Friday, April 18, 2014

Al daardie reëltjies wat die belangrike dinge tot niet maak...

Daar breek sowaar op hierdie Goeie Vrydag 'n rusie los omdat die pous weer vroue se voete gaan staan en was het. 

Op hierdie dag dat 'n mens die diepste dinge van godsdiens bedink en gekonfronteer word met 'n saak van lewe en dood, is dit die treurige nuus wat op my skerm flits. 

Ek besef hoe hierdie nuus 'n mens uitdaag om ook en veral op die kruisdag van Christus  die belangrike dinge te onderskei van dit wat op die rand van die lewe lê.  Die dag neem 'n mens verby die kleiner, negeerbare dinge wat die toneel van die lewe invul, en dan, 'n mens se aandag wil oorneem en belas. 

Omdat 'n mens nie 'n hart het vir wat belangrik is nie. 

Immers: Die kruisdood van Christus begin juis by die groot passie vir wat saak maak, vir wat regtig belangrik is: Reeds op 'n sabbat, 'n jaar of wat voor die sterfdag van Christus, het Jesus juis by godsdienstige byeenkomste sy ware kleure gewys.

Dit was weer 'n mooi dag, so 'n keertjie in die sinagoge: mense is rondom die woord van God bymekaar om al die mooi dinge van die lewe te geniet en aan te prys. God is goed, God skenk mooihede en daar is alle rede om in dankbaarheid vir God te wil dien. Vandaar die samekoms: om weer te luister na die Woord oor wat werklik saak maak.

Jesus doen graag mee. Hy "leer" ook, tot verstomming van die mense. Hy praat sterk, met oortuiging en passie. Mense is elke keer aangenaam verras (Lukas 2:22). 

Hy praat immers oor God wat omgee vir mense. God reik uit na almal wat ly, wat swaarkry, wat geminag word (Lukas 4). 

Matteus vertel in sy evangelie van so 'n byeenkoms (12:9-14). Jesus is in die sinagoge. Daar vra sy opponente hom of 'n mens op die sabbat gesond kan maak.

Sy reaksie is klokhelder en ondubbelsinnig. Voor so 'n kans, huiwer 'n mens nie - selfs nie op die sabbatdag nie. Dit is soos 'n man wat een skaap het en hom sonder meer red as hy sien dat daardie skaap op 'n sabbat in die sloot val. Jy gaan sekerlik iemand genees, omdat 'n mens belangrik is, veel belangriker as 'n dier. 

Dit is toe net daar dat sy opponente uitgaan en planne vir goeie Vrydag begin maak. 

Hul reëltjies oor die sabbat verduister hul visie op wat regtig belangrik moet wees. 

Daaraan dink ek toe ek lees dat die pous weer vanjaar vroue se voete op wit Donderdag gewas het en mense daaroor kla soos toe hy dit verlede jaar gedoen het. 

Die voetwassing, het die kritici gemor, is in die Bybel vir manne gedoen. Dit was Jesus se dissipels, die uitgesoekte groep vir wie Jesus op die manier bedien het. In die kerk is die uitgesoektes die manlike priesters. Van alle mense behoort die pous dus van beter te weet. Selfs een of ander Vatikaanse sekretaris het geswig onder die druk van sy reëltjies en gewaag om die pous te kritiseer. 

Terwyl die man aan die kruis sterf, het hy uitgereik na almal om hom - ook die vroue. Oor hulle, wat sy liefdevolle teenwoordigheid sou moes ontbeer, veral sy ma wat hom getrou bygestaan het, wou hy hom ontferm. Soos sy lewe lank, sou hy tot die laaste oomblik uitreik na hulle wat na aan hom was. 

Hier is, volgens die artikel in vandag se Trouw, die amptelike reaksie op die gekla: 

Het Vaticaan maakt zich in ieder geval geen zorgen. Paus Franciscus wilde zich donderdag 'ontfermen over zij die leven aan de rand van de samenleving', meldt een Vaticaanse woordvoerder aan Religion News Service. Al die regeltjes 'leiden soms af van de diepe boodschap van de evangeliën'.

Mooi.  

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive