Thursday, June 05, 2014

Bloot net Energie: oor die mens na God se hart.


Hy is nie meer seun nie en ook nog nie jongman nie. Op die speelveld is hy die hardloper: oral is hy by, soek hy die bal en die geleentheid. Hy praat gedurig met sy maats. Por hulle aan. Wys vir hulle om saam te speel. Klop hulle op die skouer. Skree aanmoediging na aanmoediging en kreun harder as die gelukskoot hulle ontwyk as wat hulle dit self doen.

Dit is nie net die energie wat hy uitstraal nie, of die lewenslus nie. Dit is ook nie bloot net die jeugdige entoesiasme wat ‘n mens in hom raaksien nie.

Daar is iets anders, feitlik iets mistieks aan hom – hierdie sterk, seningrige outjie wat mense se aandag trek.

Na die tyd sit drie van ons en gesels. Die wedstryd is verby.  Dit is tyd vir so bietjie niksdoen, bietjie praat, oor dieper dinge gesels.

Maar, besef ek, ook hier is daar ‘n stuk energie – selfs in die stil tye van gesels. Dit word 'n gesprek met wysheid.

Hy kom, vertel hy, uit ‘n seedorpie ente van Kaapstad af. Dis maar stil daar in die vakansietye. Twee keer vertel hy uit sy kind-tye in die veraf plekkie:

Hy is deur sy skoolmaats in die skool van daardie klein plekkie gespot omdat hy so tingerig was.   

Dit vertel hy spontaan, sonder veel drama. Maar toe hy dit die tweede keer noem, besef ek hoe dit sy hart vol maak.

Net daar het hy besluit dat hy iets daaromtrent sal doen. “En kyk,” wys hy trots na homself, “hoe lyk ek nou.”

Hy weeg 20 kilogram swaarder as toe hulle hom gespot het.

Die toon van sy stem laat my besef hoe die afknouery hom geraak het. Dit was afknouers, daardie maats van hom wat hom getreiter het – besef ek - en hulle het 'n letsel gelaat wat sy lewe deur by hom bly.

Maar hy praat nie self-bejammerend daaroor nie: dit was daardie kinders wat hom uitgedaag het om iets te doen, om vas te byt  en aan die sakie te werk.

Ek besef hoe die weke en maande van inspanning hom taai moes gemaak het – die tye dat hy vasberade gaan oefen het, homself dopgehou het, gewonder het of hy al sterker lyk, die dae afgetel het, sy skoolmaats se afknou-praatjies nog uitgestaan het.

Hoeveel pyn sit daar tog in woorde, in spottaal, in uitlag, in afknouery, maar ook in die stil vasberadenheid om die spot om te keer. Selfs die tye van vasberadenheid moes pynlik wees.

Ek voel ‘n dieper teenwoordigheid in sy praat aan, maar kan dit nog nie heeltemal peil nie. Dis die praat van iemand wat deur pyn is, dit leer bekyk het, dit omgekeer het en ryp geraak het daarin.

En toe, net voor ons groet, laat glip hy dat hy gelowig is. So tussen-in, as ‘n byna terloopse opmerking – asof dit ‘n natuurlike saak is wat sommer net so gebeur. Nie nodig om veel daaroor te praat nie. 

Tot op daardie stadium was daar geen grootse geloofspraatjies nie. Nie gesmousery met vroom gebede nie.

Bloot net Energie. Wat, besef ek, na die tyd, wysheid bring. 

Hoeveel skoonheid daaraan, des te meer, omdat die Gawe aan mense gegee word terwyl hulle nog skaars voet in die grootmens-wêreld gesit het. En reeds, so jonk, soveel grootheid uitleef. 

Tuis gekom, stiltetyd bedink, en toe aan Dawid gedink. Hoe, eeue na die tyd, die Nuwe Testament onthou het:

“Van hom het God getuig: ‘Ek het Dawid, seun van Isai, gekry; hy is ‘n man na my hart. Hy sal alles doen wat Ek wil hê.’” (Hand. 13:22).

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive