In Markus is daar die vreemde verhaal van ‘n jongman wat met die vroue se aankoms by Jesus se graf vir die vroue vertel wat met Jesus gebeur het. Wanneer die vroue by die graf aankom en in die graf ingaan, sien hulle tot hul skok iemand in die graf.
Hierdie jongman se identiteit is onbekend. Markus vertel vir ons nie wie hy is nie. Hy verskyn sommer so onverwags en uit die bloute, dink baie eksegete, op die toneel.
Vier dinge (!) word van hom in Markus 16:5 vertel.
1. Hy is ‘n jongman.
2. Hy het ‘n lang kleed om.
3. Die kleed was wit.
4. Hy sit aan die regterkant van die graf.
Elkeen van hierdie motiewe het besondere betekenis en verdien spesiale aandag. Maar eers net die eerste twee:
Hoewel eksegete spekuleer oor die identiteit van hierdie jongman, aanvaar die meeste Bybeluitleggers dat ons nie regtig weet presies wie hy is nie. Hy bly dus die “anonieme” dissipel, ‘n naamlose, ongeïdentifiseerde volgeling van die Here.
Maar dikwels word daarop gewys dat Markus net twee keer van ‘n “jongman” praat. Dit kan nie toevallig wees nie, word gesê. Daarom word die figuur in die graf verbind met die verhaal van die ander jongman in Markus in die raaiselagtige verhaal van Markus 14:50-51. Toe Jesus naamlik gevange geneem is, was die jongman ook by Jesus en sy dissipels. En hy is naamlik daar ook ‘n anonieme figuur wie se identiteit ons nooit leer ken nie. Vreemd genoeg duik hy ook in die tuin heel onverwags en uit die bloute op. Een oomblik lees ons nog van Jesus en die twaalf dissipels. Die volgende oomblik hoor ons dat daar ook nog ‘n ander volgeling van Jesus in die tuin was.
Dan word daarop gewys dat die jongman daar in die tuin nakend was toe hy van die toneel verdwyn, maar hier in die opstandingsverhaal is hy gekleed. Dit is ‘n ander rede om die twee verwysings te sien as ‘n beskrywing van dieselfde jongman. Hulle wys op ‘n logiese kontras – die kontras tussen naak en gekleed.
As ons die twee jongmans as een en dieselfde persoon beskou is die vraag dan: Waarom sou Markus dan só ‘n skynbaar “onsinnige”, verborge opmerking oor ‘n nakende, wegvlugtende jongman verbind met ‘n jongman wat met klere in die graf sit?
Sommige eksegete dink dit is simbolies vir die doop: ‘n mens word verbind met die dood van Jesus wanneer ‘n mens in die water gedompel word en dan word ‘n mens met die nuwe lewe bekleed in die opstanding van Jesus. Hulle wys daarop dat die linnekleed wat die jongman dra, met dieselfde Griekse woord beskryf word as Jesus se doodskleed (Mk.15:46). Die probleem met hierdie verklaring is dat die kerk nooit mense hul klere laat uit- en aantrek het toe hulle gedoop is nie. Die beeld “pas” dus nie regtig op die doop nie.
Maar ek dink hierdie uitleggers is ten minste op die regte spoor: die jongman van die opstanding moet ‘n mens vergelyk met die jongman wat in die tuin van Getsemane getrou bly aan Jesus nadat die ander dissipels al weggevlug het. En, tweedens, die feit dat hy nakend wegvlug en dat hy gekleed in die graf sit, het besondere simboliese waarde. Die vraag is net: watter simboliese waarde het dit dan as dit nie op die doop wys nie?
Om die simboliek van hierdie jongman te verstaan, moet ‘n mens die episode in die tuin van Getsemane soos Markus 14:50-51 dit vertel, verstaan. Dit is ‘n verhaal wat opbou na ‘n klimaks: In die voorafgaande gedeelte kon die dissipels drie keer (!) nie saam met Jesus waak en bid nie. Toe daag Judas daar op en verraai hom. En daarna kap ‘n dissipel se oor af. Daarna volg die opmerking oor die dissipels se vlug in vers 50. “Toe het almal Hom verlaat en gevlug.” Dit is dan die oomblik wat hulle Jesus in die steek laat. In skrille kontras met hulle optrede staan die beskrywing van die laaste poging van ‘n bittereinder-dissipel. “En ’n sekere jongman met ’n linnedoek om sy naakte lyf het Hom gevolg;” Hier word ‘n sterk woord gebruik: Hy het “saam” vir Jesus gevolg. Om saam met Jesus te gaan en Hom te volg is simbolies vir dissipelskap.
Tot die einde wil hierdie jongman getrou bly. Maar ook in sy geval is daar ‘n keerpunt: “en hulle het hom gegryp; maar hy het die linnedoek laat staan en weggevlug.” Hy doen uiteindelik ook wat die ander dissipels gedoen het.
Markus maak seker dat sy lesers raaksien dat die jongman naak was toe hy weggevlug het. Twee keer verwys hy na sy naaktheid.
Sommige uitleggers skryf dat die jongman se naaktheid ‘n simbool is vir sy skande: deur van Jesus weg te vlug, dompel hy homself in skande. Die feit dat hy dus nakend wegvlug is vir hulle die simbool van die dissipels se skandelike verraad en onthul hoe oppervlakkig is die dissipels wanneer hulle belowe om getrou aan Jesus te bly (Markus 10:39). Of dit waar is, moet ons maar sien.
‘n Mens moet die “naaktheid” van hierdie jongman nie isoleer van die feit dat hy “gekleed” in die graf is nie. Markus het, soos ons gesien het, naaktheid en gekleed-wees in die verhaal van die besetene van Gedara ook beklemtoon. In Markus se opsienbarende episode is die besetene ‘n man wat totaal onder die beheer van die demoniese is, maar wat dan getransformeer word tot ‘n dissipel wat met alle geweld by Jesus wil bly. En in daardie verhaal word sy transformasie uitgebeeld in die eenvoudige beskrywing dat hy “by Jesus sit, gekleed en by sy volle verstand.” Hy is ‘n dissipel, sy integriteit is herstel en hy verstaan wie Jesus is en daarin kontrasteer hy met die waansinnige besetene voor sy genesing (sien Markus 5:15).
Ons kan dus aanneem dat Markus die jongman wat nakend in die tuin weggevlug het, beskryf as dieselfde jongman wat op die opstandingsoggend die nuus van die opstanding aan die vroue bekend gemaak het. Wat dit alles beteken, word helderder as ons dit in die lig van spiritualiteit en die res van Markus 16:1-8 verstaan. Later meer hieroor.
Maar op hierdie punt net hierdie gedagte: Ons lees die Evangelies baie en ons dink dikwels na oor die groot dissipels van Jesus. Alleen maar op hierdie punt leer ‘n mens iets nuuts: tussen die grotes staan daar dikwels die enkelinge, die onbekendes, die anonieme mense. Ons reken hulle nie eintlik nie. Ons lees sommer bo-oor hulle. Maar tog: Markus praat oor hulle in plekke as mense wat uitstaan bo baie ander. Die besetene van Gerasa was 'n heiden wat verstaan het wat Jesus se eie mense nie begryp het nie. En die jongman het getrou probeer bly toe die intieme binnekring van Jesus hulle vinnig uit die voete gemaak het.
Die lewens van die enkelinge, die anonieme mense spreek boekdele! Hulle hoef nie groot naam te gemaak het om vir ons draers van die goddelike woord te geword het nie....
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
Blog Archive
-
▼
2010
(356)
-
▼
March
(29)
- Troos in lyding
- Hy wou sy eie pilletjie drink toe hy hoor hy het d...
- Geloof as waagstuk. Om oratief te waak.
- Groei in bewussyn.
- Dan sal ons nie meer vrae vra nie. Gedagtes oor di...
- Liefde verdryf skuldgevoelens
- Alles en niks
- Die onuitspreeklike lewe by God in die toekoms
- "Soms het ek die indruk gekry dat sy op die punt w...
- Moet jy vir jou vrou blomme gee en jou stoel aanbi...
- Die deurboorde hart. Oor ‘n nuwe manier van geloof.
- Mag, die Broederbond en 'n Nuwe Boek
- Hulle lewens spreek boekdele.... Oor die opstandin...
- 'n Mens kan God se goedheid sien sonder om dit te ...
- Paulus en die mistiek.
- Die gelaat van God in die barheid van armoede.
- Wanneer 'n mens te vroom raak. Oor die besetene va...
- Die twee vreemde jongmans in Markus se Evangelie
- Wanner 'n mens vreemde keuses vir God maak.
- Paradys (2)
- Paradys....
- Boeke
- Markus en die Opstanding
- Die teenwoordigheid van die liefde in ons taal.
- Om jou innerlike demone te besweer.
- Hy het sy hele lewe lank net een keer met sy seun ...
- Heilige nar van God. Oor die “gawe van trane” as ‘...
- Kontemplasie.
- Die eerste Christelike kontemplasie. Oor die liefd...
-
▼
March
(29)
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.