Die beste gesprekke is dikwels dié waaraan jy nie deelneem nie.
Ek is eenkant besig om van my sake af te handel, terwyl ‘n klomp mense
langsaan sosiaal gesellig en vriendelik met mekaar gesels. Ek is nie deel van
wat hulle praat nie en hulle is ongeïnteresseerd in my teenwoordigheid.
Dit gaan oor ditte en datte.
Hulle ken mekaar nie, kom ek agter. Hulle het toevallig in die groep
beland en net lekker aan die gesels geraak.
Een van die gespreksgenote vertel dan aan die ander in die groep
vrymoediglik van sy godsdienstige ywerigheid. Hulle vra hom uit oor sy werk en
oor sy planne. Hy wil iewers in die buiteland gaan werk waar hy sy geloof kan
uitleef en mense meer van godsdiens kan vertel.
Tussen-in vleg hy ‘n paar opmerkings oor sy lewensbeskouings in.
Hulle luister wat hy te sê het.
Die hartlike gesprek kom naderhand tot ‘n einde, en die vrymoedige vriend
verdwyn om die hoek met ‘n hartlike groet – duidelik vol genieting oor sy
ontmoeting met die ander.
Hy het hom skaars uit die voete gemaak, toe die ander hulle gesprek
voortsit. Hulle praat oor die mens wat so pas vir hulle ‘n kykie in sy
innerlike gegee het.
“Wat ‘n konserwatiewe ou,” sug een. “Dit is nou maar soos dit gaan met
kerklikes”, bekla hy sy frustrasie oor die gesprek.
As die ander een die opmerkings beaam, is die kat in die hoenderhok.
“Ek kom nooit in die kerk nie. As ek op ‘n Sondag in die kerk moet gaan
sit, is my hele dag summier bederf.”
Die ander een slaan ook toe: “Ek dink my teensin in die kerk is geneties:
my pa het nooit sy voete in die kerk gesit nie. Hy wou nie gedomestiseer word
nie.”
Die lug is swaar van hulle intense
onvergenoegdheid oor die kerk wat onverdraagsaam, voorskriftelik,
moralisties, intimiderend en patroniserend is.
Dit is die domestiseer wat my bybly: daardie goeie burgerlikheid waarteen
so dikwels en so sterk gewaarsku word. Die kerk se taak is nie om mense “goeie”
en ordentlike burgers van die samelewing te maak nie. Juis nie.
Nog een vertel dat sy ma wel kerk toe gegaan het. Maar hy dink nie sy het
haar ooit gesteur aan wat in die kerk gedoen en geglo is nie. Sy was daar omdat
sy graag hemel toe wou gaan en omdat sy gedink het dit is nodig om kerk toe te
gaan as jy in die hemel wil kom.
Op die manier hoor ek met my eie ore die hele register van stereotipe’s
wat oor eeue met die kerk verbind word, maar besef ek ook hoe daardie
stereotipe’s deur mense se ervaringswerklikheid gevoed en versterk word.
En besef ek weer eens hoe ‘n mens se houding teenoor die kerk tot in die
duisendste geslag weerklank gaan vind.
En vra ek myself af: hoe gebeur dit dat mense skynbaar baie min ‘n ander,
goeie, minder negatiewe beeld van die kerk kry? Waarom het die kerk by mense so
min geestelike aantrekkingskrag?
En nog meer: hoe word daardie vroom gelowige jongmens wat so vrymoedig met
die ander oor sy geloof gepraat het, miskien terwyl hy dink hy maak ‘n mooi
indruk, ooit bewus van wat sy entoesiastiese, vriendelike gespreksgenote
werklik van hom en sy kerklikheid dink?
Deel van die onbehae oor kerklikheid in ons tyd, is die tragiese gevolg
van die kerk se onvermoë om te hoor wat mense werklik sê.
Wat nog van te sê: wat mense van die kerk dink, is die tragiese gevolg van
die kerk se onvermoë om te luister na wat mense werklik sê? Want hoe luister
‘n mens as jy salig onbewus is van wat in die harte van mense omgaan wat so
anders as jy dink?
Die ervaring van die gesprek broei by my. Want dit is ‘n gesprek waaraan
jong volwassenes deelgeneem het. Ek wonder of een van hulle ouer as 30 jaar
was.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.