Tuesday, June 17, 2014

Vas is die hart...



 In Psalm 111 word die vrees van die Here die beginsel van wysheid genoem. Wie die Here vrees, vertel die Psalm, vier die lewe en loof God van ganser harte. 

Die rede is duidelik: 'n Mens vier die lewe met verwondering omdat  God is wonder-lik goed, genadig en barmhartig.

Vrees van die Here het dus in die Psalm nie ‘n betekenis van angs nie, maar van eerbied en ontsag. Dit wek by 'n mens verwondering op.

In Psalm 112 (sien die vorige blog) kry ‘n mens ook ‘n akrostiese lied. Albei gaan oor die vrees van die Here en albei verbind dit met die wonderlike. Die twee Psalms moet dus saam gelees word. 

Hulle is twee kante van een munt. 

Psalm 112 begin met die positiewe uitspraak: Geseënd is die mens wat die Here vrees, wat ‘n welbehae in die Here se gebooie het. 

In die res van die Psalm word hierdie godvresende mens beskryf as ‘n regverdige mens wat omgee vir ander. Hy is ‘n mens wat vol ontferming is.

Hierdie godvresende mens lyk soos die genadige, barmhartige en regverdige God wat wonderlike dinge doen waarvan Psalm 111 vertel.

Die mens van Psalm 111 is die ewebeeld van die God van Psalm 112.

Wie die godvresende mens sien, ervaar God se teenwoordigheid in hul lewe. Die mens wat in ontsag voor God staan, word vir ander ‘n Lig, ‘n wonder-like teken van God wat in ‘n mens se lewe inwoon en wat ‘n mens transformeer om soos God te lyk.

Elke woord in Psalm 112 vertel van die seën wat vloei uit die lewe van ‘n mens wat naby aan God woon: die seën is altyd daar. Die mens wankel nie, vrees nie die slegte tyding nie, leef met ‘n geruste hart, het ‘n lewe wat gevul is met vertroue op God.

Alles eenvoudige dinge wat met God se seën deurtrek is.

Dit is volmaakte wederkerigheid: God verander mense so deurgrondelik dat mense God se Lig in die wêreld word. Wie in ontsag lewe en wie se lewe deurtrek is met eerbied, bemiddel God se teenwoordigheid onder hulle wat angstig is, tekort het, verlate voel en verlang na ewige goedheid. 

Hier is die Psalm:

1 HALLELUJA!
Alef. Welgeluksalig is die man wat die Here vrees,
Bet. wat ’n groot welbehae in sy gebooie het.
2 Gimel. Sy nageslag sal geweldig wees op die aarde;
Dalet. die geslag van die opregtes sal geseën word.
3 He. Oorvloed en rykdom is in sy huis;
Wau. en sy geregtigheid bestaan tot in ewigheid.
4 Sajin. Vir die opregtes gaan Hy op as ’n lig in die duisternis:
Get. genadig en barmhartig en regverdig.
5 Tet. Gelukkig die man wat hom ontferm en uitleen,
Jod. wat sy sake volgens reg besorg.
6 Kaf. Want hy sal nooit wankel nie;
Lamed. die regverdige sal in ewige gedagtenis wees.
7 Mem. Hy vrees nie vir slegte tyding nie;
Noen. sy hart is gerus, vol vertroue op die Here.
8 Samek. Vas is sy hart, hy vrees nie,
Ajin. totdat hy op sy teëstanders neersien.
9 Pe. Hy strooi uit, hy gee aan die behoeftiges; Sade.
sy geregtigheid bestaan tot in ewigheid;
Kof. sy horing word verhoog in eer.
10 Resj. Die goddelose sien dit en is vererg;
Sjin. hy kners met sy tande en smelt weg; Tau. die begeerte van die goddelose mense vergaan.


No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive