Saturday, March 27, 2010
Dan sal ons nie meer vrae vra nie. Gedagtes oor die lydenstyd.
Op ons pad terug ry ons van af Swellendam in hierdie pragtige sonsondergang in.
Ons hou stil om foto’s te neem.
In ‘n opening tussen die donker, swaar wolke, breek die skemer-son in ‘n helder geel ligstroom deur. Dit is die tyd om stil te raak, om toe te eien, om dieper bewus te raak van die skoonheid van daardie ligkolom wat opwaarts trek.
‘n Mens se gedagtes word in verwondering lig.
Die toneel is vir my ‘n gawe wat ek in my intrek, veral in hierdie donker tyd van die jaar waarin ons die lydensweg volg. Ek dra nog steeds Rahner se opmerkings in my om oor die groot omslag as die dood oor ons kom. In één oomblik reis ons uiteindelik God se toekoms in. Ons word gestroop van alles waarmee ons vir dekades lank ons lewe en bestaan so belas het. Ons bewussyn word gesuiwer en ons word in hierdie heldel ligkolom van God se oorweldigende teenwoordigheid opgeneem.
Dit is die tyd dat ons by God sal wees. En God se plek is die oop plek waar ons finaal en uiteindelik en in vrede sal wees. Alles wat ons altyd ingeperk het, ons van ons vryheid beroof het, alles waaroor ons altyd so heftig en hewig baklei het, alles wat ons gedagtes so donker gevul het, sal ons agterlaat. Want ons stap weg van ons menslike ingekeerdheid, weg van die toe, bedompige ruimte van ons eie swakheid en ons eie koninkryke, ons eie hebbelikhede en baasspelerighede. En ons word opgeneem in die helder ligkolom van God se oop ruimte; ons ontvang en erf volkome vryheid, ons ervaar, mistiek, God se volkome vrede.
In hierdie oop ruimte woon God, in volheid en in klaarheid. Ons soekende harte sal hul rus vind. Ons sal in die stilte woon. Ons donker woorde, tastend na lig, stamelend, altyd soekend om te vind, om antwoorde te kry, om te begryp, om iets te vertel van ons diepste begeertes en verlange, sal uitrafel, wegsyfer, opdroog, verby raak. Ons sal nie meer wil praat nie. Daar sal nie meer vrae, nie meer raaisels wees nie.
Ons sal niks meer oorhê, nie eers ‘n klein stukkie, van die donkerte om ons nie. En in ons nie. Want dit sal die tyd wees dat God alles in almal sal wees. Dit is die plek waar ons “by die Vader sal wees wat ons sal liefhê; Ons sal na hom toe kom en by hom woon” (Joh.14:23-24). Ons kyk dan nie meer in spieëls nie. Die raaisels sal oor wees.
Of, nog mooier: “as Ek julle weer sien, sal hulle harte vol blydskap wees, en niemand sal julle blydskap van julle wegneem nie. Daardie dag sal julle nie meer vrae aan My stel nie” (Joh16:22-23).
Die foto’s is geneem. Die reis in die skemer sit ons met hierdie gedagtes voort. En dan: ‘n Driekwartier later val ons, nou in die donker, ver buite enige dorp, agter ‘n lang tou motors in. Vir meer as ‘n uur staan en wag ons. Daar is ‘n krisis. Ambulanse, polisie, brandweer-waens en insleepwaens ry heen en weer. ‘n Insleepwa kom met ‘n wrak verby gery wat ‘n mens dadelik laat besef dat die tol hoog was. Die volgende oggend se koerant vertel dat vyf mense (met twee jong seuns) in die ongeluk omgekom het.
Toe ek daardie foto geneem het, vol verwondering oor skoonheid, het vyf mense in ‘n verskriklike ongeluk gesterf. Hul lewens is in een donker oomblik uitgesnuif, soos die vlammetjie van ‘n kers.
Die dood is op ons spoor, soos ‘n skaduwee hang dit aan elke treë wat ons gee.
Hoe knaag dit nie aan ons nie – hierdie donker tye van nie-weet, van wonder, van kla, van soeke.
Die dood roep, menslik gesproke, soveel vrae op. Ons worstel om te verstaan. Ons bly wonder. Elke keer maar weer loop ons ons vas teen die eindelose sinloosheid van baie dinge wat met ons gebeur. Dit bring die raaisels. Ons soek in die spieëls dofweg vir antwoorde.
Maar ons bly gekonfronteer met die leeghede. So sinloos soos die kruis op Golgotha.
Dit sal verander. Vir hulle wat in God se verborgenheid leef, kom daar ‘n toekoms met ander ervaringe. “Daardie dag,” in God se helder-lig woning, in God se toekoms, “sal julle nie meer vrae aan My stel nie.” Stil sal ons wees, met harte wat tot rus gekom het. Met harte wat in God bly is. Dan sal ons ten volle ken. Dan sal ons alles sien, nie net die kolomme nie. Ons sal dit sien soos dit werklik is. Die dag as ons in die ewige liefde inwoon.
Paulus het dit anders gestel: "Doderyk waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?" (1 Kor.15:55).
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
Blog Archive
-
▼
2010
(356)
-
▼
March
(29)
- Troos in lyding
- Hy wou sy eie pilletjie drink toe hy hoor hy het d...
- Geloof as waagstuk. Om oratief te waak.
- Groei in bewussyn.
- Dan sal ons nie meer vrae vra nie. Gedagtes oor di...
- Liefde verdryf skuldgevoelens
- Alles en niks
- Die onuitspreeklike lewe by God in die toekoms
- "Soms het ek die indruk gekry dat sy op die punt w...
- Moet jy vir jou vrou blomme gee en jou stoel aanbi...
- Die deurboorde hart. Oor ‘n nuwe manier van geloof.
- Mag, die Broederbond en 'n Nuwe Boek
- Hulle lewens spreek boekdele.... Oor die opstandin...
- 'n Mens kan God se goedheid sien sonder om dit te ...
- Paulus en die mistiek.
- Die gelaat van God in die barheid van armoede.
- Wanneer 'n mens te vroom raak. Oor die besetene va...
- Die twee vreemde jongmans in Markus se Evangelie
- Wanner 'n mens vreemde keuses vir God maak.
- Paradys (2)
- Paradys....
- Boeke
- Markus en die Opstanding
- Die teenwoordigheid van die liefde in ons taal.
- Om jou innerlike demone te besweer.
- Hy het sy hele lewe lank net een keer met sy seun ...
- Heilige nar van God. Oor die “gawe van trane” as ‘...
- Kontemplasie.
- Die eerste Christelike kontemplasie. Oor die liefd...
-
▼
March
(29)
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.