Friday, March 05, 2010

Om jou innerlike demone te besweer.

Ons lewe is deurdrenk met begeertes en behoeftes. Ons het by tye innerlike gevoelens wat hulle aan ons opdring wat ons ongemaklik maak, ons bedreigd laat voel of ons laat struikel. En dikwels word ons lewe gedryf deur aardse begeertes en drange wat nie ontsien om ander mense seer te maak of te gebruik tot ons eie voordeel en genot nie. Ons het ook party keer die behoefte om ander by te kom, veral waar hulle nie self teenwoordig is nie. Of ons sit met innerlike gevoelens van self-veroordeling omdat ons skuldig voel oor dinge wat ons dink en doen.

Ons hanteer hierdie innerlike gevoelens en begeertes op verskillende maniere. Ons kan dit onderdruk omdat ons nie van hulle hou nie of omdat ons bang is vir die gevolge as ons daaraan toegee. Mense moet tog nie dink ons is swakkelinge nie – daarom praat ek nie oor my innerlike angs nie. Of: ek kan nie nou bekostig om aan my drange toe te gee nie. Dit sal verskriklike gevolge vir my hê. Ons redeneer dan ons sal veroordeel word deur ander mense wat dink dit is sondig. Dit is nie maklik om so self-beheersd te wees nie. In sommige gevalle gebeur dit dat mense versoekings beveg deur weg te bly van foto’s wat hulle kan prikkel of plekke waar hulle in die versoeking kan kom. Hulle lewe dan ‘n lewe van vrees en ontkenning. Hoewel dit beslis ‘n manier is om negatiewe gevoelens te hanteer, is dit nie werklik ‘n durende oplossing nie. Dit is nie altyd moontlik om sekere behoeftes en gevoelens te onderdruk nie, veral nie as dit ‘n natuurlike behoefte is nie. Want sulke intense gevoelens broei in die binneste en een of ander tyd of plek borrel dit so sterk na buite dat dit nie gestuit kan word nie. Dit kan iewers ‘n ongesonde manier van lewe word. Daarom is dit wys om juis op ander maniere met ons innerlike gedagtes, behoeftes en emosies om te gaan.

Daarom redeneer sommige mense ons moet eerder sulke intense gevoelens omkeer deur dit te vervang met iets in die plek daarvan. ‘n Kind wat gil omdat hy of sy ‘n lekker wil hê, se aandag kan afgelei word deur eerder vir hom ‘n speelding soos ‘n ballon te gee. Ons aandag word as te ware afgetrek van ons behoeftes. As ek angstig is, is dit dan goed om uit te gaan, mense op te soek, met vakansie te vertrek of in ‘n situasie te kom waar ek veilig en geborge voel. Hier word aandag afgetrek van negatiewe gevoelens.

Die beste manier om potensieel vernietigende begeertes te hanteer is om hulle te transformeer. Dit is amper soos met oefening: as ‘n mens ‘n ligament geskeur het en jou liggaam vra van jou oefening, weet ons dit is dwaas om te gaan draf. ‘n Mens weet egter goed daar is ‘n behoefte aan adrenalien. Die liggaam sê vir ‘n mens dit wil gesond bly. ‘n Mens kan daardie energie verstandig hanteer deur te gaan swem omdat die ligamente nie deur swem verder sal seerkry nie. Die behoefte word erken en werk word gemaak om daardie energie in die regte rigting te stuur.

In hierdie proses gebeur dit dat ek my gevoelens ontleed, analiseer, verstaan en hulle dan in ‘n rigting stuur wat ‘n positiewe, helende uitwerking het. Dit is amper die moeilikste om te doen want ek moet die geweldige krag van my begeertes kan ombuig in ‘n rigting wat positiewe gevolge sal hê.

Heel prakties beteken dit dat ‘n mens jou begeertes sal stuur in ‘n rigting wat vir jou belangrik is en wat vir jou innerlike rus sal gee. Dit kan op ‘n groot skaal gebeur dat ‘n mens ‘n klomp energie spandeer om uit te kom by plekke en mense wat saam met jou die goeie reis kan aflê en ‘n mens help om in ‘n vol, ryk lewe opgeneem te word. Dit gebeur byvoorbeeld wanneer ‘n mens ‘n aktiewe geestelike lewe opsoek. Heel prakties kan dit plaasvind deur te bid, deur geestelike of waardevolle werke te lees, deur by opheffingswerk betrokke te raak, deel te word van ‘n geloofsgemeenskap, deur opheffende mense te leer ken, deur plekke op te soek wat ‘n mens gelukkig maak en verryk met die dieper dinge in die lewe. Geestelike oefening, het spiritualiteit deur die eeue geleer, kan die energie wat in ons drange en begeertes opgesluit is, ontsluit en sterker maak as dit in ‘n geestelike konteks ingetrek word. ‘n Mens veredel hierdeur ook jou innerlike gevoelens wanneer jy jouself eerlik bekyk, besef wat dit is wat jou gevoelens laat handuit ruk en dan geleidelik daarmee op reis gaan op so ‘n manier dat wat in jou goed is, werklik ten volle sal groei en uitbot. ‘n Mens kan negatiewe gevoelens en angste nie uitwis nie, maar ‘n mens kan hulle aanvat, in die gesig kyk, hulle saam met jou na die goeie plekke neem en uiteindelik gebruik tot eer van God.

Een pragtige voorbeeld wat die afgelope tye by my vassteek is negatiewe gevoelens oor ander mense wat van ons dikwels sulke negatiewe, veroordelende kwaadpraters maak. Dikwels is ‘n mens in ‘n konteks dat slegte dinge oor ander gepraat word, dat jy saampraat en dat jy daarna jammer voel jy het dit gedoen. Iewers bly in jou gemoed ‘n onvrede hang omdat jy weet dit is nie goed om dit te doen nie. In die mistagogie sou die wyse begeleier aanraai dat ‘n mens in so ‘n situasie sal soek om die goed in ander raak te sien en te noem. Wanneer ‘n mens dan wel oor ander mense wil praat, energie wil instort in wat ons van ander mense sien en dink en sê, laat dit ten minste wees op dit wat hulle goed doen. En, sou die begeleier sê, dit gebeur altyd dat so ‘n goedgesindheid, as dit eers een maal gedoen word, soveel vrede in ‘n mens se lewe indra, dat dit in jou gesprekke herhaal word en sterker uitgebou word. Later word dit ‘n leefstyl wat negatiewe gevoelens in jou jeens ander mense al hoe moeiliker toelaat. Die energie wat in gesprekke oor ander mense ingaan, word omgebuig om die goeie oor hulle te dink, te sê en dit dan selfs sover te neem dat ‘n mens hulle komplimenteer.

In ons stukkende maatskappy en in ons ongelukkig binneste waar ons gedagtes en begeertes in soveel ongelukkige rigtings gestuur word, is dit dubbel moeilik vir ‘n mens om die regte ding te doen. Trouens, soms dink ‘n mens dit gebeur net as die Heilige Gees in ‘n mens se lewe ingryp. En tog: het ons dan nie die belofte dat hulle wat op die Here wag, krag sal ontvang nie? En is die uiteinde van ‘n lewe van self-beheersing tog nie die vrede wat alle verstand te bowe gaan nie? Die goddelike werking van ‘n transformerende lewe het soms ‘n baie “gewone” gesig: Vrede wat ‘n mens ervaar omdat jy doen wat reg en goed is, omdat jy die vernietigende energie in jou omgebuig het, kom nie maklik nie. Dit is ‘n proses van groei wat geduld en toewyding vra. Maar as ‘n mens die reis begin het, is die vrede nie die einde van die pad wat ‘n mens moeisaam loop nie. Elke klein treetjie in die regte rigting laat ‘n mens goed voel en laat ‘n stukkie vrede in jou los. Iewers is dit pain for gain, pyn wat plesier gee. Daarom is hierdie proses ‘n vorming wat ons aangryp omdat dit ons vry maak. Dit word uiteindelik iets wat ‘n mens wil doen – nie ‘n swaar las wat om jou hang nie. Daar is niks wat ‘n mens so vry maak en so goed laat slaap as wanneer ‘n mens jou innerlike demone besweer het. Jesus het dit ook gedoen. En die uiteinde daarvan was sy tyd in die paradys (Mk.1:13). ‘n Mens wat haar of sy gevoelens en emosies kan heilig, straal ‘n volwassenheid en ‘n vrede uit. Dit is die mens by wie ander wil wees omdat hulle gelukkig by hulle voel. Hy of sy word daarmee ‘n magneet wat ander aantrek na die dieper dinge deurdat hulle wys ‘n mens het die innerlike vermoë om gelukkig te wees.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive