Tuesday, March 09, 2010

Boeke

Ek kry dikwels versoeke van mense oor boeke op die terrein van spiritualiteit. Veral omdat daar so baie verskillende opvattinge van spiritualiteit is, is dit vir iemand wat nuut is nie altyd maklik om werke te vind wat binne die hoofstroom van spiritualiteit bly en wat 'n mens aan spiritualiteit in die egte sin van die woord sal bekend stel.

Mense verstaan onder spiritualiteit baie verskillende dinge en die allervreemdste boeke word onder die naam van spiritualiteit geskrywe. Terwyl spiritualiteit 'n deurslaggewende, belangrike en groeiende beweging in ons tyd is, is dit daarom van groot belang om uit te kom by dit wat werklik spiritualiteit is en om nie vas te val in allerhande randverskynsels op die terrein nie.

Ek wil dus van nou af graag van tyd tot tyd 'n bepaalde boek aanbeveel vir mense wat kennis wil maak met goeie literatuur oor spiritualiteit. Ek gaan veral konsentreer op boeke wat deur gevestigde en gerekende persone op die terrein van spiritualiteit geskryf is. Daarby bedoel ek mense wat gereken word as uitstaande kenners in die gebied.

Spiritualiteit is letterlik twintig eeue oud. Dit het 'n baie lang geskiedenis van mense wat oor eeue heen die geestelike lewenskuns opgesoek het. Onder hulle tel van die grootste name op die gebied van die godsdiens. Dit sluit in groepe en mense soos die Woestyn-vaders, die Benediktyne, Augustinus, Dionusios die Areopagiet, Jan (of Johannes) van die Kruis, Ruusbroec, Meister Eckhart. Thomas a Kempis en nog vele, vele ander. Juis omdat dit so 'wye veld is, is dit baie moeilik om 'n goeie inleiding daaroor te vind vir mense wat nog vars is en graag 'n betroubare oorsig wil lees.

In ons land en in die Protestantisme is groot dele van hierdie geskiedenis vir ons onbekend of verwarrend, want ons het meestal net in ons eie tradisie gelees (Calvyn, Luther en latere skrywers). Maar die hooffigure in die Protestantisme soos Calvyn en Luther het die spiritualiteitstekste goed geken en dikwels daaroor geskryf - waarderend, maar ook krities. Terwyl hulle die geskiedenis goed geken het, het dit dikwels gebeur dat latere geslagte onkundig was of verdraaide insigte daaroor gehad het.

Daar is nie baie kort inleidende werke wat 'n mens 'n baie basiese verwysingsraamwerk vir die verstaan van die geskiedenis van spiritualiteit kan gee nie. Gewoonlik moet 'n mens kies tussen dik ensiklopediese werke. Daar is egter een orienterende werk wat nuttig is, maar wat terselfdertyd baie betroubaar is omdat dit deur 'n gesoute historikus en gerekende spiritualiteitskrywer geskryf is. Phililp Sheldrake was professor aan die Universiteit van Durham en is een van die senior spesialiste op die gebied van spiritualiteit. Hy het verskeie belangrike posisies en ampte beklee.

In 2007 verskyn sy "A Brief History of Spirituality" by Blackwell in Engeland. Die sagteband van 250 bladsy begin met 'n definisie van spiritualiteit, bespreek daarna die begin en grondslae van spiritualiteit en belig daarna vyf groot era's in die geskiedenis van spiritualiteit. Sy gedeelte oor spiritualiteit in die tyd van die Reformasie bespreek byvoorbeeld onder andere Calvyn en Gereformeerde spiritualiteit, Anabaptiste spiritualiteit, Anglikaanse spiritualiteit, die belangrike sewentiende eeuse Franse spiritualiteit. Hy sluit die boek af met 'n gedeelte oor moderne spiritualiteit waarin hy sulke belangrike temas en mense soos Thomas Merton, Simone Weil, Dorothy Day, Bede Griffiths en charismatiese spiritualiteit beskryf.

Ek het lank getwyfel oor watter beginnersboek die beste sou werk. Daar is nie veel nie, maar daar is nog een ander uitsonderlike boek wat ek spoedig sal noem. Uiteindelik is hierdie werk van Sheldrake so belangrik omdat dit klassieke Spiritualiteit bespreek, maar ook uitvoerig kyk na spiritualiteit in die twintigste eeu. Op die manier kan 'n mens sien watter nuwe vorme spiritualiteit aangeneem het en hoe lewendig dit nog in ons tyd is. Origens skryf hy helder, toeganklik en verstaanbaar in 'n vloeiende styl. Hy is in staat om kernagtig die belangrike insigte van 'n bepaalde tradisie of persoon saam te vat.

'n Mens kan spiritualiteit op baie maniere begin studeer. Een goeie manier is om te gaan kyk na wat deur die geskiedenis heen oor spiritualiteit geskryf is. Deur die groot skrywers oor spiritualiteit te bestudeer, kry 'n mens spoedig 'n idee van hoe spiritualiteit verstaan moet word. Die groot geheim is natuurlik om nie net te kyk wat alles "oor" spiritualiteitstekste geskryf word nie, maar om uiteindelik hierdie skrywers self te lees. As 'n mens in Sheldrake se studie al die groot name raaklees, is die volgende taak om hierdie beroemde name se werke self op te soek en te lees. Gelukkig is baie van hulle verniet op die internet te lees. Omdat hulle sulke ou werke is, is hulle goed vertaal en gepubliseer. Soms is dit 'n wonderlike ervaring om sulke tekste te kan lees. Aan die een kant kan hulle "vreemd" en "anders" wees, maar aan die ander kant kom 'n mens agter hoe mense deur eeue heen op 'n spesiale manier beleef het dat God hulle aanraak en hulle opneem in 'n lang proses van transformasie.

Dus - vir 'n begin word Sheldrake aanbeveel. Sheldrake sal hopelik volgende jaar ons land besoek. Hy het reeds ingestem om dit te doen. Spirasa (die Spiritualiteit Assosiasie van Suid-Afrika) sal sy besoek organiseer. Skryf aan spirasa@gmail.com om op hulle adreslys geplaas te word. Des te meer rede om hierdie verfrissende werkie aan te skaf en deur te lees.

Tans is die werk by Kalahari teen 'n afslag beskikbaar. Volg net die link:



KLIEK HIER OM TE BESTEL: A Brief History of Spirituality







Die ander boek sal ek nog by kom. En die beloofde bespreking van die jongman in Markus volg spoedig

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive