ooit gemaak is. Dit is in 1905 in Rusland gepubliseer en vandag een van die bekendste tekste onder mense wat dink die teorie is waar.

Keer op keer is bewys dat die boek ‘n vervalsing is. Maar keer op keer duik die komplot-teorie weer op.

Die gevolge van hierdie vervalse dokumente en foutiewe teorie is onvoorstelbaar: Die Nazi’s sou dit gebruik in hul vervolging van die Jode. In Arabiese lande word dit nog steeds gesirkuleer.
 Verregse partye in Europa en Amerika, asook konserwatiewe Christen-groepe versprei dit nog. Dit sluit in groepe soos die Ku Klux Klan, die Nation of Islam, en fundamentalistiese Christene. Hulle leef uit haat, agterdog en selfs geweld teen mense wat hulle verdink as Illuminati.

Geen ordentlike mens sal hulle met hierdie verregse en hatige groepe wou assosieer nie. En tog neem godsdienstige vroom mense en jongmense onbewus hulle oortuigings oor. 

Dit is tragies dat dit ook in ons land al onder vroom groepe aangetref word – en dan boonop onder mense wat ‘n mens sou dink eers van hul feite seker sou maak voordat hulle so gou in so ‘n totaal gediskrediteerde haat-teorie sou glo.

Die feit dat Trouw vandag hieroor 'n artikel plaas, nadat al soveel keer berig is hoe 'n vals die teorie is, wys hoe onkrities mense is wanneer dit by godsdiens kom. 



No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive