Monday, June 16, 2014

Bly om in die vrees van die Here te leef.


Begin alles by vrees vir die Here?

Dit klink vir die moderne oor nie goed nie. 

Tog is dit ‘n belangrike Bybelse motief:

Psalm 111 is ‘n boeiende verduideliking van hierdie motief van vrees vir die Here. Vers 10 is die klimaks van die Psalm: Die vrees van die Here is die beginsel van wysheid. Dit is dus 'n Psalm oor die vrees van die Here.

Die Psalm is een van die sg. akrostiese Psalms. Die sinnetjies word elkeen na die letters van die Hebreeuse alfabet geskryf.  Dit is belangrik omdat dit wys dat die Psalmis die lied netjies in eenhede opgebou het en ‘n samehangende geheel daarvan gemaak het. ‘n Mens moet al die verskillende onderafdelings in ‘n oorkoepelende verband saamlees.

Daarom is dit interessant om te sien hoe positief vrees van die Here in die Psalm uitgewerk word. 

Die Psalm word deur sy begin en die einde ingekleur: dit begin met ‘n loflied: met sy hele hart wil die Psalmis die Here loof voor alle vroom en opregte mense. Die Psalm eindig met die opmerking dat die lof van die Here tot in alle ewigheid duur. Oral en altyd sal 'n gelowige wat God vrees, God se lof besing.

Vrees van die Here, wat so prominent is, is dus eintlik omring van en ingebed in ‘n loflied. Wie die Here vrees, kan nie anders as om God te loof nie. 

Daarom sou ‘n mens reeds nou al kon sê dat die vrees van die Here te doen het met eerbied, ontsag en verwondering.

Hoe gebeur dit dat ‘n mens die Here vrees en hoe bring dit ‘n mens tot lof? 

Die Psalmis antwoord: oor die wonderbare werke van God. Groots en heerlik is God se dade. Wie God se werke sien, herken geregtigheid, genade en barmhartigheid.

Maar die groot werke van God kan ook heel eenvoudig wees: God beskerm mense en voed hulle wat God vrees.

Tog, selfs in hul eenvoud, bly God se dade so indrukwekkend en wonderlik dat ‘n mens terugstaan met die wete dat God se “naam is heilig en vreeslik.” Vandaar dat ‘n mens leef in vrees van die Here.

Wie God se werke bedink, ervaar dat God se naam heilig en vreeslik is. Wat God doen, is anders, ongewoon, spesiaal, teen-natuurlik, oorweldigend, uitsonderlik. ‘n Mens skrik eintlik terug daarvan.

Meer hieroor later. 

Hier is die hele Psalm – die moeite werd om oor en oor herkou te word.

HALLELUJA!
Alef. Ek wil die HERE loof van ganser harte;
Bet. in die kring van die opregtes en in die vergadering.

Gimel. Die werke van die HERE is groot;
Dalet. nagespeur word hulle deur almal wat daar ’n welbehae in het.
He. Sy dade is majesteit en heerlikheid;
Wau. en sy geregtigheid bestaan tot in ewigheid.
Sajin. Hy het vir sy wonders ’n gedagtenis gestig;
Get. die HERE is genadig en barmhartig.
Tet. Aan die wat Hom vrees, het Hy spys gegee;
Jod. Hy dink vir ewig aan sy verbond.
Kaf. Hy het die krag van sy werke aan sy volk bekend gemaak,
Lamed. deur hulle die erfdeel van die heidene te gee.
Mem. Die werke van sy hande is trou en reg;

Noen. al sy bevele is betroubaar.
Samek. Vasgestel is hulle vir altyd, vir ewig;
Ajin. uitgevoer in trou en opregtheid.
Pe. Hy het aan sy volk verlossing gestuur;
Sade. Hy het sy verbond vir ewig ingestel;
Kof. sy Naam is heilig en vreeslik.

Resj. Die vrees van die HERE is die beginsel van die wysheid;
Sin. almal wat dit beoefen, het ’n goeie verstand.
Tau. Sy lof bestaan tot in ewigheid.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive