Thursday, March 18, 2010

'n Mens kan God se goedheid sien sonder om dit te beleef. Oor die besetene van Gerasa

Die genesing van die besetene van Gerasa is ryk aan betekenis. Dit is 'n verhaal wat die buitengewone krag van Jesus illustreer.

Die genesing van die besetene is dramaties. Sy duiwels word in ‘n trop varke gejaag en hulle storm oor ‘n krans om in die see te verdrink. Markus spandeer nie minder as vier langerige verse (uit die 20 verse) om te vertel hoe die Legio duiwels uiteindelik deur Jesus se sterkere mag oorwin word nie.

Vers 15 vertel hoe die varkwagters die mense in die stad daarvan gaan vertel het. Maar dit is vers 16 wat ‘n mens verras. Die mense is bevrees eers as hulle by Jesus kom en die besetene by hom aantref.

Wat maak hulle bevrees?

Die antwoord hierop is nie so maklik om te kry soos wat dit lyk nie. ‘n Mens kan die simboliek van die verhaal miskyk tensy 'n mens weet dat Markus heel dikwels doodnormale dinge gebruik om 'n dieper boodskap uit te beeld.


Dit lyk so eenvoudig: Die stadsbewoners hoor van die wonder en gaan uit om te sien wat aangaan. Hulle tref die besetene by Jesus aan en merk veral drie dinge op. Hy "sit", "gekleed" en "by sy verstand" by Jesus. Maar elkeen van hierdie motiewe vertel eintlik 'n eie verhaal. Ons merk dit in die manier waarop Markus die drie motiewe netjies langs mekaar rangskik. Hy gebruik heel berekenend drie Griekse woorde (καθήμενον ἱματισμένον καὶ σωφρονοῦντα: sittende, gekleed, by sy verstand):

1. Hy “sit.” Nou, sou 'n mens kon vra, wat is dan so spesiaal hieraan? Om te sit is doodgewoon. Maar in die geval van die besetene is dit uiters veelseggend. Die man wat dae lank teen die berge en grafte geskreeu het en wild in die begraafplaas rondgehardloop sodat niemand hom kon boei of tem nie, is nou, na sy genesing, rustig. Jesus het hom getem! Hy is vir die eerste keer onder beheer. Dit wat niemand anders kon regkry nie, het Jesus reggekry. Dit is ‘n merkwaardige transformasie: die wilde man word die rustige een wat by Jesus sit). Meer nog: Hy het tussen onrein grafte gewoon (vers 2). Daar waar geen mens dit sou waag nie, het hy sy lewe deurgebring. Nou sit hy in die teenwoordigheid van die Heilige - die Seun van die Allerhoogste God (soos hy self vir Jesus beskryf het). (In Lukas 8:35 staan daar dat hy "aan die voete van Jesus gesit het.")

2. Hy is “gekleed.” Dit klink ook heel gewoon. Maar ook hierin het die besetene ‘n transformasie ondergaan – in vers 5 staan daar dat hy hom met klippe stukkend gekap het. Die leser weet dus – hy was nakend gewees. In Lukas 5:27 word die verhaal van die besetene ook vertel en uitdruklik aangeteken dat "hy geen klere gedra het nie." Vir Joodse lesers sou die prentjie van ‘n naakte man die toonbeeld van skandelike verval wees. Dat hy gekleed is, is 'n teken van sy heling. Hy is 'n mens wat in die teenwoordigheid van die Heilige kan wees. Daar is niks onreins aan hom nie.

3. Hy is by sy volle verstand. Teenoor sy vorige toestand van waansinnigheid, word hy nou geteken as iemand wat by sy volle positiewe is. Dit word heel pertinent uitgewerk as hy in vers 2 beskryf word as ‘n man met ‘n “onrein gees” (sien ook vers 8), maar hier as ‘n man wat by sy volle verstand is.


Deur drie eenvoudige motiewe word dieper aspekte van die man se wonderbare genesing beklemtoon. Hier word vertel van sy totale tranformasie wat in die mees alledaagse dinge na vore kom.

En dit is hierdie prentjie van totale transformasie wat die mense laat vrees. Hulle is nie ongerus vir die man nie - asof hy dalk nog gevaarlik sou wees nie. Hulle is gevul met ontsag vir die Een wat die man "getem" het terwyl niemand anders dit kon regkry nie (Markus 5:4). Selfs al is Jesus die een wat "barmhartig" en "goed" is (vers 19, is Hy ook die Ontsagwekkende.

Die teenwoordigheid van Jesus is uiteindelik die egte fokus van die teks. Die besetene se verhaal vertel van Jesus se reis deur die wêreld. Die oomblik as Hy aanland, herken die duiwels Hom: “Wat het ek met U te doen, Jesus, Seun van die allerhoogste God!” sê die besetene as hy Jesus nog “van ver” af sien aankom (verse 6-7). Toe die stadsbewoners aankom, staan daar, het hulle “by Jesus” aangekom (vers 15). Jesus se soewereine mag blyk telkens. Hy laat die geeste toe om in die varke te vaar (vers 13). Jesus laat die man nie toe om Hom te volg nie (vers 19). En uiteindelik het die man getuig van wat “Jesus aan hom gedoen het” (vers 20).

Die fokus is nie uitsonderlik nie. Markus onderstreep die Verborge teenwoordigheid van Jesus herhaaldelik. Jesus het in die vorige verhaal in Markus 4 oor die magte van die natuur beskik toe hy die storm stilgemaak het sodat sy dissipels bevreesd gevra het – “Wie is Hy tog, dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?” Nou, meer nog, maak hy die man met duisende duiwels stil. Hy is die Een wat oor alles beskik.

Ons het dus in die beskrywing van die besetene verskeie motiewe: transformasie, nakend-gekleed, hardlopende-sittende, wegbeweeg van Jesus teenoor vashou aan Jesus, afwysing van Jesus teenoor getuienis vir Jesus. Daarmee saam gaan die verwondering en vrees van die mense wat hierdie gebeure raaksien – hulle is bewus van die verborge, ontsagwekkende teenwoordigheid van Jesus.

Maar die vreemde en onbegryplike is die mense se reaksie op die teenwoordigheid van Jesus. Hulle sien God se goedheid. Hulle merk 'n mens wat heel geword het, wat totaal genees is. Maar hulle wil niks daarmee te doen hê nie. Wat is daar tog te vrees?

'n Mens kan hierdie verhaal, ten slotte, nie verstaan sonder om ook die man wat by Jesus sit, se houding teenoor Jesus te kontrasteer met die stadsbewoners se houding teenoor Hom nie. Hulle smeek Jesus om weg te gaan. Maar die heidense besetene "smeek" Jesus om saam met Hom te kan gaan. Beide het die goedheid van 'n barmhartige God gesien. Maar net een het dit verstaan - net Hy was by sy volle verstand...

Dit is teen hierdie agtergrond dat ‘n mens Jesus se opstanding, soos dit in Markus 16 vertel word, moet verstaan.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive