Monday, June 09, 2014

Katarina en die goddelike liefdesvuur


Katarina van Genua het op 'n dag 'n heel spesiale ervaring gehad: Dit word vertel dat sy iets van die goddelike liefde gesien het. Sy was op haar knieë toe sy skielik gevoel het asof 'n pyl van God se enorme liefde haar hart deurboor.

Dit het haar duiselig laat word en sy het bewus geword van hoe ellendig en sondig haar lewe was. Die ervaring het haar diep aangeraak. Sy het gevoel hoe iets binne in haar uitroep: ek is klaar met die wêreldse dinge, met die sondige. Die innerlike kreet kom by haar op terwyl 'n gevoel van liefde in haar brand. 

Die liefde wat in haar gebrand het, skryf haar biograaf, sou haar daartoe dryf om alles, alle moontlike wêreldse dinge weg te smyt.

Katarina, die jongste van 'n gesin van 5 uit die adelstand en getroud met 'n wreedaard van 'n man, leef van 1447-1510. Die ervaring het sy op 22 Maart 1473 gehad - toe sy al getroud was en toe sy dus 26 jaar oud was, 37 jaar voor haar dood.

Hierdie ervaring het haar lewe grondiglik omvorm. Dit het by haar 'n lewe van gebeden berou laat begin. 

Van daardie oomblik werk sy veral onder arme en siek mense, veral terminaal pasiënte in die hospitaal in Genua. Soos Moeder Teresa het sy op die strate van die staddie siekste en ellendigste van mense uitgesoek en hulle vuil, stinkende liggame gewas terwyl hulle haar soms gevloek het. Sy het hulle verpleeg en verder versorg. Vir haar was hulle nie afskuwelik nie. Sy het hulle gesien as  mense wat ontferming nodig gehad het.   

Dit was nie maklike tye vir haar om onder die siekes te werk nie, want sy het dit selfs gedoen toe twee dodelike plae die stad in 1497 en 1510 getref het.

'n Geestelike het haar toesprake en gesegdes neergeskryf. Later is dit gepubliseer as die Lewe van die Heilige Katarina van Genua. Dit was uiters gewild en is wyd in Europa gelees. 

Behalwe 'n sekere deel, wat die Inkwisisie verbied het omdat dit volgens hulle kettery bevat het. In hierdie gedeelte skryf sy hoe die goddelike liefdesvuur 'n mens toenemend suiwer van allerhande beperkinge (sien die teks by http://www.ewtn.com/library/spirit/catpur.txt).

Sy staan bekend as 'n mistikus. Maar sy is een van die vele voorbeelde van 'n mistikus wie se innerlike ervaringe van God se liefde haar na die geringstes onder die geringes en veragtes laat uitreik het.   

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive