Wednesday, March 31, 2010

Troos in lyding



Picasso het na die bombardement van Guernica as protes 'n reeks skilderye van treurende vroue gemaak. Hulle het beroemd geraak weens die rou emosie wat hulle uitbeeld. Dit was Picasso se protes teen geweld.


Picasso steun vir hierdie uitbeelding op die baie bekende motief van die Mater Dolorosa - die treurende moeder van God - in die Spaanse kuns. Iewers wil hy uitroep dat God intens betrokke is by die stryd teen die kwaad en geweld.


Dit pas 'n mens, hier in die lydenstyd, om hieroor na te dink. As hulpmiddel, vind ek toe die onderstaande gedeelte in Alaric Lewis se 'n Seisoen van Heel word. 'n Mens moet jou in die nood van ander kan indink en dit van naby beleef. Maar dan, kan 'n mens ook tydens lydenstyd weet dat God in die Evangelies, veral met die kruisdood van Christus, ook 'n aangrypende protes teen geweld teken.


God protesteer met God se hele hart teen geweld. Net die verskil - vir God is dit nie 'n saak van teken of van verbeelding nie, maar 'n saak van die werklikheid.


Hoe naby bring dit ons tog aan vrede! En hoe goed word die Vrydag van die kruisdood vir ons tog nie!


15 Januarie

“Alles wat jy in jou verbeelding kan bedink, is werklik”

Pablo Picasso

Picasso se briljantheid is te vinde in die manier waarop hy na die wêreld en sy mense gekyk het soos niemand anders dit ooit kon doen nie. Hy het deur sy verbeeldingskrag vir hom ingedink in ‘n wêreld waar die sagte oopheid van menslike vorme en die sagte indrukke van die natuur getransformeer is in rigiede geometriese formaat en sterk kleure. Op dié manier wou hy mense uitnooi om op nuwe maniere te dink oor die wonders van die mensdom en die wêreld. Dit wys hoe formidabel skeppend sy verbeeldingskrag was.


Mense het dit in hulle geaardheid om verbeeldingryk te wees. Dit is dikwels ‘n troos om op ‘n mens se verbeeldingskrag staat te maak. Selfs al leef ons in ‘n wêreld wat selfsugtig en brutaal is, is dit goed dat ons ons ‘n wêreld vol onselfsugtige skoonheid en liefde in ons verbeelding kan voorstel. Dus, wanneer ons moet saamleef met die worsteling en pyn van ‘n verlies, moet ons ons net so kan indink in ‘n tyd wanneer die pyn minder sal word, wanneer die hartseer minder verskeurend sal wees. Dan begin ons ook die oorgang te maak tussen ‘n lewe wat ons deur ons verbeeldingskrag ervaar en ‘n lewe wat gelééf word.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive