HERE,
my hart is nie hoogmoedig
en
my oë nie verwaand nie.
Ek
hou my nie besig met groot dade
of
wonderwerke bo my vermoë nie.
2
Nee, ek het my gemoed tot kalmte en bedaring gebring.
Soos
'n kindjie by sy ma, soos 'n kindjie, is my gemoed in my.
3
Israel, vestig jou hoop op die HERE,
van
nou af en vir altyd.
‘n
Kalm en bedaarde gemoed – dit is die hart van Psalm 131 se inhoud.
Die
Psalm is ‘n vroue-lied – met vroue-beelde oor ‘n ma wat ‘n kindjie vashou en
sien hoe rustig die baba by haar lê – so spekuleer Waaijman daaroor.
Ons het in die Psalm te doen met nugtere mistiek: daardie intieme
verhouding met die Here wat so ‘n nabyheid met God weerspieël dat dit genoeg is
om ‘n mens se alledaagse lewe ryk en vol te maak.
Want dit bring die Kalmte. Hierdie kalmte vertel van ‘n lewe deurtrek met
eenvoud. Die vroue-beelde en vroulike stem van die skrywer vertel van iemand
wat met haar geloofsvoete in die werklikheid, die alledaagse ingeplant is. Dit vertel
van ‘n gewone lewe wat sinvol in God se teenwoordigheid geleef word.
By God is ek in my gewone bestaan soos ‘n kindjie by haar ma. Tevrede,
gerus, gevoed, versorg, kalm, bedaard.
Die kalm mens se lewe ken nie aanstellerigheid nie. Hoogmoed en
verwaandheid ontbreek daarin. Daar is nie ‘n geywer vir die groot dinge nie en
daar is geen passie om uit te styg bo wat moontlik is nie. Eenvoudig lewe met
‘n stil bestaan is goed genoeg.
Nee, die groot dinge is onnodig: wat saak maak is kalmte en bedaardheid.
Hoe word dit alles moontlik? Die antwoord kom aan die einde van die kort,
kragtige Psalm: die lewe van eenvoud kom deur op die Here te hoop.
Dáárin, in die hoop, vertroue en kalmte,
kom die werklike grootse dinge tot stand. Net vertroue op die Here tel.
Niks anders gee vastigheid nie.
En om op die Here te hoop beteken om te wag, geduldig te wees. Dit beteken
om te wag.
Wie op die Here wag…
Maar dit is nie ‘n lustelose, lui rondlê in verveling nie. Daar is iets
gretigs, iets inspannends, iets betowerends in hierdie afwagting. Maar daar is
ook ‘n gerustheid, ‘n berusting, ‘n afwagting: die inspanning is om te sien wat
die Here gaan doen, die kalm wete is vertroue dat God sal werk.
Daarom skryf die sanger die Psalm: kalmte moet besing word, gesoek word,
is die vrug van die verlangende hart wat bly sing oor en vir God.
Dit is ‘n pelgrimslied. Op pad van die tempel om by God te aanbid, sing
die begerige hart hierdie gebed.
Vol afwagting, vol vertroue, vol spanning, vol intensiteit is ‘n mens se
verhouding met God: in die gewone lewe sal die mens wat weet waar sy of haar
krag vandaan kom, nie vasval by die buitengewone, of by die kwaad nie, maar sal
‘n mens se aandag by die grotere, diepere wees.
Al wat tel is daardie grondhouding: eerbied, agting, of, soos van oudsher
gesê is, vrees vir die Here.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.