Dit is sekerlik nie altyd so ‘n prestasie om rond te vertel dat jy glo nie. Trouens, dit word al hoe meer iets wat ‘n mens maar stil hou. En dikwels is geloof in ons iets wat skaars nog lewe. Dit het ‘n pap plantjie geword wat meer verlept is as wat dit groei en uitbot.
Dit bring nie meer vir ‘n mens aansien onder ander mense om jou geloof te bely nie. Om deel te wees van die kerk, om jou Christenskap te bely word eintlik al iets van om mag prys te gee, om jouself in die skande te steek. Jy is, dink jou vriende, kenniss en ‘n mens self, eintlik maar dapper om te waag om te vertel dat jy nog glo.
Terwyl die wêreld hulle wenkbroue optrek vir ‘n lewe in die geloof, het gelowiges ‘n nuwe manier van glo herontdek. Eintlik is hierdie “ander” manier as vroeër die manier waarop die Bybel oor geloof praat – maar wat ons eintlik verloor het. Ons het geloof deur die eeue heen dikwels vervang met of laat verval in ‘n vroomheid wat gedryf is deur baasspelerigheid, voorskriftelikheid en spoggerigheid. Nog kort gelede was die gelowige die predikant as baas van die plaas, die kerkraadslid as die wagter op Sionsmure, die gemeentelid as die vroom kokkedoor. Om te glo het status betekend, het die kans gebied om indruk te maak en was die manier om te presteer.
Stadig is ons egter deur ons nuwe, slim en gesekuleerde tyd teruggedwing om die Bybelse wortels van geloof te herontdek:
Geloof word gebore wanneer die koringkorrel in die aarde val, tot niet gaan en dan vrug dra. En waar geloof vrug dra, dikwels in die stilte en afsondering, bring dit nuwe krag. Die energie van geloof spoor mense aan om te besluit en om te doen en om te dien. Die wêreld roep wel hard en oordonderend uit: “God is dood.” “Ons is nou mondig.” “Ons word nie meer deur bygeloof geregeer nie.” Maar die mens in wie geloof ontkiem het en in wie geloof vrug dra, wéét, besef en ervaar verby alle verduidelikings, slimmigheid en mondigheid dat God in sy of haar hart teenwoordig is. Die vrug van die geloof wys homself uit in die liefde wat dit in ‘n mens se hart wakker maak. Terwyl die wêreld en ongeloof loer, bespied, bespot en verkleineer, beur liefde uit uit God se akker en word uitgestort in alle rigtings. In die geloof ervaar ‘n mens dat die liefde dwaasheid van die kruis is, en dat hierdie liefde ‘n mens tot opoffering verby alle grense dryf. Maar dit is die onvermydelike energie wat God se liefde in mens wakker maak.
Maar juis kry geloof weer in ons liefdelose, ontredderde omgewing ‘n nuwe energieke bestaan. Met ander woorde – in ons tyd van vaalheid en slimmigheid is ‘n gelowige iemand wat ander mense aantrek omdat hulle wyslik by hom of haar opnuut weer God se genade, ontferming en omgee aanvoel. Die gelowige is iemand wat kan opoffer, wat die leë soektogte van die wêreld vermy, wat in volkome vryheid van alles wat ‘n mens tot ‘n slaaf maak, leef. Dit is iemand wat krag vind in die magtelose, in liefde, onselfsugtigheid, die Kruiswoorde. ‘n Gelowige leef uit die verborgenheid, in dit wat nie vasgevat kan word nie, wat nie beheer word nie. Dit is iemand wat nie slim wil wees nie, wat vriendelik is, wat die donkerte oopbreek sodat die lig kan skyn. Dit is iemand wat God se genade raaksien selfs waar hulle net leegheid ervaar, wat nie dink God se genade is groot as die kerkgebou deur duisende mense volgepak word nie. Die gelowige weet hulle is genadiglik in God se diens – maar dat God se genade ook sonder hulle werk. Die gelowige is dus in hierdie wêreld die suurdeeg wat onopsigtelik, ongerekend en onopgesmuk nuwe energie losmaak.
In ons wêreld word die gelowige deur hierdie lewe van geloof die nuwe plek van heiligheid. Die mens wat só stilweg en outentiek die self sien sterf en tot ‘n lewe in God se teenwoordigheid geroep word, is nou God se tempel, die een deur wie die Gees wil praat.
‘n Mens kan dit ook anders stel – soos wat Rahner gedoen het. Die mens van geloof sal in die toekoms in die nuwe tyd dus net eg wees wanneer hy of sy met ‘n deurboorde hart leef as God se tempel en as die een deur wie die Gees praat.
Dit is die “deurboorde hart” wat my tref: die predikant van die toekoms, skryf Rahner, se hart word deurboor deur die mensdom se lewe sonder God – deur goddeloosheid. Sy hart word deurboor deur die dwaasheid van die liefde, deur mislukkings, deur die besef van jou eie feilbaarheid en dubbelhartige bestaan. Maar die gelowige is ook iemand wat besef dat hy of sy net krag het wanneer hy só ‘n hart besit. Daar is dus ‘n besef van eie voorlopigheid, van eie beperkinge, van eie nietigheid. Maar daar is ook ‘n begeerte om die vlam van God se teenwoordigheid te laat deurbrand in ‘n omgewing waarin God se teenwoordigheid verduister is.
Ek dink, toe ek hierdie opmerkinge van Rahner lees, onmiddellik aan Paulus se woorde: U krag word in swakheid volbring.
Die gelowige sal nie gesag hê uit hoofde van sy amp of sy lidmaatskap van die kerk of sy status onder ‘n groep gelowiges nie. Hy of sy sal ook nie gesag hê omdat hy slim-slim en oortuigend kan “bewys” dat sy getuienis “geloofwaardig” of “waar” is nie. God sal mense se harte aanraak in genade slegs wanneer die gelowige in sy binneste ‘n deurboorde hart het.
Dit lyk ook heel eenvoudig om te sê ‘n mens moet ‘n deurboorde hart hê. Maar terselfdertyd lyk dit ook moeilik om hierdie eenvoudige, deurboorde hart te ervaar en te hê.
Hoe kry ‘n mens dan ‘n deurboorde hart? Rahner sê ‘n mens sal hierdie duidelike, maar moeilike boodskap slegs in jou lewe waarmaak as jy na aan die deurboorde hart van God woon.
Op die manier kom ‘n mens se hart en God se hart bymekaar uit.
Maar wat is hierdie hart wat deurboor word dan? Ons hart neem ons dieper as wat ons verstand ons ooit kan neem. As iets met ons hart gebeur, raak dit ons hele lewe. Dit raak die kern van ons bestaan. Ons kan baie dinge weet en begryp. Maar ons harte kan leeg wees. Maar as ons hart vol is, is ons in volkome rus, dan het ons volledige vrede, dan werk dit in op die res van ons lewe. Ons kan die innerlike ervaring, in ons hart, in die kern van ons bestaqan nie altyd in woorde beskryf nie, want dikwels is ons ervaring in die sentrum van ons bestaan verby enige woorde en begrip. Ons besef eenvoudig verby alle verduidelikings om dat ons God gevind het en in die teenwoordigheid van God leef.
Ons hart moet deurboor word. Soos die deurboorde hart van God.
Rahner skryf dan die volgende paragraaf:
Die hart van die Here “is die hart wat die wêreld se donkerte en sonde in homself opgeneem het; die hart wat wat selfs sy eie Godverlatenheid in die hande van die Vader oorgegee het; die hart wat geen mag wou gehad het nie, behalwe die mag van vergewende liefde; die hart wat deurboor is en daarom die bron van alles geword het wat van die Gees af kom. Hier is dan die hart van die wêreld. Hier is die kern waar God en die wêreld, ewigheid en tyd, lewe en dood, God se Woord en die mens se antwoord een word sonder enige skeiding of verwarring.”
Jesus is die kern van ons bestaan. In sy teenwoordigheid ontdek ons gebrokenheid. En in hierdie gebrokenheid word ons geraak soos niks anders ons ooit kan raak nie. Dit is God se aanraking wat ons intrek in ‘n geestelike reis wat steeds weer net dieper en dieper word.
Dit is hoe God se hart en die wêreld se hart lyk.
En, ten slotte, voeg hy by:
“Hierdie hart is nie ‘soet’ nie. Dit is ontsagwekkend. Dit is ontsagwekkend in sy donker doodsmart; ontsagwekkend in die verborgenheid van die Liefde wat nie in enige iets vasgevang kan word nie – die liefde waarin God God se ontferming uitlewer aan die ontferming van die skepping met al sy skuld en nietigheid. Ontsagwekkend in die absoluutheid van die uitdaging wat hierdie hart aan ons stel deur ons in te trek in sy lot.”
En tog is daar iets aantrekliks hieraan. Hy skryf: “ Maar ons sou ook die hart van God ‘soet’ kon noem in die sin dat hierdie liefde heilig volwasse is. Dit oorwin die dood. Net mense wat hierdie liefde gevolg het soos wat dit sy ontsaglike pad geloop het, verstaan hoe volwassse die liefde is.”
Spiritualiteit, hierdie Geestelike werking van ‘n deurboorde hart, is wat ons in ons tyd en in ons omgewing nodig het. Die dae dat geloof die lig dikwels helderder op ons laat val het, word nou die dae dat die lig val op die mistieke teenwoordigheid van God wat na ons uitreik in die deurboorde hart van die Seun.
Wonderlike, mistieke gedagtes.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
Blog Archive
-
▼
2010
(356)
-
▼
March
(29)
- Troos in lyding
- Hy wou sy eie pilletjie drink toe hy hoor hy het d...
- Geloof as waagstuk. Om oratief te waak.
- Groei in bewussyn.
- Dan sal ons nie meer vrae vra nie. Gedagtes oor di...
- Liefde verdryf skuldgevoelens
- Alles en niks
- Die onuitspreeklike lewe by God in die toekoms
- "Soms het ek die indruk gekry dat sy op die punt w...
- Moet jy vir jou vrou blomme gee en jou stoel aanbi...
- Die deurboorde hart. Oor ‘n nuwe manier van geloof.
- Mag, die Broederbond en 'n Nuwe Boek
- Hulle lewens spreek boekdele.... Oor die opstandin...
- 'n Mens kan God se goedheid sien sonder om dit te ...
- Paulus en die mistiek.
- Die gelaat van God in die barheid van armoede.
- Wanneer 'n mens te vroom raak. Oor die besetene va...
- Die twee vreemde jongmans in Markus se Evangelie
- Wanner 'n mens vreemde keuses vir God maak.
- Paradys (2)
- Paradys....
- Boeke
- Markus en die Opstanding
- Die teenwoordigheid van die liefde in ons taal.
- Om jou innerlike demone te besweer.
- Hy het sy hele lewe lank net een keer met sy seun ...
- Heilige nar van God. Oor die “gawe van trane” as ‘...
- Kontemplasie.
- Die eerste Christelike kontemplasie. Oor die liefd...
-
▼
March
(29)
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.