Monday, March 01, 2010

Die eerste Christelike kontemplasie. Oor die liefde en die geliefde dissipel in die Johannes-Evangelie

Johannes vertel in sy Evangelie die verhale van groot karakters: Nikodemus, die Samaritaanse Vrou, die Verlamde, die Blinde en Lasarus. Hulle is meer as net mense wie se paaie met Jesus gekruis het. Hulle word in ‘n sekere sin elkeen ‘n “tipe” gelowige van alle tye. Daar is iets universeels in hulle reaksie op Jesus.

Aldus is Thomas die dissipel wat nie sommer wou glo sonder dat hy sien nie. En vandag loop ons hom raak as ‘n mens praat van ‘n twyfelaar as ‘n Thomas.

Terwyl ons al hierdie karakters taamlik goed ken, is daar een karakter in die Johannes Evangelie wat dikwels ons aandag ontglip. Ons sien hom so tussen-in al die verhale raak, maar daar is nie regtig een groot verhaal oor homself nie. Hy is die Geliefde Dissipel. Kort-kort loop ‘n mens hierdie karakter raak.

Let op – dit is nie hy wat Jesus liefgehad het nie. Hy is die een “vir wie” Jesus liefgehad het. Maar die beskrywing impliseer dat hy die een is wat konsekwent oop was vir die Here se liefde.

Daar is in die Evangelie oomblikke wat ‘n merkwaardige liefdesband tussen hom en Jesus onthul. In Johannes 13:23 wat oor die voetewassing gaan, staan daar dat hy as “die dissipel vir wie Jesus baie lief was” “net langs Jesus aan tafel gesit het.” Die Ou Vertaling het dit nader aan die oorspronklike vertaal: “hy het aan tafel teen die bors van Jesus gelê.” Johannes 21:20 beklemtoon hierdie uitbeelding as dit Johannes beskryf as : “die dissipel... vir wie Jesus liefgehad het, die een wat by die maaltyd teen sy bors aangeleun het.” Die beskrywing van die besondere nou verhouding tussen Jesus en hierdie dissipel word dus op ten minste twee plekke in belangrike plekke prominent herhaal. In elke plek word herhaal dat Jesus hom liefgehad het en dat hy na aan Jesus tydens die paasmaal was.

Hierdie dissipel speel ‘n groot rol by die opstanding van Jesus. Hy hardloop saam met Petrus na die graf as hulle van die vroue hoor dat die graf leeg is. Hy kom eerste by die graf aan, maar gaan eers na Petrus die graf binne. Dan volg die opvallende formulering: “Daarop het ook die ander dissipel wat eerste by die graf aangekom het, ingegaan en hy het gesien en geglo” (Joh.20:9). Nie dat hy dit werklik verstaan nie, maar hy het geglo –lank voor die ander dit gedoen het.

Dit is veral in Johannes 21:7 dat ons agterkom wie hierdie besondere dissipel was. Daar herken ons hom uiteindelik as die soort van gelowiges wat Jesus herken waar alle ander, hoe goed hulle van Hom ook mag weet, nog nie by is nie. In die vorige verse van die hoofstuk het die dissipels vir Jesus op die strand gesien staan, maar hulle “het nie geweet dat dit Jesus was nie” (vers 4). Jesus praat met hulle en sê hulle dan aan om hul nette aan die ander kant uit te gooi. Maar vir hulle kan dit net sowel enige iemand gewees het.

Dit is dan dat ons die sleutelvers in Johannes 21 kry. “Daarop sê die dissipel – die een vir wie Jesus liefggehad het – aan Petrus: Dit is die Here!”

Terwyl die ander dissipels Jesus met hulle hoor praat, is dit net die geliefde dissipel wat hom herken. Maar daar gebeur iets meer met hom as net ‘n blote herkenning: Hy herken Jesus as “die Here.” Hy ervaar helder die teenwoordigheid van Jesus as die Here en hy voel Jesus se goddelike aanraking in sy lewe. Die oomblik toe hy Jesus herken, bely Hy hom as die Here. Soos by die graf is hy die een wat voor al die ander glo, maar wat nou boonop Jesus beleef in al sy goddelike heerlikheid. Daar by die graf was sy geloof al merkwaardig – want hy het geglo sonder dat hy Jesus gesien het. En al was dit daar‘n tastende geloof, het hy ‘n ontvanklikheid gehad vir wat gebeur het wat nie een van die ander dissipels gehad het nie.

Uit die liefde tussen hom en die Here word geloof en onmiddellik ook getuienis-lewering gebore...

Die oomblik wanneer ‘n mens ontvanklik is vir die goddelike teenwoordigheid, word ‘n mens in die wêreld ingetrek. Johannes, anders as Maria in die tuin, gaan daar by die see nie voor Jesus neerkniel nie. Hy draai hom na Petrus en verduidelik vir Petrus wat hier met hulle aan die gang is. Uit sy kontemplatiewe ervaring van die goddelike teenwoordigheid kom sy getuienis teenoor ander na vore. Hy word eintlik die eerste sendeling... Hy is eintlik die een onder die dissipels wat weet...

En ons dink altyd Petrus was die groot leier.

‘n Mens kan moeilik oorskat wat hier aan die gang is. Dit is die man wat ‘n besondere liefdesband met Jesus het wat dus die bron van die kerk se getuienis word. Ons lees dit duidelik in Johannes 21:24: “Dit is daardie dissipel wat van hierdie dinge getuig en hierdie dinge geskryf het, en ons weet sy getuienis is waar.” Hy sou liefdeswoorde in sy Evangelie neerskryf wat vir eeue van mense oor die hele aarde vissers van mense sou maak.

Uiteindelik is die een man se openheid vir die goddelike liefde wat die gang van die geskiedenis beslissend kan bepaal. Uit die Here se verhouding met hom, uit sy oopheid vir die liefde wat hy van die Here ontvang, word sy Evangelie van Liefde gebore. Liefde genereer liefde. Liefde bring die ontvanklike mens in die teenwoordigheid van God. Liefde laat ‘n mens ander op die Bron van liefde wys.

Een mens wat in liefde leef, keer die wêreld om. Meer nog, daardie liefde laat hom of haar sien wat min ander herken. Helder word die Geliefde Dissipel geteken as iemand wat oop is vir die Here se teenwoordigheid meer as alle ander. Die ander dissipels weet dat hulle by die Here is, maar nogtans vra hulle vir Hom: “Wie is U?” Terwyl hulle worstel, wéét die Geliefde Dissipel. Hý is die een wat vertel terwyl ander nog na woorde soek. Hy het sekerheid terwyl ander nog met vrae worstel.

Dwarsdeur die Evangelie word hierdie dissipel bloot beskryf as die een “vir wie Jesus liefgehad het.” Nêrens word sy naam genoem nie. Sy identiteit, wie hy is, is eenvoudig uit die liefde opgemaak. Jesus was so lief vir hom dat hy naby aan die kruis gebly het toe die ander weggehardloop het en dat Hy sy moeder aan die dissipel toevertrou het (Joh.19:26-27).

Uit hierdie liefde wat aan Hom geskenk is, word herkenning van Jesus as opgestane Here gebore. Liefde is, soos Brown skryf, die fondament van geestelike insig. Uit die liefde is die kerk gebore. Uit die liefde vloei die getuienis-taak van die kerk. Uit die liefde word die wêreld God s’n gemaak (Joh.3:16)..

Die liefde is dus lewe-gewend. En die rede hiervoor is dat die liefde te doen het met ‘n verhouding met die Ander wat gekenmerk word deur kontemplerende ontvanklikheid. Die een wat langs Jesus sit, teen sy bors aanleun, wat luister na die goddelike woorde, wat glo sonder om te sien en wat herken terwyl ander twyfel, is die Een wat op die Liefde gewag het, daarop gereageer het, daarna verlang het en wat in die liefde geleef het.

Goddelike krag kom tot hulle wat daarop wag... Kontemplatief.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive