Monday, March 15, 2010

Wanneer 'n mens te vroom raak. Oor die besetene van Gadara

Markus 5 is ‘n verhaal oor die genesing van Legio, die man met die duisende bose geeste.

Die situasie en die toestand van die man word uitgebreid vertel, soos eintlik in min ander wonderverhale. Dit is 'n merkwaardige prentjie van iemand wat totaal gedisintegreer het.

“En toe Hy (Jesus) uit die skuit gaan, kom daar dadelik uit die grafte Hom tegemoet ‘n man met ‘n onreine gees, wat sy verblyf in die grafte gehad het. En niemand kon selfs met kettings hom bind nie; want hy was dikwels met voetboeie en kettings gebind, en die kettings is deur hom uitmekaar geruk en die voetboeie stukkend gebreek; en niemand was in staan om hom te tem nie. En altyd, nag en dag, het hy aangehou om te skreeu op die berge en in die grafte en homself met klippe stukkend te slaan.”

Hier is ‘n man wat skreeuend dag en nag onbeheers tussen berge en grafte rondhardloop totdat Jesus geeste uit hom jaag wat dan in ‘n trop varke storm en oor die krans in die see stort.

Markus teken die beeld van 'n man wat nie meer gehelp kan word nie. Sy situasie is totaal ontredderd. Jesus is byvoorbeeld nie die eerste mens wat hier ingryp om die man te probeer help nie. In die oorspronklike Grieks is dit duidelik dat daar herhaaldelike pogings was om hom te bedwing (perfektum). Hy is volgens vers 4 dikwels met voetboeie en kettings gebind, maar elke keer het hy wild die kettings in twee gebreek en die voetboeie stukkend geruk.

Na die beskrywing van die pogings om hom te bind, volg die opmerking in vers 4 dat niemand in staat was om hom te tem nie. Die prentjie is duidelik: vir Markus onderstreep dit dat die man gely het onder ‘n erge vorm van ontreddering, Godverlatenheid en besetenheid.

Die hoogtepunt van die verhaal is die uitbeelding van iemand wat ingestel is op sy selfvernietiging. Hy het homself met klippe stukkend gekap. Wat uitstaan is nie dat hy ander verniel het nie. Die verhaal se laagtepunt is die vertelling oor hoe hy homself tot niet maak. Wie sonder God leef, in gemeenskap met die demoniese, word opgeneem in destruktiewe verhouding tot hom- of haarself.

En tog: Iewers is sy kontak met die wêreld nie afgesny nie. Hy herken Jesus op ‘n afstand en praat met Hom. ‘n Mens kan dus aanneem dat hy goed geweet het wat met hom aan die gebeur is.

Hy het, sou ‘n mens dus kon sê, toegelaat het dat sy lewe in totale vernietiging verval. En hy het dit steeds bly doen - oor en oor. Dit is ‘n proses wat voortgeduur het. Die man het “aangehou” om te skreeu en homself stukkend te slaan.

Let op die man se reaksie op die besoek van Jesus: Hy bejammer homself. Ek besweer U by God, moenie my pynig nie. Die ironie is volmaak: Hier, waar sy hulp so naby is, dink hy nog maar aan sy eie pyn en lyding. Hy is in homself gekeer. So intens dat hy sy eie heil verwerp, dat hy Jesus uit sy bestaan wil weer.

“Gaan weg uit my lewe” roep die besetene uit. En hy is nie so uniek nie. Die inwoners van die gebied wat die wonder gesien het, smeek later ook vir Jesus om weg te gaan uit hulle gebied (17). Hulle is so vasgevang in hulle ingekeerde wêreld dat hulle die lig van God nie kan verdra nie. Hulle bly getrou aan hul identiteit as "heidene" - mense wat teen God kies. Waar mense nie in 'n verhouding met God opgeneem is nie, daar tree deformasie in en skop self-ingekeerdheid in.

Maar Markus teken dan die oomblik van transformasie helder en duidelik: Die man ken sy eie toestand. Hy is bewus van sy eie vernieldheid. Wanneer Jesus sy naam vra, vertel hy aan Jesus wie hy is. In Bybelse konteks verraai 'n mens se naam altyd jou identiteit (Lasarus, Petrus). Die besetene is iemand wat duisendvoudig in die ellende is. Legio is sy naam, antwoord die man as Jesus hom sy naam vra, “want ons is baie.” Hy onthul die vernietigende kragte in homself, sy innerlike verskeurdheid en donkerte: hy bly in die ruimte van die demoniese, van dit wat God verwerp.

Eintlik is hierdie onthulling van sy naam terselfdertyd ‘n hulpkreet uit sy hart en daarmee begin die proses van genesing. Maar daar is uiteindelik die mistieke oomblik waarin die transformasie begin: hy “val voor” Jesus neer (vers 6) en herken Hom skreeuend as Seun van die Allerhoogste God. In Bybelse taal is dit ‘n daad van aanbidding.

Hierdie man vra deur hierdie daad van neerval in werklikheid hulp van Jesus. Hy erken dat hy in die teenwoordigheid van die goddelike is en bely hom as Seun van God. Hierdie einste besetene, wat vir Jesus wegdryf van hom, is ook die man wat Jesus herken, bely en by ‘n draaipunt in sy lewe aankom. In die donkerte van sy besetenheid kan hy tog iewers die lig van sy verlossing herken.

En uiteindelik volg daar die radikale transformasie: Hy, die een wat die duisende duiwels in hom gehad het, wat nakend tussen die grafte rondgehardloop het en teen die berge en in die grafte geskree het, lyk totaal anders nadat hy vir Jesus ontmoet het. Nadat Jesus vir Legio uit die man verdryf en hulle in die varke invaar om in die see te verdrink, het die wagters van die varke die wonder in die stad en buitewyke gaan vertel. Die mense het by Jesus gekom en sien die “besetene sit, gekleed en by sy verstand - die een wat die legioen gehad het. En hulle was bevrees.” Vers 15 vertel die gevolge van die goddelike aanraking van mense.

En transformasie bring heelheid - dit integreer iemand in sy bestaan. Die een wat die legioen gehad het, sit by Jesus in plaas daarvan om wild in die grafte rond te hardloop. Hy het vrede gevind. Die waansin het gewyk. Hy het tot sy sinne gekom.

Die verhaal is nog lank nie klaar nie. Getransformeerde mense weet dat hulle by Jesus, in die ruimte van God, geborgenheid vind. Aan die einde van die verhaal vra Jesus die man om vir sy huis en mense te vertel watter groot dade God vir hom gedoen het en dat Hy hom barmhartig was. Jesus was in hierdie man se lewe ontfermend teenwoordig. Die kettings en voetboeie bind nie meer nie. Hy is vry. Hy is gestroop van sy demone, meer nog - hy is by die Here wat vir hom goed is.

Hierdie storie eindig eintlik met ‘n stukkie humor. Die man se besetenheid is oor, maar sy probleme is nie verby nie: hy wil nou ‘n gemaklike lewe, sonder probleme hê en by Jesus bly (vers 18). Hy doen juis wat Jesus van sy dissipels gevra het - "volg My." Maar Jesus besluit anders. Die man, weet Hy, is nou amper aan die ander kant: waar hy vroeër die lewe vir homself hel gemaak het, wil hy nou al die lewe vir hom pure hemel maak. Hy wat waansinnig was, is nou ‘n vroom man - te vroom. Die geneesde besetene smeek Jesus om by Hom te kan bly sonder om te besef dat die mistieke ervaring vra om deurwerking, uitlewing, dissipelskap. Die besetene groei dieper in sy geloof. Jesus lei hom om meer te vestaan van wat die aanraking van God in sy lewe begin bewerk het.

Markus beklemtoon daarmee dat 'n dissipel van Jesus somtyds sonder Jesus se sigbare, tasbare teenwoordigheid moet kan leef.

“Maar Jesus het hom dit nie toegelaat nie, maar vir hom gesê: Gaan na jou huis na jou mense toe, en vertel hulle watter groot dinge die Here aan jou gedoen het, en dat Hy jou barmhartig was” (19)

Hy word uitgestuur. Hy moet gaan vertel. Dit is nog nie hemeltyd nie. Die wêreld wag om te hoor.

Dit is nie die enigste keer dat Markus in hierdie verhaal oor getuienis-lewering praat nie. Die wagters van die varke het loop vertel van die varke wat oor die krans gestort het en die mense het kom kyk (vers 14). Die mense wat alles gesien het, het ook vertel (vers 16). Maar hierdie getuienis bring afwysing van Jesus (vers 17). Die besetene moet van ontferming gaan getuig - en daardie getuienis bring transformasie (vers 20).

So vertel Markus dus van 'n besetene wat 'n vrome word wat 'n getuie word.

Markus praat dus oor getuie wees van God se goedheid. Dit is nie die wonders wat so belangrik is nie. Dit is die heelheid, die integrasie, die genesing, die herkenning, die volwasse-wording, die einde van self-vernietiging, die ervaring van God se teenwoordigheid wat tel. Dit is waaroor "alles wat Jesus vir hom gedoen het" gaan.

En so berei Markus ons voor vir wat hy aan die einde van sy evangelie oor die opstanding sal vertel. Voordat ons Markus 16 kan verstaan, moet ons eers Markus 5 begryp.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive