Ek lees vandag Nico Smith se boek oor die Broederbond. Ek het uitgestel om die boek te koop, hoofsaaklik omdat ek nie regtig belangstel in die tema nie. Maar sekere reaksies laat my toe tog maar besluit om dit te lees. Ek sit byvoorbeeld verlede week op die lughawe waar twee mense die boek bespreek, terwyl ‘n goeie vriend van my vir my lank terug al grepe daaruit vertel het. Ek sien, toe ek die boek afhaal, dit het al ‘n tweede druk beleef.
Ek het geen obsessie oor die Broederbond nie. Ek hou ook nie van stereotipering nie. In my lewe het ek té dikwels gesien dat daar in elke groep ordentlike mense is wat met integriteit optree, terwyl ander hul lidmaatskap sal misbruik. Daar is sekerlik lede van die Broederbond wat ‘n onkreukbare lewensstyl het, maar uit Nico Smith se boek is dit byvoorbeeld duidelik dat daar lede was wat eenvoudig sonder om twee keer te dink op onetiese manier hul lidmaatskap gebruik het om hulself te bevoordeel en ander te benadeel of 'n onreg aan te doen. Ander weer, besef ‘n mens, is deel van ‘n groep met al hul feilbaarheid en vrese. Dit is vir my byvoorbeeld hoogs ironies hoe vinnig en selfs opportunisties ‘n klomp lede hulle in later jare uit die voete gemaak het. Waarmee 'n mens wonder oor hulle...
Mens is nie onvermydelik sleg of immoreel as jy aan die Broederbond behoort nie. Een van die ordentlikste en lojaalste mense wat ek ken en wat weet dat ek nie Broederbond-materiaal is nie, vertel my met so bietjie humor gereeld dat hy nou nog lid van die Broederbond is – en ek het nog nooit sy integriteit in twyfel kon trek nie. En dieselfde geld nogal vir baie ander bedenklike organisasies. Twee van die mees toegewyde Christen-gelowiges wat ek in ‘n gemeente geken het, was byvoorbeeld tot my stomme verbasing Vrymesselaars. Ek kon nooit verstaan hoe hulle as mense van onkreukbare integriteit tot daardie geheime en hoogs twyfelagtige groep kon behoort nie. Ek dink dus dit is steeds belangrik om nie in swart-wit of boos-slegte denkpatrone vas te val nie.
Ek het ook geen obsessie oor die Broederbond nie omdat ek verder die siniese oortuiging het dat enige sulke groepe hul eie vyande is en uiteindelik deur die onverbiddellike verloop van die geskiedenis onvermydelik moet verval.
Nico Smith se boek is nie goeie leesstof vir iemand soos ek wat die donker tye van ons landsverhaal direk en van naderby meegemaak het nie. Ek sit dus en lees die boek toenemend met slegte gevoelens. Ek was destyds vir ‘n dekade en ‘n half saam met Nico Smith aan die Universiteit Stellenbosch as dosent verbonde, behalwe, natuurlik, dat ek aanvanklik een van sy eerste studente was. Ek weet te goed en van naderby van al die drama wat hy beleef het. Ek het wrang ervarings uit daardie jare meegemaak. Ek het, soos hy, byvoorbeeld ook die groot exposé van die Broederbond deur die Sunday Times van Sondag tot Sondag ervaar. Dit was buitengewone sensasionele tye vir nie-lede en, natuurlik vermoed ek, tye van trauma vir Broederbondlede wat die Sondag-uitgawe week na week ‘n moontlike ontmaskering moes sit en afwag. Elke Sondag is nuwe name van lede gepubliseer wat kollega’s aan die universiteit was wat ‘n mens goed geken het, maar, in sommige gevalle, naïewelik nooit kon dink dat hulle ook deel was van ‘n groepie wat dit nodig gevind het om in die geheim te funksioneer nie. Soms was dit skokke wat tot vertrouensbreuke gelei het wat net oor ‘n lang tyd geheel geraak het.
Maar meer nog as die kwessie van persoonlikhede was daar ander kwessies wat met die tyd van die Broederbond saamgeval het wat ons lewens direk geraak het: Ons het as die jonger geslag, as die junior dosente, die klein outjies, geweet ons werk onder en saam met magtige mense wat nie gehuiwer het om vuis op die tafel te slaan as hulle nie hul sin kry nie. Ons het hul aan die werk gesien, opgelet hoe hulle meedoënloos opponente uit die pad werk om hulle sin af te dwing en te sorg dat almal in lyn bly met wat hulle as die beswil vir ander voorgesê het. En terwyl dit sekerlik nie die amptelike strategie van die Broederbond was om ander te vertrap nie, was daar iets omtrent hierdie universiteitsleiers se magstentakels wat oraloor uitgestrek het, wat ons laat besef het hulle is deel van ‘n magstruktuur wat hulle onaantasbaar gemaak het. Hulle het duidelik vriende van invloed gehad. En jy moes nie in hulle pad gestaan het nie. Veral nie as jy van hulle verskil het nie.
Dit was nie lekker om hierdie magsspeletljies te beleef nie. Dit was immers die tye van noodtoestande, drakoniese veilgheidswette, Vlakplaas-aktiwiteite, aanhouding sonder verhoor, townships wat aan die brand was, oorlog op die grense, gedwonge verskuiwings en vele, vele ander skending van menseregte. Dit was ‘n tyd waarin ‘n mens juis nie magspeletjies moes gespeel het nie. Ons het gesien hoe menselewens deur die sisteem vertrap is, hoe gemeenskappe massief deur die beleid veronreg word en hoe mense vernietig is. Dit was die donker tye van die apartheidsjare toe vrees die enjin van ons samelewing laat loop het. En dit was tye waar magtige ouens gesorg het dat alles netjies in plek bly.
Hoe verduidelik ‘n mens aan die jonger geslag die donkerte van daardie tyd?
Dus: Dit was nie lekker nie om feitlik weekliks te moet ervaar dat van jou goeie huisvriende iewers aan ‘n magtige organisasie behoort het wat so ‘n status quo gesanksioneer het terwyl hulle hulle betrokkenheid daarby partykeer angsvallig verbloem het. En dikwels het jy dan beter verstaan waarom hulle op sekere komitee’s dien, gedurig in belangrike rade aangestel word en ook op wyer vlak mag begin kry het.
Alles was darem nie net donker nie. Daar was seker ook die ligpunte. Dit was die tye dat daar nogal ‘n klompie oppenente teen die sisteem aan die werk was. Daar was die stilles en minder kontroversiëles – mense soos Attie van Wijk (sr) en Frans Smuts wat stil-weg hul ding gedoen het, maar nooit as “ware” Afrikaners aanvaar is nie. Daar was mense soos Tobie de Clerq wat as predikant wel Broederbonder was, maar wat tog op ‘n stadium sekere stappe geïnisieer het wat ons verbaas het en wat indirek gelei het tot die Wes-Kaapse Sinode van die N.G.Kerk se verslag teen apartheid. Maar dan was daar die utigesproke bakleiers. Hulle dapperheid is soveel groter omdat hulle magtige menere op die kampus aangevat het. Mense soos S.P.Cilliers, Herman Giliomee, Andrie du Toit, Johan Degenaar, Dian Joubert, Andre Hugo, maar ook Nico Smith, en selfs die ireniese Willie Jonker (van alle mense!) was vir baie die ikone van die stryd teen onreg, maar ook teen die magshebbers wat so versigtig in beheer gebly het. Mense het by tye van hierdie kritici verskil of van hul manier van kritiek, maar ek dink daar was tog ‘n gevoel van grenslose magteloosheid oor hoe hulle deur die hegemonie van die maghebbers gevilifieer, swartgesmeer, beskinder en benadeel is – soos Smith ook in sy boek dokumenteer. Dit was net dat min mense wat so gevoel het, gewaag het om hulle onbehae openlik te kenne te gee. Hierdie benadeling was in sommige gevalle so erg dat van hierdie mense uiteindelik by ander universiteite heenkome gevind het. Uitgesproke voorvegters soos Sampie Terreblanche en Willie Esterhuysen het in daardie tyd op misrabele manier in die media en in die raadsale die toon aangegee teen hul (destyds sogenaamde) “liberale” kollegas soos Du Toit en Giliomee.
Dit was die tyd van onvryheid, van vrees en van magsgelding. Dit was tye van hegemonie, onverdraagsaamheid en sensuur. En as die Broederbond nie amptelik op ‘n uitgesproke onetiese manier mag gejaag het nie, het hulle lede leiersrolle tog duidelike in die groot magstryd ‘n deurslaggewende rol gespeel.
Daar is skrale troos: Vandag kan ons die wêreld in die oë kyk en sê dat daar mense op Stellenbosch was wat dapper en onverskrokke hul stem vir geregtigheid laat hoor het. Maar dit neem niks weg van die wrang smaak wat ‘n mens kry as ‘n mens Nico Smith se boek oor die Broederbond lees nie en jouself weer indink in die slegte tye van weleer.
In die boek is daar vir my niks werklik nuuts nie. Ek het wel enkele insidente uit daardie tyd beter verstaan. Ek het byvoorbeeld nie geweet dat die baie bekende Ope Brief eintlik Smith se inisiatief was nie. Ek het ook daardie brief onderteken. Ek en Nico Smith was die enigste Stellenbosse dosente wat dit onderteken het (sien die hele dokument en die ondertekenaars by:
http://www.ngkerk.org.za/abid/dokumente/amptelikkestukke/Open%20letter%208%20June%201982.pdf). En dit was ‘n verskriklike storm wat oor ons as ondertekenaars se koppe vir weke lank losgebars het. ‘n Ander insident is sy vertelling oor Prof. Mike de Vries wat hom dringend (en bedektelik dreigende) gesoek het terwyl hy in Pretoria was (waar hy vir Beyers Naude gesien het) om te hoor waarom is hy nie by die werk nie. Ek het de Vries, deur sommige uitgebeeld as ‘n “progressiewe” denker, van naby geken want ons het in Universiteitsverband dikwels direk met mekaar te doen gekry. Hierdie insident waarvan Smith vertel het my oë verder oopgemaak vir die manier waarop die Universiteit nie net ten nouste met die politieke magshebbers verbind was nie (hoe anders met Vorster en P.W. Botha as kanseliers), maar ook met die veiligheidspolisie. (Ons het as akademici selfs ‘n “parlementêre” sportdag gehad waarop ons o.a. met parlementslede muurbal gespeel het). En ek het besef hoe De Vries deur “hoëre” magte gemanipuleer is. Na ek die boek gelees het, het ek skielik heelwat insidente uit my eie doseertyd in Stellenbosch beter verstaan.
Dit alles het my laat nadink oor die verskriklike houvas wat ‘n hegemonie op ‘n hele gemeenskap kan hê. Ordentlike, gelowige mense kan ‘n sisteem aan die gang hou waarin sommige mense niks tel nie. En hoe meer dinge verander, hoe meer bly dinge dieselfde. Daarom kyk ‘n mens dikwels nog verslae na die magspeletjies wat vandag nog steeds aan die gang is – net met ander rolspelers.
‘n Mens sou eindelose verhale daaroor kan skryf. Maar of dit die moeite werd sal wees, is ‘n ander saak. Die Broederbond interesseer my nie besonders nie, hoewel ek dankbaar is dat ek self nooit lid geword het nie. Dit is deel van my vrede dat ek altyd steeds weer my vryheid gehad het om volgens my diepste oortuigings te kan praat en skryf. My pa was ‘n Broederbonder en ‘n hele klomp van my familielede en vriende en studente is Broederbonders. Ek dink nie dit maak hulle slegte mense nie. En die bestaan van die Broederbond sê vir my minder van die mense wat daaraan behoort het as van die slegte omstandighede wat hulle gedryf het om hul toevlug tot ‘n geheime organsisasie te neem. Natuurlik kan ons nie, soos Giliomee in sy Die Afrikaners skryf, vergeet wat aanleiding gegee het tot die stigting en werk van die Broederbond. Daar was goeie redes waarom gesiene mense selfs vanuit hulle geloofsoortuigings dit nodig gevind het om op hierdie bedekte manier te moes werk. Terwyl ‘n mens dit verstaan is die tragedie soveel groter dat die funksionering van die Broederbond uiteindelik die vryheid wat hulle gesoek het omgebuig het in onvryheid vir ander groepe.
Wat my wel interesseer is die verleiding van mag. Hoe sleg kan mag nie wees nie, besef ek. Dis soos geld: wie het, wil nog meer hê. Dit is een van die redes waarom Levinas vir my so eindeloos boei. Hy was self ‘n slagoffer van die Jode-slagting deur die Nazi’s. En hy het sy denke doelbewus gevorm teen die onderliggende magsvergrype wat die Jode-Slagting en die rassisme van die Derde Ryk gedryf het. Deur die eeue heen, skryf hy, het die wêreld se groot denkers pragtige goed geskryf. (So mooi soos baie Broederbonders oor hul eie ideale en voornemens sou dink). Levinas bly worstel met die onverklaarbare feit dat Heidegger wat so diep en pragtig nagedink het oor lewenssin, terselfdertyd die vulgêre en dodelike ideologie ten grondslag van die Derde Ryk kon verduur en selfs ondersteun. Vir hom was dit daarom belangrik dat ‘n mens heel eerstens aan jou denke ‘n etiese kleur gee. Die vraag is nie hoe diep en reg dink jy nie. Baie belangriker is die vraag hoe eties is jou denke. Trap jy met jou slim brein oor ander mense, of eerbiedig jy die menslikheid van die ander een? Levinas het, wat my betref, eerder spiritueel as eties gedink. In werklikheid help hy ons om die Ander een as “geesgenoot” te herken eerder as opponent, vyand, vreemdeling, bedreiging. Wat tel is die Gees van verantwoordelikheid en besorgdheid waarmee ons die Ander benader – ongeag kleur, oriëntasie, geloof en ouderdom. Ten diepste beteken dit dat ek die “regte” van die Ander eerbiedig. En soms vra dit van my juis om die absolute minste te wees – om die appel van die Ander op my te hoor en te gehoorsaam. Uiteindelik moet ek geestelik so volwasse wees dat ek die reg van die ander op myself hoër moet ag as my eie regte.
Mense skrik terug hieroor. En hulle vra Levinas herhaaldelik daaroor uit.
Maar Levinas het verstaan – wie sy lewe soek, sal dit verloor. En wie sy lewe prysgee, vind dit – oor en oor, honderdvoudig, duisendvoudig.
Dus, wonder ek vanaand. Wie was werklik die onvry mense? Die Broederbond het baie mag gehad. Dit is sonder meer duidelik. In die proses van hul magsuitoefening het hulle baie mense hulle vryheid ontneem. Maar die werklike onvry mense was die lede van die Broederbond. Hulle was nie werklik vry nie – hulle was gebind aan geheimhouding, aan direktiewe en aan uitvoering van besluite. Dit moet verskriklik wees om jou lewe te moet slyt in ‘n groep waar jy nie volgens jou gewete kan handel nie.
Vandag, in ons ontredderde samelewing, loop ons met die swaar gewig van die verlede aan ons vasgeketting: ons dra die las van ons self-bevoorregting, van ons manipulasie en van ons verwerping van ander omdat hulle anders gelyk en gedink het as ons. Ons sien wat om ons aangaan: die magsvergrype van die nuwe heersers. Die omgekeerde rassisme van die nuwe geslag van haters. Die verwerping van die Ander op grond van hul kleur, hul verlede, hul kultuur en hul taal. Hoe meer dinge verander, hoe meer bly hulle dieselfde.
Nico Smith was my professor in Sendingwetenskap en later kollega aan die Universiteit. As ek sy boek lees, kom daar ‘n wrang smaak in my mond op as ek terugdink aan daardie verskriklike tye waardeur ons is. Ek onthou die baie dae van verbittering oor ons eie magteloosheid om die magsvergrype van ons leiers, ons professors, ons kollega’s te stuit. Ek herken die gesigte van “goeie Christenmense” van wie hy praat weer eens – hulle wat ons afgedreig het, veronreg het, beswadder het terwyl hulle heerlik by die tafel van bevoorregting aangesit het. Die beste jare van ons lewe het ons moes deurbring in ‘n land wat Paton beskryf het met die treffende boek “Cry, the beloved country.”
Ek is bly daardie dae is verby – hoe bedenklik ons huidige situasie vir baie mense ook al mag wees.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
Blog Archive
-
▼
2010
(356)
-
▼
March
(29)
- Troos in lyding
- Hy wou sy eie pilletjie drink toe hy hoor hy het d...
- Geloof as waagstuk. Om oratief te waak.
- Groei in bewussyn.
- Dan sal ons nie meer vrae vra nie. Gedagtes oor di...
- Liefde verdryf skuldgevoelens
- Alles en niks
- Die onuitspreeklike lewe by God in die toekoms
- "Soms het ek die indruk gekry dat sy op die punt w...
- Moet jy vir jou vrou blomme gee en jou stoel aanbi...
- Die deurboorde hart. Oor ‘n nuwe manier van geloof.
- Mag, die Broederbond en 'n Nuwe Boek
- Hulle lewens spreek boekdele.... Oor die opstandin...
- 'n Mens kan God se goedheid sien sonder om dit te ...
- Paulus en die mistiek.
- Die gelaat van God in die barheid van armoede.
- Wanneer 'n mens te vroom raak. Oor die besetene va...
- Die twee vreemde jongmans in Markus se Evangelie
- Wanner 'n mens vreemde keuses vir God maak.
- Paradys (2)
- Paradys....
- Boeke
- Markus en die Opstanding
- Die teenwoordigheid van die liefde in ons taal.
- Om jou innerlike demone te besweer.
- Hy het sy hele lewe lank net een keer met sy seun ...
- Heilige nar van God. Oor die “gawe van trane” as ‘...
- Kontemplasie.
- Die eerste Christelike kontemplasie. Oor die liefd...
-
▼
March
(29)
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.