Thursday, March 04, 2010

Hy het sy hele lewe lank net een keer met sy seun gepraat....

My vriend is lekker geselskap, ‘n oop en intelligente mens, maar hy het ook soms ‘n sagte kant aan hom wat my dikwels verbaas. Dit is, soos ‘n gemeenskaplike vriendin hom beskryf het, asof hy vokome in harmonie met homself en met al die kante van sy eie persoonlikheid is. Daar is egter ook ‘n ander kant van hom wat my gedurig opval. Hy het altyd sonder uitsondering ‘n byna onverbiddellike eerlikheid. Hy sal soms, as die tyd daarvoor reg is en hy die behoefte het, met ‘n ernstige en selfs driftige oopheid oor homself en sy ervaringe praat.

'n Paar jaar terug sit ons die aand en gesels, sommer heel ontspanne, toe hy onverwags sy hart vir my oopmaak.

“Jy weet,” sê hy, “voordat ek jou ontmoet het en ons vriende geword het en nog voor ek getroud is, was my lewe na buite netjies verpak. Maar binne-in my was ek ‘n verskeurde mens. Ek het ‘n pa gehad wat oënskynlik goed vir my en my suster gesorg het. Ons het nooit gebrek gely nie. Ons het ook nooit swaar gekry nie. Hy wou altyd vir ons die beste hê. Hy was nie ‘n drinker nie en het ook nie met geld gemors nie. Hy het gehou van boeke lees. Hy was lief vir die natuur. Hy het graag gestap op allerhande wandelpaaie. Hy het ons land goed geken.

“En tog was my pa vir my ‘n volslae vreemdeling. Al die jare het hy wel by tye met my die nodige praat-werk gepraat, of liewers met my as deel van die familie. Soms het hy ook laat blyk dat hy blykbaar vir my omgee. Maar ek het nooit ooit aan my pa as ‘n vriend gedink nie en ek het dikwels gevoel dat hy omgee omdat hy moet. Hy het nooit by my kom sit en net met my oor dinge en oor die lewe gesels nie. Ek kan nie ‘n enkele gesprek onthou wat hy met my persoonlik gehad het oor een of ander belangrike saak nie. Hy het nooit net vir my as pa van ‘n seun saamgeneem na enige geleentheid nie, al is ons as familie dikwels saam na plekke of met vakansie. Ek het nooit werklik gevoel dat hy vir my lief is nie. Hy was my biologiese pa en hy was ook die een wat ons familie aan die gang gehou het, maar geestelik het dit dikwels in my lewe gevoel dat hy bloot net vir my ‘n plek voorsien het om in te bly.

“Kort voor hy dood is, het hy vir die eerste en enigste keer met my as sy seun gepraat. Hy was toe al baie siek en duidelik bewus daarvan dat hy nie baie tyd meer oor het nie. Op ‘n dag, uit die bloute, het ons gesprek plaasgevind. Maar ook nie alleen nie. Die ander kinders was by. Maar hy het vir my tóé gesê dat hy altyd bly was oor die goeie dinge wat ek gedoen het en dat hy trots op my was. Ek was totaal oorbluf toe ek die woorde uit sy mond hoor. Ek het die man wat só met my gepraat het, eintlik nie herken nie.

My vriend stotter ‘n bietjie. Ek kan sien hy trek die woorde uit homself uit: “Daar was tye dat ek my pa nie werklik kon verdra nie. Nie dat ek aggressief of opstandig teenoor hom was nie. Daar was net ‘n oneindige afstand tussen ons. Ek het hom innerlik en bedektelik verwerp omdat ek deur hom verworpe gevoel het – al was daar niks hardhandigs of afknouerig aan wat hy teenoor my gedoen het nie. Al het hy vir my soveel materiële sekuriteit gegee, het hy vir my innerlike geknou. Ek was by tye of dalk selfs meestal vir hom bang.”

My vriend bly ‘n ruk stil. Hy speel met die braaivleis-tang. Dit is asof hy nie net praat oor sy pa nie, maar ook met homself daaroor gesels. Ek kan sien dinge roer in hom. Hy grawe eintlik, al is sy woorde bedaard, diep in homself, in sy binneste in.

“Ek is vir ‘n lang tyd deur moeilike tye,” vertel my vriend my verder terwyl ek in stilte sit en luister. “Ek het in daardie moeilike jare gesukke met verhoudinge. Ek het ander mense behandel soos my pa my behandel het – sonder dat ek dit besef het. Ek het ander verwerp voordat hulle my kon verwerp. Ek was bang hulle doen aan my wat ek gevoel het my pa aan my gedoen het. Ek kon moeilik intieme verhoudings met ander mense opbou. My pa se geslotenheid het my totale introverte lewensstyl geword. Ek was diep in my ‘n stukkende mens – onder al my bravado. En my lewe was in werklikheid ‘n donker tyd vol ongelukkigheid.

“En toe ontmoet ek vir my vrou. Sy het eintlik aan ‘n pa alles gehad wat ek nooit gehad het nie. Haar pa was vir hulle twee kinders ‘n warm, liefdevolle pa. Ek onthou my verbasing hoe hy, toe ek die eerste keer saam met hulle met vakansie was, dikwels sommer net by haar kom sit en eindeloos gesels het. Oor alles en nog wat. Van die geskiedenis van die groot griep tot die familieplaas in die Oos-Kaap. Dit was nou nie drupperige gesprekke nie en hy het nie soetsapperig vertel hoe lief hy vir sy kinders is nie. Maar mens kon sien dit was vir hom lekker om by haar en haar broer te wees en dat hy graag by hulle wil wees. En ek kon aan my vrou sien dat haar pa ‘n nodige, belangrike plek in haar lewe ingeneem het. Sy was duidelik lief vir hom.

“My skoonpa het sy liefde vir sy dogter met my ook gedeel. Ek het nooit ‘n skewe woord van hom gehoor nie, hoewel hy ook maar by tye sy afdae gehad het. En na vyf jaar het ek deur hulle familie-verhoudinge begin besef hoedat daar deur daardie jare ook by my meer heling gekom het – bloot omdat ek deel was van ‘n gelukkige familie. Hy het my pa ook geword en deur haar kon ek iets ervaar van wat dit beteken om ‘n pa te hê wat spontaan en liefderik kon kuier. Natuurlik kon ek nooit vir hom ‘n seun wees soos sy eie dogter en sy eie seun nie. Ek kon altyd sien daar is iets tussen hulle wat nooit tussen my en hom kon wees nie. Maar dit het niks met vooroordele te doen gehad nie. Dit was ‘n kwessie van al die jare wat hulle bymekaar was voordat ek op die toneel verskyn het. Dit was ook ‘n kwessie van die biologiese band tussen hulle, dieselfde familie-bloed wat deur hulle are gevloei het.”

Hy bly ‘n rukkie stil. Ek kan sien sy lyftaal is anders wanneer hy oor sy nuwe familie begin praat. Dan, met ‘n frons, vertel hy weer:

“Ek het altyd gewonder waarom my pa nie so kon wees nie.

“En ek het my altyd voorgeneem ek sal vir my kinders wees wat my pa nie vir my was nie.

“Ek het dit nie reggekry nie. Ek was ook maar baie dae humeurig en moeilik. Maar vandag is daar tussen my en ons twee kinders ‘n spesiale band. Hulle leef hul eie lewe. Maar hulle wil graag by ons wees. En dit is lekker om hulle by my te hê.

“Baie dae besef ek nou dat ek dalk nie so alleen is in my gemengde gevoelens oor my pa nie. As ek om my kyk, sien ek dieselfde patroon van verwydering in baie ander families tussen pa’s en hul kinders. Ek besef dan: My skoonpa is eintlik die uitsondering eerder as die reël. Dit is asof ons samelewing verwag van ‘n pa om afstandelik te wees, om die patriarg te wees wat dink in stand hou sonder om te veel te wys. Dit is asof pa’s bang is dat hulle nie gerespekteer sal word as hulle nie streng en afstandelik is nie. Want ek weet ook van hoeveel van my maats meer respek en selfs angs vir hul pa’s het as liefde. En ek hoor hoe baie van hulle nie juis lus is om by hulle ouers te wees nie. Ek moet, besef ek, eintlik dankbaar wees dat my skoonpa in my lewe heling gebring het wat ek nie van my eie pa gekry het nie.”

Ek steun so af en toe ‘n “mmm” of ‘n “ja” of ‘n “sowaar” uit, maar sê nie veel meer nie. Ons draai so deur die bedaarde gesprek die vleis om en kry nog drinkgoed. Ek verwonder my aan alles wat hy so spontaan vir my vertel. Ek praat min, want ek sien sy hart is vol en dit is sy tyd om sy hart leeg te praat. Ek laat hom maar die woord voer....

Onversteurd tel hy skielik die draad weer op.

“En tog. Dit is asof ek deesdae al hoe meer anders begin dink oor my pa. Vandag kan ek dikwels met my pa praat, al is hy nou al ses jaar dood. Ek sien en ervaar hom elke dag in my lewe. En as ek met hom praat, sê ek nou vir hom dat ek besef dat woorde vir hom moeilik was. Hy was eintlik dalk niks anders in sy eie oë as wat hy gedink het pa’s moet wees nie. Dit was soos pa’s in sy tyd moes gewees het. Ek sê ook vir hom: Hy wat so maklik en dikwels so inspirerend met ander kon praat, het seker sy redes gehad waarom hy nie met my wou praat nie.

“En, dink ek dan weer, hy het eintlik vir my baie gegee – aan versorging, beskerming, opvoeding en materiële dinge in tye toe dinge nie maklik was nie.

“Of,” peins hy, “soms sê ek vir hom dat dit dalk ek is wat so ‘n sterk behoefte aan woorde van liefde, bemoediging en vriendskap gehad het. Meer as wat ander kinders dit gehad het...”

“Ek sê vir ook dikwels vir my pa dankie dat hy darem daardie een keer my in my oë gekyk het, vir die eerste keer as ‘n pa wat met sy seun oor ‘n baie belangrike saak wou praat. Liewer laat en min, as nooit. Ek weet, juis omdat hy dit nooit gedoen het nie, dat dit eintlik van hom uitsonderlike moed gekos het. En ek weet ook hy het daarmee van my afskeid geneem. Hy wou een keer in sy lewe vir my sê wat hy ander keer dalk heel indirek vir my te kenne gegee het, maar wat ek nie raakgehoor het of wou raakhoor nie.

Hy bly weer ‘n oomblik stil. Hy kyk na my, na sy vrou wat binne in die sitkamer sit en gesels en dan weer na my: “Maar wat vir my tog die laaste tyd meer besig hou is dat my pa tog op ‘n kritieke oomblik met my wou praat. Dit is, besef ek nou, as ek daaraan terugdink, tog seker ‘n teken dat hy die vervreemding tussen ons aangevoel het. Miskien het hy van sy kant af ook ‘n behoefte gevoel aan ‘n seun met wie hy kon vriende wees... En dalk het hy geweet dat dit nooit te laat kan wees om te probeer nie.

“Soms dink ek aan daardie gesprek toe my pa my eintlik nader aan hom wou trek en om vergifnis wou gevra het, aan die laaste tyd in Jesus se lewe. Die woorde van vergifnis aan die moordenaar het vir my nuwe betekenis: “Vandag sal jy saam met my in die paradys wees...” ‘n Man wat ‘n lewe vol donkerte gehad het, ontvang vergifnis en gaan die paradys in. In ‘n sekere sin, hoe onwerklik ook al, en hoe anders, het my pa vir my deur daardie kort gesprek waarin hy vir die eerste keer in sy lewe sy hart vir my oopgemaak het, uit my donkerte van vervreemding teenoor hom verlos – al het dit jare geneem om tot my deur te dring en al lyk dit asof dit so onnodig is dat goue jare van bymekaar wees so gelaai was met vervreemding.

“Dit het my lank gevat om te besef wat met ons gebeur het. Ek het oor die laaste ses jaar al hoe meer gevoel hoe ek verander het – maar dat dit ‘n lang proses van transformasie was wat ek moes deurloop het.

“En die tye dat ek met my pa praat en vir hom sê dat ek verstaan nou beter en dat ek ook al hoe meer begryp wat dit vir hom moes gekos het om eintlik teenoor my te sê dat hy te lank gewag het om na my uit te reik, dan word ek innerlik ‘n sagter mens. Ek voel dat iets in my verander. Dat ek anders teenoor hom kan wees as vroeër. Ek dink soms dat ek hom eintlik mis. Ek mis die kans om na hom te gaan en met hom te praat soos ‘n seun wat met sy pa wil praat. En ek wil vir hom sê dat ek jammer is dat ek nooit vir hom opgesoek het en vir hom gesê het om met my te praat en vir my te vertel nie...”

“Jy weet,” huiwer hy, “soms wonder ek nou of ek ook nie maar vir my pa ‘n beter seun kon gewees het nie....”

So sit ons twee toe en praat oor pa’s. Ek en my vriend. Ek sien hy is innerlik ontroerd en ontstemd, al probeer hy ongeërgd daaroor praat. Maar hy het behoefte om daaroor te praat. En as vriend skep ek vir hom die ruimte. Dit is nou die tyd om deur praat nog heler te word. Hier by my vind hy ‘n oor wat luister. Ek word, dink ek en vind dit so ironies, vir hom dalk onbewus ‘n vader-figuur, ‘n veilige ruimte waar hy sy angste uit die verlede kan konfronteer, sy verlies kan betreur, sy onsekerheid kan uitpraat.

Maar ek luister nie omdat ek ‘n pastorale rol teenoor hom wil speel nie. Ek luister ook nie na hom omdat hy vertroue in my stel nie. Ek hoor sy verhaal omdat ek geboeid voor my die groot proses van volwasse-wording kan meemaak. Ek sien in sy verhaal so baie kante raak: Soms kan ons selfs in die mees intieme verhoudinge volslae vreemdeling vir mekaar wees. Die tragedie van intieme verhoudinge wat jare kan mors. Maar ook sien ek in sy sagter word teenoor sy pa dat ons nooit die slagoffers van ons verlede is nie. En ek hoor hom vra of hy nie ook maar harder kon probeer nie. Ons kan nie net vingers na ander wys nie. Meer nog, ek hoor die ou woorde van wysheid: Dit is nooit te laat om heling te soek nie. En ek besef: Soms kom die liefde tot ons langs ompaaie.

Later die aand, as hulle huis toe ry, roep my vriend na sy seun: “Daves,” noem hy hom op sy troetelnaam, “kom sit jy voor by pa en dan kan die twee vroumense agter sit. Ek moet nog met jou praat oor ons projek.”

Daves se gesig helder op. “Jis,” maak hy ‘n vuis en ruk sy elmboog af in ‘n oorwinningsteken terwyl hy vermakerig na sy ma en sy sus kyk. “Maar pa, dan ry ons sommer die lang pad by Blouberg om, want ek het baie om vir pa te vra....”

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive