Die dogtertjie wat die ma gaan haal om aan die onbekende man vir R80 te verkoop, is maar agt jaar oud.
Haar familie leef in ’n allerellendigste hut in die verre platteland. Toe die koper opdaag, staan die groepie voor hulle vervalle blyplek in ’n rytjie: ma en kinders - ’n swermpie van verwese mense.
Die vreemdeling wat maak of hy die kind wil koop, is ’n misdaadverslaggewer wat ’n film skiet oor die skending van kinderregte in ontwikkelende lande.
Hy wys beelde hoedat kinders van agtuur soggens tot agtuur in die aand in ’n klerefabriek werk. Hulle werk in ’n allervieslike plek waar hulle slaap en eet.
Hulle ouers het hulle ook vir ’n skrale bedrag verkoop en hulle kry R10 per maand vir die werk wat hulle 12 uur lank per dag doen.
Vyftienduisend kinders, net in Nepal, leef en werk in slawerny. Hulle is soms so jonk as 8 jaar, werk lang ure, gaan nie skool toe nie en sien hulle ouers nie. Hulle word mishandel, seksueel misbruik en soms nie eers betaal nie. Soms, as hulle bevry word en na hul ouershuise teruggeneem word, word hulle weer as slawe verkoop.
Hulle ouers het hulle gewillig in die slawerny verkoop om skuld te dek of om lenings aan te gaan. Nie net kry die kind dan geen salaris nie, maar moet boonop die geld wat hul ouers geleen het, terug betaal.
Dit is teen die wet, maar niemand pas die wet toe nie. Die polisie, die politici, selfs professionele mense soos onderwysers, het almal sulke kinders wat vir hulle werk.
Stilswygend, ten spyte van die wet, neem die samelewing gretig deel aan die bedryf van kinderslawerny.
Die vreemdeling, ’n bekende ondersoekende joernalis, het tydens sy rit deur ’n kontak gehoor dat hy vir hom dieselfde dag nog na ’n familie kan neem wat hulle kind aan hom sal verkoop. So maklik is dit. Sonder enige formaliteite.
Sy televisiespan volg die wenk op en reis drie uur lank na die verafgeleë oord.
Die ma huiwer nie ’n oomblik toe die joernalis vir haar vra of hy die kind kan koop nie. Trouens, sy gee toestemming dat die man die kind sommer dadelik kan wegneem.
Toe hy die dogtertjie van agt jaar vra of sy wil saamgaan Timboektoe toe, praat die ma haar voor om ja te sê. Terwyl hulle nog aan die “onderhandel" is, groet die dogtertjies se kleiner boeties en sussies haar al: hulle sit hulle armpies om haar nek en gee haar ligte drukkies.
Die families wat hulle kinders verkoop, leef almal in allerellendige armoede.
Maar kan armoede ’n ma dryf om haar kind vir R10 te verkoop aan ’n man wat sy van geen kant af ken nie en wat op ’n dag net by haar huis opdaag om die kind weg te neem?
Vyftienduisend kinders in Nepal leef in kinderslawerny. In die een-en-twintigste eeu.
Die Nederlandse joernalis reël met die ma van die agtjarige dogtertjie dat hy haar die volgende dag sal gaan haal. Hulle wil kyk of sy haar dalk bedink.
Daar gekom, staan die ma gereed en kom die kind uit die hut uit. Sy dra ’n vuil rugsakkie waarin haar klere is: ’n rokkie en ’n broekie.
Hulle is reg om die transaksie af te sluit.
Daar gekom, staan die ma gereed en kom die kind uit die hut uit. Sy dra ’n vuil rugsakkie waarin haar klere is: ’n rokkie en ’n broekie.
Hulle is reg om die transaksie af te sluit.
Aan die einde van die program wys hulle hoe die Nederlanders die familie help om ’n varkboerdery te begin. Hulle reël dat die kinders almal skool toe gaan en wys die foto van hulle in ’n blou skoolklere - met das en al.
Uitkoms vir een familie. Maar wat van die vyftienduisend? En almal wat nog verkoop sal word.
Ek gaan vanaand slaap met die beeld in my kop van die boeties en sussies wat hul sussie van agt jaar met ’n drukkie omhels voordat sy van hulle weggeneem word.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.