Saturday, March 06, 2010

Die teenwoordigheid van die liefde in ons taal.

Membraan

hoe hou die naaldekoker tog sy vlug
met sulke sydun vlerke in die lug?

hoe wieg die rotse reeds dekades teer
op ‘n handbreed vlak gebalanseer?

hoe lyk die swaeltjies se kompas
waarmee die somer elke jaar verkas?

en hoe bly die aarde almaardeur
asof god hom nog aan die wêreld steur?

hoekom wil ons dan weet “waartoe... vanwaar”?
dit reën dit skyn dit waai – ons het mekaar.

Hierdie gedig van Fanie Olivier in sy nuutste digbundel, “apostroof,” is boeiend. Die hele bundel is skrynend mooi oor die verlies van liefde wat so sober, en juis daarom so roerend, daarin uitgebeeld word.

Die lees van die bundel het my dag gemaak, veral omdat dit my weer eens laat besef het hoe formidabel die liefde is.

Hierdie gedig laat my so bietjie aan die beroemde slot van Job dink waar God vir Job na al sy lyding allerhande vrae vra om die onnaspeurlikheid van wat gebeur uit te wys. Wat uiteindelik saak maak, wil die boek Job onderstreep, is nie waar die lyding vandaan kom nie of waarheen dit lei nie (dit is vrae wat sy “vriende” skandaliglik wil beantwoord en wat hulle juis so verwerplik in die boek Job maak). Die boek Job eindig met die slotsom: Die verhouding tussen God en Job is wat werklik saak maak. God is daar, op een of ander manier juis in sy onnaspeurlikheid. God praat uiteindelik met Job – sonder om hom antwoorde op al sy vrae te gee. Maar God reik uit na hom...

Elders in die digbundel gee die digter te kenne hoe hy, vir my byna Job-agtig, worstel met die verstaan van sy verlies. Op die agterblad is daar ‘n gedig (met die naam “geding”) wat gaan oor ‘n hofsaak wat die digter teen God maak. God “beweer hy is almagtig” en sou dus “haar” dood tersyde kon stel. God se “besluit” oor haar dood was “in stryd met wat mens redelikerwys sou kon verwag.” In hierdie gedig is daar die poging om die verlies en die verloop van dinge deur die bitter woorde van die digter as party in ‘n hofgeding te peil en om te keer. Die digter worstel dus hier ook met die onbegryplikheid van sy geliefde se dood en vra die dieper vrae daaroor. Maar uiteindelik laat die digter die regsaak en die skelwoorde vaar. Sy lêers, al sy “kennis, opgehoop, verbeel” strooi hy in vullisdromme uit. Hy het geskik: hy gaan hom nou met “ander woorde” besig hou. Dié wending bring closure: Die digter “hoor haar glimlag; my kop is oop.” Wat tel is nie die kennis, die saak nie, maar die digkuns waaraan die digter sy hart kan vasknoop.

Maar in “membraan” van Olivier word deur die vrae oor die onnaspeurlikheid van dinge onderstreep dat dit nie sin het om te probeer deurvors en verstaan nie. Wat tel is dat twee mense “mekaar” in liefde “het.” Die digter, kom ons agter in die groter konteks van die bundel, en sy geliefde “het mekaar” wanneer hy oor haar dig, vir haar in herinnering in sy woorde hou. Die ander een is in liefde teenwoordig in sy praat oor haar.


In die gedig is daar die duidelike onbeantwoordbare vier vrae, maar uiteindelik dit wat werklik saak maak: dinge bestaan (dit reën, dit skyn, dit waai) en daar is die verhouding met die ander. Dit is die membraan, die venster wat ons op ons lewe moet hê. Wat ons nou aan kan vashou, maak die verskil.

Ek verwonder my oor daardie eerste twee reëls en die wondermooie taal:

hoe hou die naaldekoker tog sy vlug
met sulke sydun vlerke in die lug?

Beautiful.



BESTEL DIE DIGBUNDEL DEUR HIER TE KLIEK (Daar is tans 'n spesiale aanbieding):



"BESTEL APOSTROOF>


No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive