Saturday, June 21, 2014

Wanneer die slagoffer die boelie word. Oor die kerk en Israel

Hier in Suid-Afrika en in die kerklik wêreld sal ‘n mens gou die dieper emosies herken ten grondslag van die besluit van die Amerikaanse Presbiteriaanse kerk (VSA) om te disinvesteer van maatskappye wat Israel indirek help in hul besetting van Palestynse gebiede.
Die situasie in Palestina is hoogs emosioneel en plofbaar. Israel het met die oorlog in 1948 begin om sekere gebiede te beset. Tot so ‘n mate dat die inwoners na Jordanië moes uitwyk, waar hulle helfte van die bevolking uitmaak en dikwels in haglike omstandighede leef. In 1967 se oorlog is hierdie besetting sterk uitgebrei, hoewel Israel later sekere dele aan Egipte teruggegee het.
Die Israeli’s se onmenslike hantering en mishandeling van Palestyne is alombekend. Dit ontstel beskaafde mense oor die hele wêreld.
Aan die ander kant is daar Arabiese groepe wat daarop ingestel is om Israel as staat van die gesig van die aarde te verwyder. Israel leef daagliks onder die swaard van aanvalle. In die lig van Israel en Jode se geskiedenis, begryp vele mense waarom Israel so heftig en verbete is in onderhandelinge oor vrede en oor die toekoms van Israel as staat.
Min mense sal Israel se voortbestaan as staat bevraagteken. Maar hulle keur dit ook nie goed dat die Palestyne steeds veronreg word en aan eindelose lyding blootgestel word nie. Hulle is ontheemd, van hul land ontneem en leef in haglike omstandighede as vlugtelinge.
Dit is ‘n hoogs komplekse situasie. Wat egter deesdae uitstaan en begin om ongeduld te genereer, is dat Israel op ‘n aggressiewe manier nedersettings oprig in die besette gebiede. Dit roep woede, agterdog en verbittering by die vlugtelinge op en ontstel mense wat soek na vrede in die gebiede.
Oor die wêreld heen is mense gefrustreerd omdat die situasie nie verbeter nie. Die lyding van miljoene mense lyk of dit soms net erger word.
In die lig van hierdie gesloer en selfs verslegting van die situasie, neem mense hulle toevlug tot ekonomiese sanksies teen Israel.
Die Presbiteriaanse Kerk het wel nie aangesluit by ‘n internasionale beweging bekend as BDS: boikot, disinvestering en sanksies nie, al is hul besluit, so pas geneem by hul sinode, om hul beleggings van R210 miljoen rand in drie belangrike en groot maatskappye (Caterpillar, Motorola en Hewlett-Packard) op te sê.
Die kerke neem die besluit omdat die maatskappy aan Israel produkte verskaf wat Israel se besetting van Palestynse gebiede ondersteun.
Die debat was hoogs intens en die besluit is met ‘n meerderheid van 7 stemme (310/307) aanvaar. Soortgelyke voorstelle is in die verlede verwerp.
Die Presbiteriaanse kerk is invloedryk weens sy geskiedenis en die lidmaatskap van verskeie Amerikaanse presidente. Dus het Joodse leiers en meningsvormers die debat goed dopgehou en probeer beïnvloed.  Hulle herken in die proses die toenemende druk op Israel om hul beleid in die besette gebiede te hersien. 
Die besluit is nie net negatief nie. Die kerk het, heel versigtig, beklemtoon dat Israel alle reg het om as staat te bestaan. Maar dit wil ook ‘n Palestynse staat naas Israel sien. Die kerk moedig sy lidmate aan om na Israel te reis, maar ook om in gesprek met ander godsdienste te tree. 
Wat so opvallend is en sterk na vore kom in vandag se NYT-berig oor die saak, is dat die kerk beïnvloed is deur Joodse gelowiges. Hulle was ook by die sinode en het as Jode beklemtoon dat Israel deur sulke besluite gedwing moet word om dieper na te dink oor sy besetting van Palestynse gebiede.

Waarom is die berig vir my so belangrik?

‘n Mens sien en hoor daagliks van mense wat Israel besoek en diep godsdienstige gevoelens daar ervaar. Hulle besoek al die bekende en hoogs belangrike plekke wat besondere betekenis vir gelowiges het.

Hulle kom terug en deel graag die indrukwekkende getuienis.

Maar hulle is dikwels onbewus van die menslike tragedie wat in Israel aan die afspeel is: die lot van miljoene ontheemde mense, die landvergrype van die Israeliese regering deur hul nedersettingsbeleid, die bedreiging wat so ‘n beleid vir vrede inhou en die ongekende hardhandigheid waarmee Palestyne behandel word.

Die kerk in ons land sal ook hieroor ‘n woord moet spreek. Al is dit net omdat ons uit ‘n verlede kom wat gewys het dat ‘n beleid van verontregting tot almal se nadeel en vernietiging strek. Nie net die slagoffers nie, maar ook die maghebbers verloor hul menslikheid en waardigheid solank as wat onreg geperpetreer word.

Terwyl lidmate so sterk voel oor besoeke aan Israel, het die kerk ‘n taak om hulle op die groter, strukturele probleme in die land te wys. Elke keer as hulle die heilige land besoek of oor Israel praat, moet hulle weet van miljoene mense wat deur Israel se optrede in ellende en in ‘n situasie van onreg gehou word.

Daarmee sal die kerk nie Jode loslaat nie. Die verskriklike geskiedenis van die Jodedom en die vernietigende rol van anti-Semitisme kan nie vergeet word nie. In vele opsigte het dit tot die huidige stemming in Israel bygedra.

Maar die kerk sal ‘n profetiese woord spreek juis om te keer dat die staat Israel, ook as bewaarder van die Joodse erfenis, verval tot ‘n rol van uitbuiter en pleger van onreg.

Dit word dan ‘n besluit wat nie teen Jode gerig is nie, maar juis aansluit by wat vele Jode toenemend vra. Dit word ‘n besluit wat juis baie Jode ondersteun wat bekommerd is oor die rol van die staat in hul land.

Lees die interesante berig hier:



No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive