Sunday, June 29, 2014

Lewensblydskap met of sonder gedans


Die wêreldbeker blink uit deur die baie doelskoppe wat spelers reeds geskiet het (136 in die eerste rondte).

En dan vier die manne grootliks.

Een vertel watter ekstase dit bring: ‘n mens weet nie altyd jy het die doel ingeskiet nie. Dit dring eers daarna tot jou deur. En dan, in so ‘n wêreldtoernooi, met al die drama van oordonderende lawaai deur die skare en met die wete van watter prestasie dit is, loop die adrenalien hoog.

Ongebreideld is die feesviering na so ‘n doel.

Iemand skryf in vandag se NYT hoe anders dit is as in die stywe, bedeesde Amerika en hoe verfrissend ‘n mens die spelers uit alle wêrelddele se passie in Suid-Amerika ervaar.

In Amerika moet jy nie te veel feesvier nie:

“Lyk asof jy dit al vantevore reggekry het”,  lui die berig.

Die Hollanders sal sê: Doen maar gewoon. Hulle kan net so styf soos Amerikaners en Afrikaners wees.

Ek dink onwillekeurig aan hoe ons gradedagplegtighede altyd verloop het: stil, stemmig, ordentlik, in orde en alles mooi beleef en ingetoë.

En toe kom die demokrasie en nuwe administrateurs van universiteite en die “nuwe” Suid-Afrika se gradeplegtighede met ouers wat jodel en opspring en hul kinders luidkeels besing.

Hoe verontwaardig was sommiges nie.

Kulturele verskille. Skryf die NYT: toe die bekende Amerikaanse sportster, Tim Duncan, vir die vyfde keer deel was van ‘n groot sport-oorwinning, het hy skaars geglimlag.

Dit is deel van die kultuur in daardie sportwêreld. Uitbundige vieringe is bietjie verdag. Trouens, die beheerliggaam van een sport beboet hulle spelers met R5000 as hulle te wild aangaan: dit word dan, volgens hulle sining, uitdagende gedrag en oordadige feesvierings.

Dit is reëls, skryf die artikel, wat die Puriteine sou waardeer.

Puriteine het nie ‘n goeie naam nie. En ‘n Puriteinse streep loop inderdaad sterk deur vele kulture in die Weste.

Hier is ‘n paragraaf uit die artikel:

The N.F.L. probably has the most celebrations in American sports, but the rule book discourages nearly all of them. It is considered excessive celebration if “two or more players engage in prolonged, excessive, premeditated or choreographed celebrations.” Individual players are strictly barred from “prolonged gyrations.”

Sommige van ons minder beheersdes sal van suurvye praat as hulle sulke reëls lees. Daar is ander leliker woorde vir mense wat nie in staat is om blydskap aan die lewe te hê nie.

Mense het immers ‘n groot behoefte aan blydskap.

Maar hoe nou? Lewensvreugde kan uitbundig beleef word. Met groot gestorm na ‘n doel, met danspassies van die span, met gebare van die speler aan sy geliefde en sy vrou.

Wat dit so interessant maak, is hoe die vreugde uitgedruk word. En dit is dan dat die dieper dinge na vore kom. Die Argentynse sokker-ikoon, Messi, suig na sy doelpunte aan sy duim ter erkenning van sy kinders. Ander spelers soen hulle ringvingers as erkenning van hulle vroue.

Uitbundige lewensvreugde, blydskap oor prestasie, maar ook ‘n interessante openbaring wat vir ‘n speler werklike belangrik is. Op een van jou blyste oomblikke, met een van jou topprestasies, neem jy jou familie saam met jou.

Dit is lewensvreugde wat oor jou kom in ‘n gevoel van blydskap, verbintenis met en liefde vir mense om jou en naby aan jou. Gedeelde vreugde. Gerig op ander, ‘n gawe van jou prestasie vir hulle wat vir jou belangrik is.

En tog, is dit ook weer ‘n vraag of uitbundigheid noodwendig vreugde wys. Neem maar hoe “stiller” die rugby in ons midde loop. En tog:  wat van die speler wat sierlik sy drie gaan druk – onnodig meters deur die lug duik om sy punte aan te teken? Dit is tog ‘n mooi, bedekte manier om die afronding te vier? Of die speler wat stil-weg ‘n vinger in die lug steek, erkentelik?

Lewensvreugde kan op baie maniere beleef word. Ook op  ‘n gradeplegtigheid waar daar nie gejodel word nie. Waar daar ‘n foto geneem word en in die sitkamer sy plekkie kry, of, die familie-ete daarna, of die sertifikaat teen die muur – netjies geraam…

Wat dus tel is dat ‘n mens daardie blydskap sal soek en beleef – hoe maak nie saak nie. Daardie innerlike, stil blydskap is immers durend. Die wete moet gesoek, verlang word: om alles met vreugde te ontvang: Soms miskien uitbundig, soms selfs met ‘n hartseer – maar altyd bewustelik beleef word oor die wonder van die lewe. 

Dit kan suiwer vreugde, puriteinse blydskap word…


No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive