Tuesday, March 16, 2010

Die gelaat van God in die barheid van armoede.

Eers wou die leiers van die gemeente my daar weghou. Maar toe dit my beurt was, het ek in die armste, maar ook die gevaarlikste deel van die gemeente huisbesoek gedoen. Saans ná vyf het ek verby die gegoede woonbuurte met hulle luukse wonings daarheen gery. Soos ek nader aan die township gekom het en afgedraai het na die onderbuurt, het die steenkool-rook al hoe digter gehang, die toneel al hoe vinniger verander – asof ek na ‘n ander planeet gereis het.

Dit was nie eintlik maklike besoeke nie. Ek dink dikwels daaraan hoe ek daarheen gery en daarvandaan vertrek het met soveel gemengde, maar baie menslike gevoelens – met verset in my gemoed oor die onmenslikheid van sulke toestande. Dikwels depressief oor die lelike gesig van ons samelewing. Dikwels aan die vra oor die teenwoordigheid van die Heilige in só ‘n plek. Dikwels sonder woorde oor die eindelose gesig van armoede, van misdaad, van geweld, drankmisbruik en disfunksionele gesinslewens.

Die huisies was piepklein, omring deur stukkies grondtuine met hier en daar ‘n kolletjie gras of ‘n verlate boompie. Hulle het soos boksies ingeryg gestaan. Oral op die ongeteerde strate was daar ou motors aan die ry en baie mense aan die loop. Dit was ‘n woelige tyd van die dag as ons daar aangeland het. Die buurt het, ongeag die oewerlose armoede, gelewe. Daar leef mense daar.

Iemand van die kerkraad het altyd saam met my gegaan. Dit is ‘n deel waarin mens liewer nie alleen moes wees nie, het hulle onnodiglik verduidelik.

Maar vir my was dit belangrik dat die kerk juis daar teenwoordig moes wees. Want hoe arm, hoe gedoem tot oppervlakkigheid is die prediker wat met mense die dieper dinge wil deel in die eenrigting-verkeer van ‘n kerkgebou? Dit is immers in hierdie huisies, in hierdie vaalheid van die lewe van elke dag waar ‘n mens hoor hoe en wat praat mense met en oor God. En hier word ‘n mens gevoed, gevorm en geknie in die lewensruimte waarin die praat oor God geanker moet word.

Ons het elke keer afsprake gemaak en dan van huis tot huis geloop. Dit was maar tipiese “huisbesoeke:” ‘n Gesprek, veral oor geestelike sake. ‘n Gedeelte uit die Bybel saamlees. ‘n Gebed saamdoen. En tog, altyd weer, het dit my na die tyd opgeval dat die vriendelikheid en die dankbaarheid eintlik sterker was as in ander plekke en buurte. En elke keer weer het God my in my menslike gevoelens en vrae beskaam: Die normaliteit van hierdie “huisbesoek” is elke keer weer oopgebreek deur die vreemde, boeiende waardering van mense wanneer hulle besoek ontvang van iemand wat na hulle uitreik in die naam van die Een wat liefhet ongeag hul geringe blyplek, hul karige besittings en hul gebrek aan aansien.

Op ‘n keer kom ek by ‘n huisie waar daar letterlik geen meubels is nie. In die kombuis is daar net ‘n tafel, ‘n kombuiskas en twee stoele. Daar is ‘n primus-stofie, ‘n pot en ‘n glas of twee op die kas. Ek sien niks eetgoeds raak nie. Selfs in hierdie klein plekkie is die ruimte so leeg dat ons stemme daarin weergalm. Die vrou van die huis se familie is weg. Sy is alleen in ‘n leë huis. Sy leef van niks, besef ek.

Sy het nie werk nie. In hierdie koue aand het sy ‘n dun somersrok aan, maar nie ‘n trui of iets om haar warm te maak nie.

Sy bedui opgewonde en besig ek moet op die stoel sit. En, dring sy aan, die ouderling moet op die ander stoel sit. Sy is dan die gasvrou.

Ek stel my voor en wil met die “huisbesoek” begin. Maar sy sê ek moet net so ‘n oomblik wag. Sy neem die glas op die tafel en maak ‘n groot bottel coke wat ek met die inloopslag dadelik gesien het, oop. Ek wil protesteer, maar sy sê sy wou darem vir die predikant iets te drinke in die huis hê. En daardie middag het sy spesiaal die bottel koeldrank gaan koop sodat sy dit die aand kan deel.

Net daar skink sy vir my die glas vol en gee dit vir my – in wat vir my voel na ‘n ritueel gelaai met betekenis. En toe ek klaar gedrink is, kry die ouderling ordelik ook ‘n glas.

Ek sien sy skink nie vir haarself in nie.

Nou, 25 jaar later, kom hang die herinnering aan haar en haar drinkgoed menige dag nog in my innerlike en straal sy vreemde goedheid oor my uit. Uit wat sy eintlik nie eers gehad het nie, het sy gegee.

Toe ek loop, groet sy my met hande skurf van eelte. Met beide haar hande hou sy my hand vas terwyl sy oor en oor dankie sê vir die kuier en, sê sy, veral vir die gebed.

Ek onthou nou nog die hande: hulle bly my by asof hulle kruishande was wat kruiswonde dra, maar wat nogtans na die ander uitgestrek word. Want, weet ek vandag, ánders as wat ‘n mens sou dink, was dit eintlik sý wat my bedien het, wat vir my ‘n sakrament, die drankoffer, laat smaak het. Die gemeenskap van die gelowiges was volmaak, sigbaar en transformatief – daardie aand in een van die armste woonbuurte van ons land, daar waar ons drie in die Naam van die Een wat altyd by ons bly, bymekaar saam was. Immanuel, besef ek, gee vir ons die rykdom van die Gees in die mees barre van plekke en tye.

God se voetspoor in die gelaat van die Ander

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive