Sunday, June 01, 2014

Die stilte lei na ...

Dikwels word Meister Eckhart aangehaal:

"Wie op die weg konsentreer, sal net die weg sien."

Hieraan dink ek elke keer as ek die baie gepraat oor stilte sien. En dink dan: wie op stilte konsentreer sal net stilte raakloop.

Maar stilte is nie die hoogste nie. 

Stilte is nie op stilte ingestel nie. 

Stilte vind immers sy sin in kontemplasie. 

Stilte is dus die weg na vrede: en, het Meister Eckhart op 'n keer gesê: "God begeer vir mense 'n hart wat in vrede leef."

Die stilte is nie oor leegheid, oor niks-heid nie, oor die mens se self-gerigtheid nie. Waar daar wel leegheid en niks-heid is nie, is dit ter voorbereiding van God wat alles in almal is.  

Stilte is steeds gerig op, en uiteindelik gevuld met die teenwoordigheid van iets groters, Iemand anders, hoër, nader.  

Die bekende lied lui immers: "wees stil ..."  

en vervolg dan met: "en weet..."

Of, in die bekende deel in 1 Konings 19:11-12 wat oor Elia se ervarings handel. 

En kyk, die HERE het verbygegaan, terwyl ‘n groot en sterk wind die berge skeur en die rotse verbreek voor die HERE uit; in die wind was die HERE nie. En ná die wind ‘n aardbewing; in die aardbewing was die HERE nie. En ná die aardbewing ‘n vuur; in die vuur was die HERE nie. En ná die vuur die gesuis van ‘n sagte koelte. 

Die geraas en die gedonder bring nie die wete nie. Eers kom die stilte - en dan, as ontplooiing van die stilte, die spreke van God. 



No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive